FOTO’S: John Second | WOORDE: Alma Viviers
Y Tsai glo in die beginsel dat diverse idees tot ander Eureka!-oomblikke kan lei. Daarom waag hy sy hand aan alles en nog wat: konseptuele ontwerp, praktiese oplossings vir maatskaplike kwessies, en die bevordering van ontwerpbeginsels in enigiets van argitektuur tot produkontwerp.
Y Tsai dink uit die boks uit, letterlik. In drie van sy nuutste ontwerpe – ’n sportsentrum, voorskoolse klaskamer en rekenaarsentrum – gebruik hy ou skeepsvraghouers, maar op só ’n manier dat ’n mens nie kan glo dit was eens net ’n staalboks nie. Net soos sy veelbekroonde Nested Bunk Bed-ontwerp bied dié drietal ontwerpe ook oplossings vir werklike maatskaplike probleme in minderbevoorregte woonbuurte.
“Goeie ontwerp los probleme op,” sê hy. “As ’n ontwerper wat in Kaapstad woon, is dit moeilik om die uitdagings te ignoreer waardeur ek daagliks in die gesig gestaar word. Dis nie meer bevredigend om iets te ontwerp net omdat dit my op estetiese vlak aanstaan nie – ek wil probeer om ontwerp as ’n stuk gereedskap te gebruik waarmee ’’n mens positiewe veranderinge teweeg kan bring.”
Tsai glo pro bono- en luukse projekte is ewe belangrik, maar net omdat daar ’n beperkte begroting is, beteken nie minderbevoorregte mense moet aan die kreatiewe agterspeen suig nie. “Ek wil glo dié ingesteldheid het bygedra tot die sukses van hierdie NRO-projekte, wat op hulle beurt weer die publiek se verbeelding prikkel en hulle bewus maak van die probleme,” sê hy.
Om sy skeppende honger te stil begin Tsai ook sy eie projekte, wat produkontwikkeling en deelname aan ontwerpkompetisies insluit. Hy het onlangs ’n konseptuele ontwerpkompetisie, Re-imagining Cape Town, gewen waarin drie Kaapse “turksvye” geïdentifiseer is – die onvoltooide snelweg, die behoefte aan “groen” energie en die behuisingstekort – en deelnemers moes met ’n konsepte vorendagkom wat as antwoord dien op die vraag “Sê nou…?”
Sê nou ons kan die negatiewe in iets positiefs verander? Sê nou die berugte snelweg word iets ikonies wat ’n mens vir die wêreld wil wys? Sê nou ons het nie ’n windplaas nodig nie, maar gebruik alledaagse voorwerpe om passiewe energie vir die stad te oes? Sê nou die grond vir massabehuisingsprojekte raak op… hoe kan vertikale behuisingsprojekte tot die stadsomgewing bydra?
As deel van die skeppende proses vir sy snelwegvoorstel het Tsai projekte soos die New Yorkse High Line-park (sien bladsy 104-109) bestudeer: “Dit was duidelik dat Kaapstad se onvoltooide snelweg ’n plek van drama en skouspel kan wees omdat besoekers van daar af ’n fantastiese uitsig het op die middestad en die ikonieseTafelberg.” Bo en behalwe ’n besoekersentrum sluit Tsai se ontwerp ook ’n sonkragplaas in wat ’n oplossing bied vir die stad se groeiende energiebehoeftes.
Tsai gryp enige geleentheid aan om betrokke te raak by hoe Kaapstad as stad funksioneer – hy dien in die bodkomitee vir die Moederstad se poging om in 2014 die Wêreldontwerphoofstad te wees en is ook ’n lid van die Cape Town Design Network. “Ek het agtergekom dis ongesond om in ’n vakuum te werk as ’n mens
positiewe verandering teweeg wil bring. Jy moet deel wees van ’n groter gemeenskap,” verduidelik hy. “Pleks daarvan om in sak en as te sit oor die ekonomiese krisis of die swak ondersteuning van plaaslike ontwerp, het ek besluit om eerder my tyd en energie by te dra. In ruil kry ek die geleentheid om die toekoms te help vorm.”
Waar kom jou idees va ndaan?
My hoofbron van idees is my waarnemings van die wêreld rondom my. Hierdie gewaarwordinge word betekenisvol wanneer daar ’n taak op my wag. Toe ek byvoorbeeld aan ’n kroegstoel gewerk het, het my waarneming tot ’n vraag gelei: Waarom moet stoelsitplekke plat wees? Die eindresultaat is ’n humoristiese interpretasie van die ondervinding om op ’n volstruis te ry – ek noem dit die Ostrich-kroegstoel.
Waar doen jy jou dinkwerk?
Enige plek, solank ek pen en papier byderhand het.
Wie is jou kreatiewe held?
Ouens soos Ravi Naidoo van Design Indaba en Charles Meisel, ’n maatskaplike entrepreneur en persoonlike mentor, is plaaslik aan die voorpunt van ontwerp. Op internasionale vlak bewonder ek argitekte soos Diller Scofidio + Renfro, wie se werk intellektueel is en oor briljante kreatiewe flair beskik. Hulle is die visionêre agter projekte soos die High Line-stadspark in New York en talle ander.
Meer inlugting: Tsai Design Studio 083 729 1684, www.tsaidesignstudio.com

