Smullekker plakkershuis

WOORDE Claire Jowell FOTO’S Stephen Lamb


Read in English.

Hoe verander jy ’n “plakkershuis” in ’n tuiste met ’n spens wat homself vol hou? Ons het met die ontwerper Stephen Lamb gesels oor Touching the Earth Lightly se magdom projekte en hulle “Green Shack”-installasie by vanjaar se Design Indaba. Bring asseblieftog ’n groenteplantjie saam!

Stephen Lamb is ’n groen maatskaplike vryheidsvegter wat vorendag kom met innoverende, bruikbare, byna moedswillige ontwerpe wat elke Suid-Afrikaanse Jan Rap en sy maat kan gebruik. En tog dié ontwerpe so plat op die aarde as kan kom.

Dié talentvolle en grensverskuiwende ontwerper se mantra is dat ons almal weer in verbinding moet tree met funksionele ontwerp wat die groter samelewing tot voordeel strek. In sy kothuis op Kalkbaai se strand het hy vir VISI meer vertel oor sy ongelooflike idees wat dalk soos ’n verbeeldingsvlug klink, maar in werklikheid uiters prakties is. 

Groen maatskaplike veranderinge

Stephen hou vol ontwerp fokus te veel op skoon, blink voorwerpe wat nou sinoniem geword het met skoonheid. Hy sorg dat sy ontwerpe betekenis het en relevant is, maar ook te alle tye eenvoudig en realisties is. “Ontwerp moet eerder oor funksie gaan en minder oor houding of ‘positioning’,” sê hy.

Stephen sit kruisbeen langs sy branderplank en gesels ’n hond uit ’n bos oor sy aspirasies vir ekologiese ontwerp in Suid-Afrika en die behoefte om kreatiwiteit op ’n bruikbare manier manier teen armoede in te span. Hy haat dit dat Suid-Afrikaners se ontnugtering met die regering se maatskaplike transformasieprojekte gelei het tot ’n negatiewe houding teenoor maatskaplike verandering.

Groeiende goedheid

Hoewel Stephen sekerlik een van die rustigste Kapenaars is, was hy taamlik besig die afgelope paar jaar. Dalk onthou jy sy Climate Smart Cape Town-stalletjie by die COP17-konferensie wat in 2011 in Durban gehou en met ’n Loerie-toekenning vereer is, of wat van sy latere vertikale sampioenwoud-ingangspawiljoen wat ons in VISI 63 gewys het. Stephen was ook die dryfkrag agter Kaapstad se heel eerste daktuin-loodsprojek en werkskeppingsprojek in Waalstraat, Kaapstad. Nog ’n wonderlike projek was die “the spaces in-between”– gratis tuinprojek by die Metodiste kerk op Groentemarkplein. Groente, groente net waar jy kyk!

Hierdie projekte is maar net ’n paar van die goed wat Touching the Earth Lightly alles in die mou voer. Nadat hy ’n paar struikelblokke uit die weg geruim het, het Stephen uiteindelik geld gekry om van 1 tot 3 Maart by die Design Indaba-ekspo uit te stal en hy werk dat die biesies bewe om alles betyds reg te kry. Hier is ’n voorsmakie van wat hy by Design Indaba 2013 gaan doen:

Design Indaba 2013

Stephen het met Andrew Lord kragte saamgesnoer om die “Green Shack” te ontwikkel, ’n plakkershuis wat die krag van water en lig vier. Dit spruit uit die ontwerp van die ingangspawiljoen vir die Shanghai-konferensie waar hulle wou beklemtoon dat sinkplate en hout nie armoede en onderdrukking hoef te simboliseer nie.

Die projek ondersoek die “transformerende krag van lig, water en plante” in Suid-Afrika se magdom plakkershuise, wat andersins as “tydelike” ruimtes beskou word waar die gewag op leë beloftes arm mense uiteindelik wanhopig laat voel. Die idee was om die werklikheid in die oë te kyk en ’n pragmatiese plan te onwikkel om hierdie “wagtende” ruimtes te verander in huise waarop die inwoners trots kan wees. Praat van twee vlieë met een klap!

Stel jou voor:

  • Die Green Shack is ’n gewone sinkplaat-struktuur wat van die grond af gelig is sodat dit nie kan oorstroom nie.
  • In die dak pryk sogenaamde Litre of Light-“gloeilampe”: 2 liter-Coca-Cola-bottels wat onderstebo hang en gevul is met water om as dakligte te dien wat die huis met natuurlike lig vul.
  • Twee mure van die huis spog met ’n vertikale tuin wat natgelei word deur ’n jerrykan op die dak. Dié mure dien nie net as ’n lewende kosmuur en brandstrook nie, maar help ook om die temperatuur binne die plakkershuis te beheer.
  • Die orige twee mure word bedek met sandsakke, ’n tradisionele mengsel van sand, kalk en hemp, asook ’n brandbestande oplossing. Die kombinasie van die sandsakmuur en die “nat (groente)mure” maak die huis ’n minder weerlose, vyandige ruimte vir die inwoners.
  • Wat is op die spyskaart? Tamaties, spinasie, koljander, blaarslaai, aarbeie, seldery, roket, ment, spekboom, grashuie, basilie, tiemie en rabarber.

Burgerlike aktivisme

Die Green Shack is weliswaar ’n wonderlike gedagte, maar wat is uiteindelike die plan daarmee? Die Mshini Wam-gemeenskap het besluit om self in te spring en hul plakkershuise te herbou deur hulpbronne te deel en die Green Shack-infrastruktuur te volg. Dié herbouprojek gaan nie net help om groter sekerheid vir die eienaars te bewerkstellig nie, maar ook die riskiko vir vloede en brande verminder en ruimte skep vir die plaaslike owerheid om noodtoegangspaaie te skep en geriewe te installeer.

“Die Green Shack herinner ons ook aan die ‘demokrasie van die natuur’: dat plante wíl groei en wél floreer in ryk én arm gebiede,” sê Stephen. Op dié manier gaan die Green Shack nie net skuiling en sekuriteit verskaf nie, maar ook ’n kans om Moeder Natuur te geniet. En as dít nie ’n briljante idee is nie, weet ons sowaar nie wat is nie!

Raak betrokke

Is jy beïndruk? Ons is! Wees op die uitkyk vir Stephen, Andrew en hulle span by die Design Indaba vandeesweek. Laat inwoners van Mshini Wam jou deur die Green Shack lei en moenie vergeet om ’n groenteplantjie saam te vat nie!

Touching the Earth Lightly versoek die publiek om ’n groenteplant in ’n pot saam te bring om by die installasie te voeg. Al die plante word ná Design Indaba aan die inwoners van Mshini Wam geskenk. 

touchingtheearthlightly.com