FOTOS: Tretchikoff-Stigting | WOORDE: Alma Viviers
Vladimir Tretchikoff se beroemde “Chinese meisie” – een van die skilderye waarvan die meeste afdrukke ter wêreld verkoop is – kom uiteindelik terug Suid-Afrika toe as deel van ’n oorsigtentoonstelling. En dié beloof om opnuut die belangstelling in die meester se werk aan te wakker.
Vladimir Tretchikoff het in sy leeftyd 52 uitstallings gehou – in Suid-Afrika, Brittanje, die VSA en Kanada – en baie daarvan was in spoggerige afdelingswinkels soos Harrods in Londen. Hy het kuns uit die galerye gesleep na plekke waar Jan Alleman sake gedoen het en dit meer bekostigbaar gemaak deur afdrukke van sy werk te verkoop – ’n revolusionêre gedagte vir daardie tyd.
Ondanks (of dalk weens) sy gewildheid is Tretchikoff se werk as kitsch of swak kuns afgemaak en die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery het nooit ’n enkele van sy oorspronklike skilderye aangeskaf nie. Die eerste groot oorsigtentoonstelling van Tretchikoff se werk wat op 9 Maart 2011 in die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Kaapstad open, gaan dus ’n tuiskoms in die ware sin van die woord wees.
“Tot nou toe het die kunsestablishment hom glad nie erken nie,” sê Natasha Swift, die kunstenaar se kleindogter, wat ook die direkteur van die Tretchikoff-stigting is. “Sy kuns is nooit akademies benader nie en daarom is die tyd nou ryp vir ’n kritiese oorsigtentoonstelling van sy werk.”
“Baie min mense het al die geleentheid gehad om in een plek ’n behoorlike versameling oorspronklike Tretchikoff-skilderye te sien,” sê Andrew Lamprecht, kurator van die tentoonstelling. “Ek verwag totaal nuwe soort insigte, kritiek en entoesiasme vir sy werk as toe hy destyds in afdelingswinkels uitgestal het. Hoewel ’n mens terdeë bewus is van sy gewildheid, wil ek hom nou binne die konteks van die skone kunste plaas – heel moontlik vir die eerste keer.”
VISI is seker Tretchikoff se lewendige, sensitiewe kunswerke gaan op veilings tot bod-oorloë lei en ’n nuwe geslag kunsliefhebbers verwoed in die solder laat krap na Ouma se stowwerige afdrukke!
• Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, Goewermentslaan, Kompanjiestuine, Kaapstad 021 467 4660, www.iziko.org.za
• As jy ’n oorspronklike Tretchikoff-olieverfskildery besit (nie ’n afdruk nie) en bereid is om dit vir die tentoonstelling beskikbaar te stel, kan jy die Tretchikoff-stigting kontak by tretchikoffexhibition@gmail.com

