Jodi Bieber is ’n Suid-Afrikaanse fotograaf wat veral bekend is vir haar veelgepubliseerde foto van Bibi Aisha, die jong Afgaanse vrou wie se neus en ore deur die Taliban afgesny is nadat sy gaan hulp soek het teen haar gewelddadige man. Bieber het met dié foto in 2011 die Wêreld-persfototoekenning gewen.
Sy het reeds nie minder nie as agt ander Wêreld-persfototoekennings gewen, asook talle ander gesaghebbende fotografiepryse, byvoorbeeld die eerste prys vir die reeks “Real Beauty” in die Foto van die Jaar Internasionaal-kompetisie, en die eerste prys in die Prix de l’Union Européene by die Rencontres de Bamako Biennale Africaine de la Photographie in 2009.
Bieber rond tans ’n baie wilde jaar af waarin sy aanhoudend gereis, mense ontmoet, op beoordelaarspanele gedien en openbare toesprake gelewer het. Dit is juis op die laaste been van die Wêreld-persfototentoonstelling in Kaapstad dat ons ons in die tuin van die Kasteel van Goeie Hoop bevind. Dit is ’n plek met ’n simboliese naam, want dis hier waar Bieber ’n driedag-meesterklas aanbied vir 17 jong fotograwe wat deur die Wêreld-persfototoekennings en Iziko-museums georganiseer is.
VISI: Hoe het jy by fotografie betrokke geraak?
Jodi Bieber: Ek het oorspronklik bemarking gaan studeer nadat ’n aanlegtoets getoon het ek sal goed vaar in die regte. Die gedagte om vir sewe jaar te studeer het my glad nie aangestaan nie, en toe kies ek maar bemarking omdat die kursus net vier jaar lank was. Terwyl ek een middagete-pouse saam met ’n vriend gesit het, het ’n pamflet in my skoot geland wat fotografiekursusse by die Market Workshop in Johannesburg adverteer. En dis hoe ek by fotografie betrokke geraak het.
Nadat ek verskeie kortkursusse by die Workshop voltooi het, het ek in 1993 ’n driemaande-internskap by The Star gedoen onder leiding van Ken Oosterbroek. My werk as internskapstudent het behels dat ek almal se films ontwikkel en die foto’s druk. Ek het darem steeds tyd ingeruim om uit te gaan en foto’s te neem en op my derde dag my eerste voorbladfoto gekry. Ek is een van 10 fotograwe wat in 1996 genooi is om deel te neem aan die Wêreld-persfotomeesterklas wat in Amsterdam gehou is. Ek het nog altyd my eie projekte, soos “Between Dogs and Wolves”, “Survivors” en “Soweto”, gedoen, maar ook werk vir die tydskrif Time en Médicines Sans Frontières.
Vertel ons meer oor die manier waarop jy werk. In watter mate is jy byvoorbeeld ’n “regisseur” van ’n fotosessie?
Wanneer ek gaan foto’s neem, is ek ure lank daarmee besig. Ek put my onderwerpe uit. Ek begin deur die foto te raam. Ek sal vir die mens wat ek gaan afneem sê waar ek dit wil doen, maar nie hoe hy of sy moet staan nie. As daar meer as een mens is, sal ek ook nie sê watter posisie hulle moet inneem nie. Ek voel jy kan baie aflei oor hulle verhouding uit die posisie wat hulle kies om in te neem. Wanneer die foto eers reg geraam is, sal ek begin opdragte gee en iemand vra om byvoorbeeld ’n been of hand te verskuif.
Geld was nog nooit my dryfveer nie – fotografie is. Ek kies my projekte omdat ’n onderwerp my interesseer. Ek het met “Real Beauty” begin nadat ek ’n ongelooflike Dove-reklamebord gesien het waarop gewone vroue pleks van modelle verskyn. Kort daarna het ek ’n model ontmoet wat ’n paar donker geheime oor die modebedryf met my gedeel het. Sy het byvoorbeeld sakke onder haar oë gehad, maar op Photoshop word enige teken daarvan uitgewis. Dit het my nuuskierig gemaak oor wat ware skoonheid is. Baie vroue was aanvanklik agterdogtig toe ek met die projek begin het, maar daarna het ek al hoe meer oproepe gekry van mense wat wou deelneem. Ek het de laaste een aanvaar.
Jy beklemtoon gereeld hoe belangrik dit is om te redigeer. Wat maak van iemand ’n goeie redakteur?
Redigering is deurslaggewend. Deesdae is almal ’n fotograaf, maar met interpretasie kan jy ’n verskil maak. Om ’n goeie redakteur te wees moet jy getrou bly aan jouself, maar ook nie te emosioneel geheg wees aan jou werk nie. As jy iemand anders toelaat om jou werk te redigeer, moet jy seker maak jou siening kom sterk na vore, en jy moet iemand gebruik wat jy vertrou.
Waar dink jy raak baie fotograwe die pad byster?
Hulle is te haastig. Jy moet genoeg tyd inruim vir redigering. Moenie foto’s bysit net omdat jy dink jy moet ’n sekere hoeveelheid hê nie – minder is beslis meer. Maak hopies soos jy aangaan: ’n “miskien”-hopie, en ’n “in”- en ‘uit”-hopie. As jy sukkel om van party foto’s afskeid te neem, kan jy die “uit”-hopie hou waar jy dit nog kan sien en later weer daarna kyk. En moenie dit op die rekenaar doen nie. Om jou portefeulje te bou, moet soos musiek wees – daar is hoogtepunte en laagtepunte, maar nie swak punte nie.
Jy bevind jouself dikwels in gevaarlike situasies. Hoe hanteer jy dit?
Ek glo my eerlikheid oor waarmee ek besig is, is my beskerming. Ek knoop vinnig verhoudings aan, klein kringetjies mense rondom ’n groter situasie wat dalk gevaarlik kan wees.
Jy het tydens die werksessie gesê fotograwe bring ook hulleself saam wanneer hulle foto’s neem. Waar sien ons jou in jou werk?
Ek weet nie, ek is nie die regte persoon om te vra nie. My keuse van onderwerpe verklap baie oor my. Ek dink ook ek is taamlik reguit en jy kan dit in my werk sien, maar dit is nie ’n geval van “wat jy sien is wat jy kry” nie.
Iemand het eenkeer gesê ’n beroep is ’n voertuig vir iets diepers. Veronderstel dit is waar… waarna is jy op soek deur middel van jou fotografie?
Fotografie is ’n voertuig om dinge te ontdek wat ek nie vroeër geweet het nie. Wanneer ek foto’s neem, leer ek ook iets nuuts. Ek knoop verbintenisse aan met ander mense en voel ek het ’n sekere verantwoordelikheid teenoor hulle.
Van verantwoordelikheid gepraat: Daar is die eeue oue dilemma en debat oor fotograwe wat hulle in ’n situasie begewe en iets vat. Hulle teer op die swakkes sonder dat die swakkes daarby te baat. Hoe voel jy hieroor?
Ek voel wel verantwoordelik, maar soms dink ek ook dis ’n bietjie onregverdig. Jy kry jou foto, maar die gemeenskap trek nie daaruit voordeel nie. Dit is ’n baie moeilike kwessie.
Ek glo regtig dis belangrik om baie eerlik te wees oor wat jy soek en waarvoor die foto gebruik gaan word. As jy ’n stukkie detail uitlaat net om die foto te kry, sal daardie stukkie detail later by jou kom spook. As iemand ’n probleem het met wat jy probeer doen, moet jy hulle eenvoudig nie afneem nie. Ek maak seker dat die mense wat instem om deel te neem, een van die (twee – Red.) kunstenaarsproewe kry wat ek het. Dit is hulle besluit of hulle dit wil hou of verkoop. Dit is my manier om iets terug te gee.
Wat was jou grootste uitdaging tot dusver?
Om ’n fotograaf te wees is ’n eensame beroep en jy offer een ding op vir iets anders. Fotografie is al wat ek nog altyd gedoen het, en ek leer nou maar eers daar is ander goed, soos skoene en grimering (lag).
Jy moes ’n wilde, baie anderster jaar beleef het nadat jy die Wêreld-persfotoprys gewen het. Wat is die grootste les wat jy geleer het?
Ek het geleer foto’s kan baie hard praat. Nie alle foto’s nie, en ook nie die heeltyd nie, maar wanneer dit gebeur, kan dit tot verandering lei. Ek het ook geleer as jy ’n stem het, moet jy dit gebruik. Fotograwe kan baie mag hê.
Wat is volgende op jou agenda?
Ek begin met ’n nuwe projek, en dan het ek ook ’n groot uitstalling in Ulms, Duitsland.
Het jy vir oulaas enige raad?
Jy moet eenvoudig uitgaan en dit doen. Skep die werk, sit die ure in, ontwikkel jou eie styl, moenie dieselfde rigting as die res van die trop inslaan nie. Doen jou eie ding. En dink liewer weer wanneer jy op die punt is om een van daardie foto’s te neem wat ek “Die Staar” noem.
Om nog van Jodi se werk te sien, besoek www.jodibieber.com

