Meubels met ‘n eko-gewete

Het jy geweet laaghout wat van sekere lande af kom stel giftige gasse vry? Dis een van die redes waarom meubelontwerper, Cameron Barnes, slegs natuurlike materiale gebruik.

Cameron se ontwerpe word gemaak met die lewenssiklus van ’n meubelstuk as hoofoorweging; sy ontwerp laat die die eienaar van die stuk toe om dit te herwin wanneer hy of sy moeg raak daarvoor. Dáárom gebruik hy eerder boute as gom of spykers.  

Cameron het beeldende kunste in Amerika studeer. “Ek het begin werk in die argitektuurbedryf en besef dat dit nie vir my is nie, dis als baie gekontroleerd en ek het hopeloos te veel tyd agter die rekenaarskerm deurgebring.” Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy betrokke geraak by plaaslike argitektuur projekte met ’n sensitiewe benadering tot die omgewing wat weer sy “liefde vir argitektuur laat vlam vat het”.

Alhoewel hy deeltyds konsultasiewerk vir die tipe argitektuur projekte doen, fokus hy hoofsaaklik nou op meubelontwerp. Die gebruik van herwinde materiale en indringerplante vorm die hoeksteen van sy ontwerpersfilosofie. Hy glo ook daarin om te “ontwerp om uitmekaar te haal”.

“Hoe iets aanmekaar gesit word, gee aanleiding tot ’n ontwerptaal,” sê hy. “Ek wil die hout oor-en-oor kan gebruik. Die meubels is gemaak met die fokus op handewerk; dit is arbeidsintensief, wat deel is van ’n etiese benadering.”

Een ding is verseker: niks word gemors nie. Cameron gaan so ver as om te sê dat hy selfs sy eie meubels terugkoop en dit herwin in nuwe stukke, alhoewel hy eerder hoop sy klante bring hulle meubels terug met die versoek dat hy dit omskep in iets nuuts.

Cameron maak en verkoop sy meubels vanuit sy werkswinkel in Woodstock. Hy verkoop ook van sy produkte by Prototype in Orphanstraat teen pryse wat verbasend redelik is.

“Ek hou my pryse billik,” sê Cameron. “Ek voel die ontwerp moet toeganklik wees en dit frustreer my dat so baie onwerpers se pryse onredelik is. Ek maak meubles vir mense soos ek.”

Cameron skep doelgemaakte stukke en is ook besig met sy eie reeks. Die meubelstukke, asook bykomstighede soos lampe wat van herwinde fietsonderdele gemaak word, is beskikbaar.

Vir meer inligting: www.cameronbarnes.co.za, info@cameronbarnes.co.za