FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly
Die lug, ruimte en tekstuur van die Vrystaatse platteland was die inspirasie agter die moderne, sielvolle ontwerp van die binnehuisontwerper Krysia Back se idilliese nuwe toevlugsoord.
Krysia Back was dadelik verlief op die lug, daai heel eerste keer toe sy in die Oos-Vrystaat gekuier het. Nadat sy vele salige naweke in vriende se klipplaashuis naby Clocolan gaan uitspan het, het die Johannesburgse binneversierder haar eie stukkie plattelandse weelde in dié ruim wêreld begin soek. Nadat sy uiteindelik die majestueuse amfiteater op ’n plaas van 400 akker tussen Rosendal en Ficksburg gekies het, was dit die Johannesburgse argitek Johan Bergenthuin se taak om vir haar die ideale kontemporêre wegkruipplek te skep.
Sy is passievol oor kuns en klassieke Italiaanse ontwerp, en die huis moes ’n agtergrond word vir haar kunsversameling en ontwerptalen-te. Haar opdrag was om ’n moderne huis te ontwerp met klassieke Vrystaatse sandsteen. Sy is immers “tekstuurmal” en sy wou die warmte en karakter hê wat dié klip kan verleen. Sy hou ook baie van die buitegangetjie wat Johan met wattelstokke bedek het – nog ’n gawe kopknik vir die siel van die Vrystaat. Johan het besluit om terug te gaan na die basiese dinge deur met die Vrystaatse volksboukuns te werk – só sou sy ontwerp “tuis” wees in die omgewing.
Krysia is ’n trotse Suid-Afrikaner wat in Pole gebore is en in Engeland grootgeword het. Sy het ’n Europese fyngevoeligheid wat Johan oortuig het, hy kan subtiel teen die tradisionele vorms rebelleer.
Hy is veral geïnspireer deur die dramatiese uitsig op die berge voor en agter die terrein. Dus, pleks daarvan om ’n huis te bou met ’n konvensionele dak wat na die buitemure afloop, het hy die gedagte van ’n staandak net mooi omgekeer. Dit wit dak van Krysia se huis loop na binne af, na die sentrale binnehof, en sodoende kan die buitemure met massiewe glasdeure wyd oopgemaak word.
Omdat hy besef het die weer in dié deel van die wêreld is nie altyd perfek nie en die deure gaan soms vir lang tye toe bly, het hy kleiner vensters ingesit vir beter temperatuurbeheer. Ook die wit dak is in die somer ’n goeie temperatuurreguleerder omdat dit die son se hitte weg van die huis af weerkaats.
Binne leef die huis rondom ’n oopplan-sitkamer-eetkamer-en-kombuis. Dis eenvoudig dog gesofistikeerd, modern dog warm. ’n Dubbelvolume-deur, byna soos dié van ’n skuur, nooi gaste in die huis, terwyl ’n donker swembad met ’n kliprand die ontwerp aan die ander kant anker. Op ’n mooi dag kan al die deure oopgemaak word sodat die huis met die omgewing gedeel word.
Dit is Krysia se kuns wat die mengsel van warmte en sofistikasie in haar huis afrond, met drie dramatiese beelde buite wat ’n fokuspunt verskaf. By die ingang staan ’n bronsbeeld van Guy du Toit: ’n stoel wat op ’n ronde bal balanseer. Sy haas, vol in vlug, geniet die kalklig buite by die swembad. Willie Bester se bronswerk van ’n vrou met ’n koffer is die mees optimistiese beeldhouwerk wat hy nóg gemaak het. Dis gepas dat dit op so ’n gelukkige plek ’n tuiste gevind het.
Binne het Krysia ou en nuwe meubels gekombineer vir ’n retro- moderne gevoel. Haar kenmerkende modern-klassieke styl skep sy met Italiaanse stukke van Twiice International, terwyl ontwerpers- materiaal ’n paar Art Deco-stoele nuwe lewe gee.
Die Pretoriase tuinontwerper Beukes Goosen van Grun-Art Designs, wat die huis in die wye, oop Vrystaatse landskap moes anker, het massas grasse aangeplant, maar ook bome, wat eers oor ’n paar jaar sal uitskiet. Omdat daar ’n reuse-rotswand agter die huis is, het Beukes horisontale rye bome aan weerskante van die huis geplant om ’n gemaklike skaal te skep. Toe hy ou sandsteenpilare op die plaas ontdek, het hy geweet dié beeldhou-elemente sou die perfekte raamwerk vorm vir ’n ronde buite-vuurherd – ’n plek vir meditasie saans wat ook die betowering van dié plattelandse rusplek vasvang.
Krysia deel haar huis met ’n klomp verskillende wilde diere en dit gee haar ure se plesier. Bo die huis maak arende nes, terwyl reiers en eende naby die dam broei.
Op windstil aande, wanneer sy buite by die vuurtjie sit en die naglug inneem onder die sterkombers wat so naby lyk dat ’n mens daaraan wil raak – terwyl sy na die roep van die jakkalse in die veld rondom haar luister – word haar ontwerpershuis in ’n eenvoudige blyplek omgetower.
• Louis Louw Johan Bergenthuin-argitekte 011 781 3663, reception@lljb.co.za, www.lljb.co.za
• Krysia Back Interior Design 011 646 4338, krysia@mweb.co.za
• Grun-Art Designs 082 774 9366, designs@grunart.co.za

