Bokkie, ek wil jou hê

FOTO’S: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Laurian Brown


 

Die vlaktes en berge van die Groot-Karoo vorm die hart en siel van Suid-Afrika se landskap en geskiedenis. By die Samara- private wildreservaat word die wild ná eeue van jag en boerdery teruggebring na een van die land se mees skouspelagtige plekke.

Ry ‘n slag van Graaff-Reinet af Somerset-Oos toe en jy volg in die voet- en wawielspore van vele geslagte reisigers. Die R63 loop net effens suid van die ou hoofpad, wat omtrent heeltemal deur bosse verswelg is, maar die oopte is min of meer dieselfde as toentertyd. Na die suide toe is eindelose dorre vlaktes, en na die noorde Coetzeeberg en die Sneeuberg – een riffel ná die ander met pieke en kranse.

Maar daar’s een groot verskil: Hier’s geen wild nie. Hier en daar op die vlakte sien jy ‘n paar verdwaalde springbokkies, maar die reuse-troppe van ouds wat die jagters hierheen laat stroom het, is lankal weg. Dit help nie ‘n mens wroeg oor die besonderhede van die slagting nie; mik eerder na ‘n plek wat sake probeer regstel.

Draai links by die bordjie wat na Samara toe wys, op die ou Petersburgpad wat noord die berge inslinger. Dis nie net die pad na herstel nie, maar ook na van die ongelooflikste landskappe in die land – dalk die vasteland.

Die eerste plesier van die pad is die klaag-biep wat aankondig jou selfoon het sy sein verloor. Dis nie eintlik ‘n verrassing nie, want reg rondom jou begin die landskap bo die vlakte vol doringbome uittroon. Eers die versplete puntjies van Tandjiesberg, dan die rooi kranse van Aasvoëlkop en die massiewe skouers van Bouwershoek

Die omgewing verklaar die droom. Hier het die Engelsman Mark Tomkins en sy Suid-Afrikaans gebore vrou, Sarah, hul persoonlike missie aangepak om dié stuk van Afrika tot iets van sy oorspronklike glorie te herstel.

Hulle het verlief geraak op een plaas en dit vir ‘n vakansieplek aangeskaf; toe, namate hul droom begin vorm aanneem het, nog een en nog een. Altesame elf. Nou is dit 28,000 ha, plus ‘n langtermyn-rehabilitasieprogram, ‘n populasie wild wat stadig al hoe meer word (in getalle én verskeidenheid), en ‘n lodge waarvan die lof met reg in die internasionale media besing word.

Die personeel, van wie die meeste in die Karoo gebore is, het die droom ook hul eie gemaak – en ‘n mens kan dit sien. Dis hul eie plek dié, die wêreld waar hulle hoor, en hulle is trots om dit met gaste te deel.

Die hoofveldwagter, Les Slabbert, was in die sewende hemel toe hy uit Botswana teruggekeer het om by Samara te werk – en dis nie net omdat hy terug huis toe gekom het nie. “Dis so ‘n fantastiese plek. Die Tomkins-egpaar het reg van die begin af deur die regte mense gewerk: prof. Graham Kerley, wat gehelp het met die vestiging van Addo, en Glen Coetzee, wat impakstudies gedoen het om vas te stel watter wild hier sal hou. Ons het weggebly van die Groot Vyf, hoewel ons tog jagluiperds, witrenosters, buffels en wildebeeste het.”

Wye verskeidenheid plante

Die verskillende hoogtes bo seespieël van Samara sorg vir ‘n verstommende verskeidenheid plante. Vier van Suid-Afrika se sewe biome val binne sy grense: Nama-Karoo, Vallei-Bosveld, Savanne en Plato-grasvlakte.

“Een van die hoofdoelwitte is om dit weer soos die oorspronklike habitats te kry – of ten minste soos dit was voordat die bokke, skape en beeste toegeslaan het,” verduidelik Les. “Dis merkwaardig wat die afgelope paar jaar gebeur het. In sekere gebiede het die plantegroei met 30% toegeneem. Ons het erosie beveg en indringerplante uitgeroei, maar dis nog maar net die begin – hierdie is ‘n projek van 30, 40 jaar.”

Die hoogtepunt van enige besoek aan Samara móét die rit na die bergplato van Kondoa wees – ‘n steil klim van meer as 1,000m. Meerkatte baai in die son; ‘n gompou tree sy uitgestrekte terrein met die grootste presisie af. Reusagtige spekbome met massiewe stamme marsjeer oor die kloof se bodem en maak geleidelik plek vir steil, beboste hellings en sandsteenkranse wat oortrek is met kiepersol- en witstinkhoutbome.

Dit kos ‘n uur se stadige 4×4-ry teen die steilste hellings om uit te kom by een van die skouspelaftigste gesigte in die land: ‘n uitgestrekte plato van berggrasvlakte, met die Sneeuberg wat na die noorde toe uitrol en die Kamdeboo wat ver ondertoe suidwaarts uitstrek.

Samara- private wildreservaat: www.samara.co.za