Dis die uitsig

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


 Kaapstad se atlantiese kusstrook het al ’n toonlokaal geword vir die kenmerkende ontwerpe van Stefan Antoni Olmesdahl Truen-argitekte. Een van die jongste toevoegings tot hulle portefeulje is Headweg 1815, ’n huis wat net-net teen die hange van Leeukop vasklou.

Die oggendsonlig val in skuins kolomme die woonvertrek binne. Dis die middel van die winter, maar die glasdeure – van die vloer tot die plafon – is weggevou.

Voor jou verskyn ’n bewegende skildery van die see: Vrag- en ander skepe gly tydsaam oor die blou horison. Regs kom die wes- telike kuslyn en die Atlantiese Oseaan bymekaar, met Robben- eiland op die voorgrond en Seepunt se wolkekrabbers ondertoe.

Dis dié toneel wat ’n jong paar se hart gesteel het toe hulle ná sewe jaar in Johannesburg besluit het om terug te kom Kaap toe: die uitsig.

“Om hierdie uitsig te raam… dit het die totale konsep vir die huis geword. Dit verander elke oomblik van die dag en is só ongelooflik mooi dat jy nie eintlik daarmee kan meeding nie,” sê die eienaars.

Philip Olmesdahl van SAOTA stem saam: “Die eiendom het ’n fantastiese dubbele uitsig – noord en wes oor Fresnaye en verder horison se kant toe, én suid, na die berg toe. Die uitsig was die primêre dryfkrag agter die ontwerp.”

Volop natuurlike lig

Headweg is onlangs eers tot die stadsplanne gevoeg, en jy kom die straat binne van Topweg af – soos die naam aandui, was dit altyd die hoogste straat in Fresnaye. Ondanks die steil helling en spesifieke regulasies oor sonering (soos ’n hoogtebeperking van 6,7 m) bied die perseel die beste van die gebied – ongeëwenaarde uitsigte, natuurlik, maar ook beskutting teen die suidoostewind.

Die reguitnoord-oriëntasie beteken die huis kry volop natuurlike lig, maar sonder die kwaai weerkaatsing waarmee inwoners van baie huise in Clifton en Kampsbaai moet saamleef. Die opdrag aan die argitek was eenvoudig: ’n drieverdiepinghuis met aparte gastekwartiere en ’n sterk, manlike voorkoms.

Philip het die ideale oriëntasie vir passiewe klimaatbeheer aangegryp. Die hoek van die son is deeglik oorweeg tydens die ontwerpproses: Daar’s goed geïntegreerde sonskerms en voldoende oorhange wat in die somer direkte sonlig uithou, terwyl die lae wintersonnetjie steeds die ruimtes kan warm bak. Die westelike glasfasade word met ’n vrystaande betonmuur teen die fel namiddagson beskerm.

Die gesofistikeerde tuis-outomatiseringstelsel vul die passiewe maatreëls verder aan. Elektriese blindings maak, afhangende van die tyd van die dag – en die temperatuur – oop en toe. Die stelsel is so doeltreffend dat hulle selde, indien ooit, die lugreëling nodig kry.

Om die steil helling te bowe te kom is daar lang betonpilare wat die huis bo die terrein laat sweef. Dit lyk of die huis op duiselingwekkende wyse uitreik na die horison. Binne laat glasdeure van die vloer tot die dak, raamlose versterkte glasbalustrades en ’n dak van glas die grens tussen binne en buite vervaag – en skep ’n gevoel van onbeperkte ruimte.

Om die uitsig tot sy reg te laat kom is die palet van die afwerking eenvoudig gehou: wit vir die mure, met glas, vlek-vrye staal en gepoleerde graniet vir oop, verfynde ruimtes wat fragmente van die blou skildery wys.

Wit is nooit wit nie

Die wit interieur is ook ’n erkenning aan die argitek Richard Meier, die eienaars se argiteksghoeroe. “Destyds was ons pas terug van Los Angeles af, waar ons een van Richard Meier se projekte gesien het. Ons is absoluut gaande oor sy argitektuur.”

Hier, net soos in Meier se werk, is wit nooit wit nie; dit verander die heeltyd deur die toedoen van die natuur: die blou lug, die weer, die plantegroei, die wolke en, natuurlik, die lig.

Boonop glo die kliënte én die argitek afwerkings en detail lewer ’n enorme bydrae tot die algehele ruimtelike ervaring. “Ons glo nie aan dinge wat geen doel dien nie,” sê die eie-naars. “Daarom het ons nie die ruimte vol goeters gestop nie; die detail word die versiering.”

Maar Philip gee toe ’n mens het ’n ongelooflike klomp toewyding, geduld en moeite van al die partye nodig – ook ’n kliënt met baie begrip – om dié vlak van detail en konstruksie te bereik.

In-Ex, die Beverly Hills-firma wat vir die binneversiering verantwoordelik was, het dié instelling ook ter harte geneem. Die pasgemaakte mat in die leefvertrek strook byvoorbeeld perfek met die afmetings van die vuurherd, en die getal van die glasdeure word herhaal in die granietvloerteëls sodat dit ’n subtiele ritme skep.

Slegs meubelstukke wat die skoon, manlike lyne van die argitektuur weerspieël, is gekies en party stukke is spesiaal ontwerp om die presiese afmetings te verkry. Die resultaat is ’n ruimtelike en estetiese eenheid.

En waar bring die eienaars die graagste tyd deur? “Dié plekkie waar ons Leeukop kan sien, perfek geraam deur die voorste fasade, terwyl ons aandete geniet.”

Dié reaksie op die terrein en klimaat, gekombineer met die basiese beginsels van proporsie, skaal en ruimtelike eenheid, sorg vir ’n huis wat ’n sterk sin vir plek het en heeltyd in gesprek tree met die omgewing. “Ons is mal daaroor om hier te woon. Dis so maklik dat dit soms moeilik is om weg te gaan.”

• Stefan Antoni Olmesdahl Truen-argitekte (SAOTA): 021 468 4400, www.saota.com