Tone in die water

WOORDE: Carine Visagie


Met glashelder turkoois seewater wat net ’n paar trappies onder jou klots, is die nuwe Constance Moofushi-oord in die Maldive-eilande die verpersoonliking van “kaalvoetluuksheid”.

“Elke villa is soos ’n meubelstuk met verskeie pote wat liggies wieg in die wind,” sê die argitek Jean Michel d’Unienville en wys na ’n ry houtvillas op die water wat soos die segmente van ’n honderdpoot lyk. Die swaai-beweging is heeltemal natuurlik, verduidelik hy, en as ek vanaand gaan inkruip, hoef ek my glad nie oor die ritmiese gewieg van die wind en die seewater te bekommer nie. “Die ‘hok’ bo-op is baie stewig,” belowe hy.

Eintlik is “hok” ’n heeltemal onvanpaste woord om die luukse verblyf by Constance Moofushi te beskryf. Dié blinknuwe juweel in die portefeulje van die Constance-hotelgroep, wat ook in Mauritius, Madagaskar en die Seychelle-eilande sake doen, is ’n ode aan die see en aan hout – die ideale plek as jy na ’n onvergeetlike wegbreekvakansie smag.

Jean Michel, ’n boorling van Mauritius, was die hoofargitek vir die restourasieprojek, wat nuwe lewe in die oord geblaas het kort nadat dit deur nuwe eienaars oorgeneem is.

Ons sit met ons voete in die sagte songebakte sand by Moofushi se Totem-kroeg terwyl Jean Michel wys na die palmblaardakke van al die geboue op die eiland. Dié argitektoniese element verbind die oord met die eilandomgewing en spog boonop met die subtiele vorm van ‘n dhoni – ’n tradisionele seilboot wat in die Maldives gebruik word. Om ons lei verskeie paadjies na ’n labirint van villas en strandjies wat oor die piepklein eiland versprei lê – alles binne enkele minute se stap van mekaar af.

Jean Michel beskryf ’n vakansie op Moofushi as ’n “luukse kaalvoeteilandervaring” – ’n konsep wat taamlik letterlik regdeur die oord toegepas word. Die meeste vloeroppervlakke – van die ontvangsruimte tot die restaurante en kroeë – is met ’n laag seesand van 10cm bedek, en ek begin besef ek kon die drie pare sandale in my tas net sowel maar by die huis gelos het. Die klippot met water en groot skeplepel by die ingang van my villa is al wat ek nodig het om die sand van my voete af te spoel voor ek in my lieflike private houtkokon gaan uitspan.

Die hotel moet bly glimlag

Terwyl ons nog so sit, gooi ’n onheilspellende donker wolk skielik ’n skaduwee oor ons – ’n teken dat een van die gebied se berugte vyfminute-reënstorms op pad is. Blootstelling aan die elemente is iets waarvan ’n mens in die Maldives nie kan wegkom nie, sê Jean Michel nonchalant, maar “’n hotel moet natuurlik altyd glimlag”.

Toe dit dus by die oprigting van die villas kom, is slegs volhoubare, duursame houtsoorte gebruik wat nie vir die elemente skrik nie. Geelmeranti is vir die pilare en dakbalke en -rande ingespan, kapoer vir die muurpanele, en die duursame tropiese hardehoutsoort balau vir die dekke. Hout was nie net geskik omdat dit ’n warm, vriendelike boumateriaal vir vakansievillas is nie – dit het ook gesorg dat die strukture lekker lig is en maklik in die sand geanker kan word, etlike meters van die strand af.

Die spesiaal gemaakte meubels en dekor in die villas is ’n moderne interpretasie van Robinson Crusoe se see-avonture, en sorg vir gerief en kleur teen die hout agtergrond. Maar pleks van clichéagtige see-elemente het die Paryse interieurontwerpers Nancy Laborderie en Caroline Petinga van Studio Hertrich & Adnet op ’n stylvolle kontemporêre vertolking van die tradisionele eilandstyl besluit.

Hulle het natuurlike materiale, onder meer ruwe klip, tou en stukkies skulp, in die sjiek interieurs gebruik, terwyl sterk verf- en materiaalkleure wat deur die see geïnspireer is, asook prettige elemente soos hangkaste in die vorm van ’n skatkis en ligte in die vorm van seekorale en -kastaiings, die eilandgevoel verder voer.

Die villas spog ook elkeen met luilekker bederfgoed soos ’n Mac Minirekenaar, iPod-stasie, topgehalte bedlinne en ’n binne-buite-stort wat volkome privaatheid verseker en jou tog duidelik bewus maak van jou onmiddellike natuurlike omgewing.

‘n Eiland met ‘n hart

Agter elke villa steek ’n houtdek uit, kompleet met ’n stort en trappies wat lei na die deurskynende turkoois water – net die plek om jou te sit en verwonder aan die pragtige tropiese visse waarvoor hierdie deel van die wêreld bekend is. Volgens Jean-Michel is die heel beste plek om te gaan snorkelduik reg agter my, en natuurlik glo ek hom.

Met sy veelkleurige eilandstyl-hemp en soel goudbruin vel straal dié argitek die ontspanne selfvertroue uit van iemand wat die grootste deel van sy lewe op ’n eiland deurgebring het. En veral oor dié klein eilandjie in die suidelike Ari-atol kan hy nie uitgepraat raak nie. “Hierdie eiland het regtig ’n hart,” sê hy, net toe die kelner opdaag met ’n verleidelike piña colada vir ons al twee.

Meer inligting: Constance Moofushi-oord 00 960 668 1010, www.moofushiresort.com, mkt@constancehotels.com