FOTO’S: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | ONDERHOUD: Alma Viviers
Die argitek Michael Sutton was een van die ringkoppe tydens die bouopbloei van die jare sestig, en hy het dit reggekry om ’n eiesoortige Afrika-styl te skep. Die talle huise wat hy ontwerp het – soos dié een in Northcliff, Johannesburg, getuig van sy sensitiewe materiaalgebruik en subtiele benadering tot funksie, ruimte en plekskepping.
VISI het met die argitek Francois Swart van Louis Louw Johan Bergenthuinargitekte gesels wat dié huis in 2002 saam met sy lewensmaat, Albie Niemandt, gekoop en gerestoureer het.
Wat het julle oorspronklik na die huis toe aangetrek?
Die goeie “geraamte” – ’n goeie plan het mure op al die regte plekke. Die res is kinderspeletjies.
Het julle vooraf geweet die huis is deur Michael Sutton ontwerp?
Ja, en dis hoekom ons die skoudag bygewoon het. Die oorspronklike kliënt en eienaar, ’n vriend van Michael Sutton, het reeds ’n koopaanbod van iemand anders aanvaar, maar toe sy agterkom die koper het die plek net vir die uitsig gekoop en wil dit sloop, het sy ons dadelik genader met die opsie om dit te koop.
Michael Sutton is veral bekend vir sy plaaslike interpretasie van die Modernisme. Hoe kom dit in dié huis na vore?
Die huis is goed geplaas op die steil terrein, rondom ’n sentrale oop binnehof. Dit is spesifiek om ’n baie ou inheemse grootblaarrotsvy (Ficus abutilifolia) ontwerp wat al jare aan sy basis van Norhcliff-klip klou.
Die binnehof aan die suidekant van die huis – met die groot deure van die leefvertrekke wat daarop oopmaak – werk in die somer soos natuurlike lugreëling. In hierdie vertrekke sorg groot vensters aan die noordekant vir uitstekende kruisventilasie en laat terselfdertyd die uitsig tot sy reg kom. In die winter stroom die warm noordeson by dieselfde vensters in… die huis was dus “groen” lank voor dit ’n modewoord geword het.
Hoewel die huis minimalisties is, voel dit terselfdertyd soos ’n beeldhouwerk wat van onnodige detail gestroop is. Die oorgange tussen die vertrekke word funksioneel ingespan as studeerhoekies of linnekaste, en die gebrek aan gange maak die huis eintlik verstommend modern vir 1965, die jaar toe dit gebou is.
Sutton is ook bekend vir ’n “kenmerkende styl wat laetegnologiekonstruksiemetodes, gesofistikeerde beplanningsidees, ruwe materiale en eenvoudige detail gekombineer het om ’n tydlose argitektoniese taal te praat”. Watter spesifieke kenmerke in die Northcliff-huis is eie aan Sutton?
Buiten die funksionaliteit en natuurlike vloei is daar inhamme in die mure, podiums vir beeldhouwerke of kaggels, subtiele lig wat deur die bobeukvensters inkom en op die growwe pleister weerkaats word… al dié elemente dra by tot die koel en rustieke “vakansiegevoel” regdeur die huis.
Hoekom het Sutton dit reggekry om ’n nuwe Johannesburgse boustyl te skep?
Net soos met dié huis het hy reg van die begin af die wonderlike klimaat van Johannesburg as katalisator gebruik vir sy ontwerpe – en binne en buite met mekaar verbind. Dít, tesame met sy meesterlike funksionaliteit en die tierlantyntjielose, artistieke gebruik van messelwerk wat ’n mens aan Noord-Afrika herinner, het ’n boustyl geskep wat op ’n baie menslike skaal by Afrika aanklank vind.
Hoe ingrypend het julle die huis gerestoureer?
Ons het dit met hedendaagse geriewe gemoderniseer. Die hoofleef- en -slaapruimtes is nog net soos dit in 1965 ontwerp is. Ons het nog ’n garage by die enkelgarage gebou, asook ’n nuwe ingang, eetkamer, onderdakstoep en ’n gimnasiumkantoor bo-op die bestaande slaapkamers – om die uitsig te benut. Én die vensters, vloerteëls en sanitêre ware is vervang.
Hoe het julle die oorspronklike integriteit van die ontwerp behou?
Ons het nie die oorspronklike ontwerp probeer oortref nie, maar eerder die natuurlike vloei en minimalistiese gevoel probeer versterk.
Hoe verseker ’n mens ’n blywende gebou wat vir jare nog kan diens doen?
Vir my gaan dit oor ’n fyn balans tussen funksionaliteit, estetiese integriteit en ’n sekere tydloosheid, wat ’n mens slegs kan bewerkstellig deur nie te veel of te min van elkeen te hê nie. Dit is ongelooflik om die uitdrukking op mense se gesig te sien wanneer hulle hoor die gebou is al amper ’n halwe eeu gelede gebou. ’n Mens sal waarskynlik elke klompie jaar die muurkleur, krane of teëls moet verander, maar die basiese elemente sal beeldskoon bly.
Wat is jou wens vir die toekoms van Suid-Afrikaanse argitektuur?
Ek wens alle Suid-Afrikaners wil die potensiaal en belangrikheid van goeie argitektuur begryp. ’n Huis of gebou is ’n duur belegging, en ek kan nie verstaan waarom party mense nie professionele mense wil gebruik wat jou deur die proses kan lei nie.
• Louis Louw Johan Bergenthuin-argitekte: 011 781 3663, www.lljb.co.za

