Adam Court

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


Dié veelsydige kreatiewe hoof van OKHA Design & Interiors in Kaapstad is ’n selferkende ontwerpslaaf met ’n bykans kompulsiewe behoefte om mooi goed te maak.

Waar deur word ontwerp by Okha aangevuur? 

Ons probeer altyd beter wees. As jy in jou vertoonkamer sit – en ek doen dit – sien jy die heeltyd jou produkte. Dan sien jy wat aangaan; dis ’n voortdurende proses van ontleding, redigering en evolusie.

Wat inspireer jou skeppings? 

Ek is ’n estetika-spons wat alles om my absorbeer. Enigiets – van reis en tydskrifte tot kunsuitstallings, Indie-fl ieks en musiek – kan bydra tot 3D-ontwerp. Ek word geïnspireer deur kontemporêre dinge en tradisionele handwerk, en soms deur materiaal wat ek nog nooit gebruik het nie of op ’n ander manier wil gebruik.

Hoe benader jy ontwerp? 

Ek dink die sleutelkonsep in 21ste eeuse argitektuur, interieurs en ontwerp is die gedagte dat mense die kurator van hulle eie huis word. Niemand soek generiese interieurs nie. Huiseienaars is kieskeurig en soek versigtig items uit van verskillende wêrelddele, dinge met verskillende energieë en estetika, en kombineer dit dan in een ruimte. Dís wat ons by OKHA wil bereik: ’n sorgvuldig gekose versameling van die beste Suid-Afrikaanse kunswerke, keramiek- en glasware, plus ontwerperstukke uit die buiteland wat met ons eie unieke stukke gekombineer word.

Hoe beinvloed jou kunsagtergrond jou? 

Kuns is ’n suiwer uitdrukking en gaan daaroor om ’n emosionele reaksie te ontlok. Ontwerp gaan bowenal oor gerief en praktiese oorwegings, en dan eers oor visuele aantrekkingskrag en moontlike uitdaging. Net soos met beeldhouwerk waar dit oor vorms, kontoere en silhoeëtte gaan, probeer ek ’n besonderse spanning in meubels bewerkstellig – ek glo stoele, tafels en beddens moet uit enige hoek mooi wees.

En wat’s nuus by Okha? 

Ons nuwe konsepwinkel in die Cape Quarter-sentrum bied ’n fyn deurdagte sensoriese ervaring. Dit is eksperimenteel, maar sonder om mense af te skrik – dit is in die vorm van ’n volledige “woonstel” wat ’n visie is van wat die lewe kan wees.

• OKHA 021 461 7233, www.okha.com