Toevlugsoord in die bos

FOTO’S: Greg Cox | PRODUKSIE: Gera Smuts | WOORDE: Nicci Collier


Stephen en Sue Lennard het diep in die digte fynbos van die branderry-paradys Kommetjie se strand ’n eiesoortige huis vir hulleself gebou – kompleet met ’n bad in die buitelug – wat nuuskierige oë met die grootste gemak ontglip.

“Ek glo ’n gebou wat jy nie kan sien nie, is ’n goeie gebou.” Só sê die argitek Stephen Lennard, wie se eie huis inderdaad ’n voortreflike bousel is as jy dit aan dié standaard meet.

Die knus toevlugsoord wat Stephen, ’n ekobewuste branderryer, en sy vrou en kollega, Sue, deel, skuil tussen ’n versameling melkhoutbome en fynbos in Kommetjie. Die egpaar se kantoor – die tuiste van hulle argitekspraktyk Lennard & Lennard Architects & Planners – is in ’n gebou langsaan wat ewe goed deur die plantegroei gekamoefleer word.

“Ek het die eerste keer hier gekom kort ná ’n verwoestende veldbrand,” vertel Stephen, “en niks was hoër as kniehoogte nie. Oral was net swart stoppels.” Vandag is hier lieflike bome en struike, asook skoenlappers, voëls en insekte wat in die natuurreservaat rondom die eiendom voorkom. Vanuit die huis is amper geen van die bure sigbaar nie, en as ’n mens die Lennards se dubbelverdiepingwoning van ’n afstand af beskou, smelt dit op magiese wyse ineen met die idilliese omgewing.

’n Besoek aan Australië het as inspirasie gedien vir die ontwerp van die huis. “Ek het foto’s van ’n huis naby die Margaretrivier in Wes-Australië gesien,” verduidelik Stephen. “Toe ek dus soontoe is, het ek letterlik rondgedrentel tot ek dit opgespoor het.”

Goed gekamoefleer

Stephen en Sue het met verskeie groen verfkleure geëksperimenteer voordat hulle uiteindelik besluit het op die verskillende skakerings van grys waarmee die huis nou spog. “Ons wou sien watter kleur regtig sou verdwyn teen die agtergrond van die melkhoutbome,” sê Stephen. “Interessant genoeg het groen ’n geneigdheid om uit te staan, terwyl grys beter gekamoefleer is. Ons het selfs ons dak van groen na grys verander sodat dit beter by die omgewing inskakel.”

Die huis is geverf in drie verskillende skakerings Plascon-verf – Zircon, Barnacle en Shale – met een van die ligteres op die boonste helfte om die seeblou lug agter dit te weerspieël. Vir die interieur is Earthcote Windswept-verf gebruik: Dit is ’n mengsel van twee kleure wat gelei het tot die skakering Drieman Johan.

Hoewel die Lennards se verfkeuse neerkom op ’n volkome grys palet, bly hulle benadering tot bouwerk so groen as kan kom. Die huis vorm deel van ’n klein ontwikkeling in hierdie uiters sensitiewe ekostelsel. Geen beton of bakstene is vir die konstruksie gebruik nie, en die huis is spesifiek ontwerp om knus in te pas op ’n lappie oop grond sodat die natuurlike plantegroei so min as moontlik versteur word.

“Vyftien jaar gelede het ek hier deur die bosse gekruip op soek na ’n plek om te bou,” onthou Stephen. Sue verduidelik die huis beslaan ’n oppervlakte van sowat 350 m2. “Die grond is skoongemaak deur Cape Point Nursery,” sê sy. “Hulle het letterlik teelepels gebruik om elke liewe bolletjie in die grond te red.”

Stephen sê die benadering tot die landskapontwerp vir die gebied kom daarop neer dat alles wat buite die voetspoor van jou huis val, natuurlik moet wees, terwyl jou dek as tuiste kan dien vir jou eie plante, soos potte met kruie en groente in hierdie geval. “Ons moet al ons kruie op die dek hou sodat die ystervarke nie daarby kan uitkom nie. En ons moet soms die bosse baie liggies terugsnoei,” sê Sue. “Die goggas hier is soos ’n klomp Japannese tuiniers wat sommer alles namens ons terugsnoei.”

Buite na binne

Hope hout, groot glasdeure en -vensters en ’n tamaai balkon wat aan die elemente blootgestel is, nooi die buitewêreld binnetoe. Sue, wat al die interieurs vir Lennard & Lennard behartig, is die dryfkrag agter die kleure, materiale en meubels wat gekies is. “Ons het ook oral spieëls sodat jy waar jy ook al kyk, die bos buite die huis kan sien,” sê sy. “Ons huis is ’n bietjie soos ’n luukse tent.”

“Ek wou hê dit moet te alle tye voel asof die huis gevaar loop om deur Moeder Natuur oorgeneem te word, asof die natuur inbreuk maak op jou,” voeg Stephen by. En dít is presies die indruk wat hierdie verskuilde juweel skep.

VISI 57, wat nou te koop is, onthul heelwat ander versteekte blyplekke. Kry jou kopie vandag nog!

NS: Die passie van die Lennard & Lennard-praktyk is om stedelike ontwerpoplossings, argitektoniese riglyne en omgewingsbeperkings te skep wat die impak van menslike nedersettings op die natuurlike omgewing beperk om beter integrasie tussen die mens en die natuur te bewerkstellig. www.lennard.co.za, +27 (0)21 783 2624