FOTOS: David Ross | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly
Almal van ons wens een of ander tyd elke dag was ’n vakansiedag. Die argitek thomas gouws het ’n huis ontwerp waar ’n mens voel asof jy in ’n kontemporêre vyfsterlodge woon.
Dis nie almal beskore om hulle droomhuis te bou nie. Die meeste van ons koop ’n klaargeboude huis, ’n plek waar ander mense gewoon het. Jy maak ’n paar strukturele veranderinge en pak dan die opwindende taak aan om jou gekose leefstyl te vervolmaak met binnenshuise afwerkings soos meubels en kunswerke. Maar om op ’n stuk grond te staan, die landskap en uitsig te takseer en dan in jou geestesoog ’n huis te sien én dit te bou – daar’s nou vir jou ware weelde. Wanneer daardie stuk grond deel is van ’n visionêre projek om ’n stuk van Gauteng in Hoëveld-bosveld te verander, wel, veel beter kry ’n mens kwalik.
Die Pretoriase argitek Thomas Gouws sê elke gebou wat hy ontwerp, is omtrent volkome geïnspireer deur die konteks daarvan en, in dié geval, die uitsig. Niks gebeur voordat hy op die huis se grond staan en elke aspek van die ligging absorbeer nie.
Dis wat gebeur het by Serengeti, die gholf-en-natuurlandgoed 12 km noordoos van die O.R. Tambo- internasionale lughawe waar Thomas een van vyf voorste argitekte was wat gevra is om ’n skouhuis te ontwerp. Dit moes aan die publiek gewys word toe die landgoed in die mark gekom het.
Serengeti bied ’n begeerlike leefstyl: Op jou voorstoep is 280 ha inheemse grasse, gerehabiliteerde vleiland en ’n verskeidenheid bok- en voëlsoorte. Die landgoed het ook ’n perd-rysentrum en 17 km se ruiterpaadjies deur die bewaringsgebied. Dit alles, plus die feit dat die ontwikkeling so naby aan die lughawe is, is wat Serengeti waarskynlik gewild sal maak onder pendelaars wat graag volkome uit die stad wil ontsnap wanneer hulle huiswaarts keer. Dis g’n nagemaakte Toskaanse monstruositeit nie, maar ’n outentieke erkenning aan hoe Gauteng gelyk het voor die koms van die snelweë.
Thomas se opdrag was om ’n huis te skep met die atmosfeer van ’n kontemporêre boslodge. Hy het gefokus op die gebruik van glas en klip om die huis ’n aardse gevoel te gee, maar dit terselfdertyd oop te maak vir die lieflike bosveld-omgewing. Die uiteindelike volume, die velle glas en die dak wat lyk asof dit in die lug sweef, sal sekerlik ’n sebra in sy spore laat vries!
Die terrein vir die huis sprei soos ’n waaier oop na die westelike horison; daarom is dit die presiese patroon wat Thomas gebruik het om die tweeverdiepinghuis te ontwerp. Vanaf die punt waar jy die huis binnekom, maak die mure oop op groot vergesigte. Die langwerpige oefenswembad is strategies geplaas as ’n fokuspunt, wat die aandag vestig op die landskap.
Vanaf die ingangsportaal verdeel die huis in twee: Die linkervleuel van die “waaier” huis-ves die leef-, onthaal- en kosmaakgedeelte, terwyl die regterkant na die slaapkamers loop. Dis ’n netjiese uiteensetting wat aan die huis logika en eenvoud verleen.
Die bosveldtema
In pas met die bosveldtema is die huis gebou met materiale in ’n neutrale kleur, waaronder klip, beton, staal en hout. Al die verfwerk is in gedempte kleure wat uit die natuurlike omgewing verkry is. Madikwe-leiklip is gebruik vir die binne- en buitenshuise fokusmure, terwyl ’n Africote-sementwas teen die slaapkamermure warm en doeltreffend is.
Regdeur die huis het Thomas groot stukke raamlose glas gebruik om die gevoel van ruimte te versterk, maar ook om ’n ononderbroke uitsig op die buitewêreld te bied. Selfs die swembad se “heining” is van glas.
Twee hoofslaapkamers (die een op die boonste verdieping is ’n spieëlbeeld van die een op die grondvloer) deel die leefgedeelte se dramatiese uitsig na die weste toe. Oorgroot sonskerm-hortjies wat uitskuif, sorg vir privaatheid en koelte wanneer dit nodig is. Verdere privaatheid word verskaf deur outomatiese blindings, wat in die plafon versteek is. Só kry inwoners die beste van twee wêrelde: ’n oop vertrek met ’n onbelemmerde uitsig wat met die druk van ’n knoppie in ’n afgeslote toevlugsoord omskep kan word.
Al dié aardse skakerings en wye oop spasies sou maklik eentonig kon word as Thomas nie gekies het om ’n prettige element in te bring met ’n helderrooi kombuis wat lyk asof dit in die middel van die leef- en onthaalgedeelte sweef nie. Die kombuis, wat ontwerp is deur Thomas se vrou, Sureen (sy is aan die stuur van die binnenshuise deel van die onderne-ming), is deur Lifestyle Projects gebou, terwyl die rooi epoksivloer deur Industrial Flooring Systems voltooi is.
Spatsels rooi vrolik ook die badkamers op, waar rooigeteëlde storte met rooi glasmure deur Whipco sorg vir sensuele weelde. Al twee storte in die hoofslaapka-mers loop uit na buite – soos by enige top-bosveldlodge.
Sureen het Thomas se glastema verder gevoer in die badkamers, waar 15 mm-glasblaaie eenvoudige dog gesofistikeerde kleedtafels geword het. Op die boonste verdieping is die slaap- en badkamers verbind aan ’n studeerkamer, oor ’n brug, deur ’n oerwoud van hangende gloeilampe.
Sureen was ook verantwoordelik vir die meubilering van die Serengeti-skouhuis. Sy het eenvoudige, neutrale skakerings soos hout en wit gebruik. In kombinasie met rou kiaatmeubels en klassiek modernistiese stoele skep dit ’n kontemporêre retro-lodge-gevoel in die interieur.
Moderne werke deur die Pretoriase kunstenaar Antoinette Uys sluit in ’n suikerverfskildery in vier pa-nele waarop honderde piepklein miertjies met die hand geskilder is. Oral in die huis hang van haar swart-en-wit skilderye, wat bydra tot die moderne bosveld-atmosfeer.
Van buite af lyk dit saans of die huis letterlik na die sterre reik: Die dak word met die gebruik van glasvensters onder die oorhang bo die mure uitgelig. Dis ’n droomhuis vir enigiemand wat op soek is na ’n gesofis-tikeerde Afrika-manier van leef.
• Thomas Gouws Architects & Interiors 012 460 9867, www.tgarchitects.co.za
• Serengeti Golf and Wildlife Estate 0861 396 396, www.serengeti.co.za

