Andy Horn

FOTOS: Greg Cox | WOORDE: Alma Viviers


Volhouhaarheid is nie meer genoeg nie, sê die groen argitek Andy Horn. Vir die toekoms moet ons regenerasie in ons bouwerk en leefstyl ondersoek.

Wat is groen argitektuur? 

Dis nie ’n styl, tendens of ontwerptaal nie. En ook nie nuut nie. Dis klimaats-, geografi e- én kultuurgewys die regte manier van bou.

Waarom het jy besluit om ‘n groen argitek te word? 

Ek het in Swaziland grootgeword en dit het my altyd getref dat die moderne geboue met die landskap bots, terwyl die landelike geboue, dié met modderbaksteenmure en ’n strooidak, daar tuis hoort. In my studentejare het ek begin belang stel in omgewingskwessies en hoe dit verwant is aan maatskaplike en politieke kwessies. Ek het besef argitektuur moet op al dié vlakke reageer.

Jy glo geboue moet deel vorm van regenerasiestelsels. Wat beteken dit? 

’n Regenerasiestelsel begin op die vlak van stads- of streekbeplanning, waar dienste soos riool, water en die voedingsiklus in ’n nuwe ontwikkeling verbind word om ’n lewende ekologie te skep. Die ideaal is om ’n selfversorgende nedersetting te hê waar dié stelsels geslote is. Geboue kan ook ’n helende “sel” wees. As reënwater byvoorbeeld opgevang en deur ’n daktuin gefi ltreer word, is die water wat uiteindelik die gebou verlaat, in ’n veel beter toestand. Dit, saam met die groen korridors waarin wild kan leef, sal ons stuur in die rigting van geïntegreerde lewenstelsels wat voorsiening maak vir die behoeftes van mense én ander lewende wesens.

Is dit die argitek se taak om mense te laat dink oor ‘n groener leefstyl? 

Ja, mense gaan na ’n argitek toe om idees te kry, en dit is deur ontwerp dat ons probleme oplos en nuwe prosesse en geleenthede skep. Werklike magic kry ’n mens waar daar sinergie is tussen verskillende ontwerpkomponente, maar ons (argitekte, ingenieurs en dies meer) het so gespesialiseer en geïsoleer geraak dat ons geneig is om dit te vergeet.

Waaraan wil jy he moet alle huiseienaars, kliente en argitekte dink? 

Buiten faktore soos maatskaplik-ekonomiese en kulturele opheffi ng – asook respek vir die omgewing en sy hulpbronne en die gebruik van gesonde materiale – is dit altyd omgewingsvriendeliker om energie te bespaar as om dit te produseer. Maak die meeste van jou energieverbruik deur passiewe verhitting en verkoeling, en die gebruik van natuurlike lig. Gebruik die fi sika en natuurwette. Uiteindelik is dit die subtiele dingetjies wat jou huis groen maak, en nie die eko-foefi es nie.

• Eco Design-argitekte-en-konsultante 021 462 1614, www.ecodesignarchitects.co.za (laai gerus Andy Horn se Manifesto for Green Architecture af)