FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Alma Viviers
Alexander Opper se werk is ‘n vermenging van ontwerp, argitektuur en kuns. Hier vertel hy self meer oor sy fassinerende projekte.
“Ek is as ’n argitek opgelei in Kaapstad en Berlyn, waar ek tussen 1995 en 2005 baie geleer het. Daarna het ek teruggekeer na Suid-Afrika om ’n klein dog beduidende projek werklikheid te maak: ’n huis vir my ma, die One Megabyte House in Kaap St. Francis.
“Sedert 2007 bedryf ek ’n interdissiplinêre ontwerppraktyk (Notion-argitekte) saam met my sakevennoot, Amir Livneh. Dié praktyk, in die inspirerende stad Johannesburg, voed my huidige navorsing en skryfwerk oor die belangrikheid van ontwerp in ’n Suid-Afrikaanse konteks.
“As ’n ontwerper glo ek aan die beginsel van praktykgegronde navorsing – PLR, of ‘Practice Led Research’ – wat ’n mens kan beskryf as ‘leer deur te doen’. Vir my is die begrip ‘designerly research’ ook nuttig as jy wil verstaan presies hoe ver dié nie-lineêre manier van doen en dink strek.
“Danksy my doseerwerk aan die Universiteit van Johannesburg se fakulteit kuns, ontwerp en argitektuur – binne die departement van argitektuur – het ek bewus besluit om op die kleiner en meer gefokusde skaal van voorwerp-, meubel- en uitstallingsontwerp te konsentreer. Ons praktyk aanvaar egter wel interessante argitektoniese werk wanneer die kans hom voordoen.
“Notion-argitekte werk ook saam met kunstenaars en ander kreatiewe praktisyns en is tans besig met ’n opwindende projek saam met die kunstenaars Terry Kurgan en Tegan Bristow – dit word Hotel Yeoville (foto bo regs) genoem. Tot nou toe het hierdie openbare projek, wat ongeveer twee jaar gelede deur Terry begin is, slegs in die vorm van ’n webwerf (www.hotelyeoville.co.za) bestaan. Terry het ons genader om die virtuele ruimte van die webwerf – wat tot ’n groot mate die dinamiek en moontlikhede van sosiale netwerke in Yeoville ondersoek – om te sit in ’n ware manifestasie, in die vorm van ’n grensverskuiwende tentoonstelling wat vroeg in 2010 sy eie inhoud sal genereer.
“Ander interessante projekte sluit in Notion-argitekte se deelname aan vanjaar se Joburg Art Fair, in die vorm van nuwe meubelontwerpe in Southern Guild se stalletjie.”
• Alexander Opper 072 438 0909, alexanderopper@gmail.com

