Liefdesbriewe aan die lekker

FOTOS: Inge Prins


Laat staan ín huisie by die see: Die Franse platteland is deesdae die uitspanplek vir Suid-Afrikaanse smulpape, en in die luukse nuwe boek Feestelike Frankryk deel drie van hulle ñ tong deeglik in die kies – stories oor huis-opsit in die vreemde en ‘n magdom geil resepte.

In die Middeleeuse dorpie Boussac, waar die provinsies Limousin en Auvergne ontmoet, hang kreefrooigebrande dog sonhonger Britte swetsend soos vinke aan ou huise se dakke. Uit die boonste vloer van ’n verwaarloosde drieverdieping-rooibaksteenhuis, eens ’n kantoorkompleks, kom ’n bidet aangevlieg, gevolg deur ’n Franse opknapkreet: “Vive la restauration!”

Daar’s ’n Afrikaanse klankie aan dié triomfantelike vrouestem, en so ook aan die twee gekultiveerde kêrels langsaan in Château de la Creuzette, die manjifiek gerestoureerde 19de-eeuse huis van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Louis Jansen van Vuuren en sy lewensmaat, Hardy Olivier, wat VISI in 2002 gewys het.

Suid-Afrikaners stroom al ’n paar jaar hier-heen vir ’n lawende week van kook- of kuns- klasse, maar kort voor lank is dit “Je t’aime, ma chérie” en ernstige gesprekke met die bankbe-stuurder om ’n vakansieflirtasie in ’n permanen- te liefdesverhouding met die lekker te verander.

Vir Anet Pienaar en haar man, Ton Vosloo, is die dae van restourasiekrete op moedverloor se vlakte genadiglik reeds verby. So ook krane wat gorrel en ontplof, stof wat twee weke en drie stofsuiers verg om te verdwyn, handgebaar-redekawelings met ’n boepens-pa-en-seun-elektrisiënspan (en ’n aantreklike langhaar-nutsman genaamd Jesus), en asemsnakkende rekeninge wat op flentertjies papier gekrabbel staan…

Vyf jaar later is La Maison des Roses met sy tuin van 9 m x 9 m-blokke wit, geel, pienk en rooi rose ’n lus vir die oog, net soos dié van die bure in La Creuzette. En om die prentjie af te rond het hulle al die opdraandes en afdraandes tot hier, die voortreflike kos en wyn, die markdae en lugsoene alkant van die wang, die guitige intellektuele diskoerse en die lang somermiddae onder prieelskadu’s in ’n beeldskone boek-in-’n-boks opgeteken. Dis nie geskryf vir Peter Mayle-aanhangers nie; dis stories deur vriende vir vriende wat as ’t ware wys, jy kan dalk die Boer in die Fransman sit, maar beslis nie die Galliër in die Boer nie.

Nou kan Anet straataf stap met ’n mandjie vol van haar eie rose en ’n eksemplaar van haar, Louis en Hardy se boek en gaan simpatiseer met die songelooide Britse vrou wat, steeds nes ’n vink, karring aan haar dak. “God bless you and your roof,” sal sy sê, met die wete dat die toekoms – en die pienk wyn – ewe rooskleurig is.

• Feestelike Frankryk – Fabels en geregte uit die Franse platteland word in Afrikaans en Engels uitgegee deur Jonathan Ball en is van 16 November af teen R375 by goeie boekhandelaars landwyd beskikbaar. Die teks is ’n vrye verwerking van die voorwoord deur Ton Vosloo en die essay “ ’n Restoureerder se droom” deur Anet Pienaar.

• Chateau de la Creuzette +33 05 44 65 78 27, www.lacreuzette.com, info@lacreuzette.com

Chateau 101

“Beaucoup de travail, beaucoup de travail” (baie werk, baie werk) is jou voorland as jy in die Franse platteland wil gaan nesskop.

• DIE DAK

As die dak nie in ’n goeie toestand is nie, kan jy jou maar regmaak om net soveel op herstelwerk as op die huis self te blaas.

• ELEKTRISITEIT

Baie ou huise het argaïese bedrading wat met die verbyvlieg van ’n muskiet die gees kan gee. Dit moet in die meeste gevalle heeltemal oorgedoen word omdat baie onderdele net op antiekmarkte te koop is.

• DIE BADKAMER

Selfs vyfslaapkamerhuise het meestal net een toilet en bad, maar verskeie bidets. Die sanitasieware is dikwels pikswart aangepak met antieke slyk en twee dae van intense skropwerk met Suid-Afrikaanse seepsoda is al oplossing. Wees gewaarsku: Daar is twee dinge waarvan Franse loodgieters nie hou nie – die een is te veel werk, en die ander is om ander mense se brouwerk reg te maak.

• ARBEID

Jy sal gou-gou die Franse kragwoord “merde” onder die knie kry, as jy beplan om ’n huis op ’n ander vasteland te restoureer – die Franse arbeidsmag laat hulle nie aanjaag nie, veral nie deur mense wat nie hulle taal magtig is nie. Jy sal jou ook moet beroep op die Calvinistiese DNS van jou Suid-Afrikaanse vriende – hulle is baie meer geneë om te kom kuier as hulle kan help verf, pleister, muurpapier afstoom, silwer poleer en brandnetels uittrek in ruil vir ’n bed en die legendaries voortreflike kos en wyn waarvoor jou nuwe vakansieland bekend is.