Appeltjies vir die dors

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Trevyn & Julian McGowan | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


In die Apple-gebou in Johannesburg wag ’n verrassing om elke hoek en draai – of jy nou daar werk of net gaan inkopies doen.

Jy dink waarskynlik dit lyk soos ’n moderne kunsgalery – ’n platform met skoon, strak lyne wat nie met die kunswerke sal meeding nie. Of dalk soos ’n ruimte wat deur die kontemporêre argitek Tadao Ando ontwerp is om die natuurlike lig tot sy reg te laat kom. Amper, maar nog nie stamper nie. Hierdie is die Suid-Afrikaanse hoofkantoor van die Amerikaanse rekenaarmaatskappy Apple, waar selfs die besoekers voel of hulle deel is van die aksie.

Adrian Davidson van Savile Row Interior Design and Architecture, wat die binneruimtes behartig het (TPS.P-argitekte was vir die buitekant verantwoordelik), sê ’n deel van die opdrag was om die gebou so “deursigtig” as moontlik te maak. “Ondanks sekere akoestiese skeidings en private gedeeltes wat noodsaaklik was, is die binnekant spesifiek ontwerp sodat besoekers deel voel van dié sakereus se hoofkantoor, wat bietjie soos ’n dinamiese byenes voel. Die gebou lyk regtig oop en lig.”

Eerlikheid was ’n ander belangrike maatstaf. “Ons het rou materiale soos beton gebruik en eenvoudige houtvloere wat mooi sal verouder,” sê Adrian.

Dis ook ’n plek waar ontwerp die onbetwiste botoon voer. Die gebou is in opdrag van die eienaars, twee broers van iets in die veertig, voltooi en uiteindelik het besoekers en klante, die bestuur en die skoonmakers, ontwerpkenners met ’n kritiese oog en mense wat gewoon “weet waarvan hulle hou”, ewe veel toegang tot die ontwerpkuns, beeldhouwerke en skilderye.

Julian en Trevyn McGowan van Source het een van die broers – ’n ywerige versamelaar met ’n “ongelooflike oog” – gehelp om as’t ware kurator te speel vir sy versameling kontemporêre ontwerp.

“Die interieur vorm ’n teenstelling tussen oop, skoon ruimte en hoogs dekoratiewe ontwerpelemente in die vorm van kunsstukke deur topontwerpers van reg oor die land,” sê Trevyn. “Die eienaar is avontuurlik met ’n lekker speelse streep, en sy kunsversameling weerspieël dit.” Dit verklaar waarskynlik die lewensgroot gorilla-drankkabinet van soliede brons, ’n ontwerp van Otto du Plessis, wat die sjampanje en glase vashou.

“Hy hou van ontwerp wat ’n mens uitdaag,” verduidelik Trevyn. Die eienaar self is mal daaroor om ’n werkruimte vir homself en die werknemers te skep wat gedurig kan verander. “Kuns en mooi goed help om dinge in perspektief te plaas,” sê hy. Die mense wat hier werk, kan hulle verwonder aan ’n ragfyn linnekonsole deur Koop en Angus Taylor se reusagtige Rock Man wat lankuit lê in die tuin. Dis ook hier waar jy ’n onderstebo engel deur Beezy Bailey sal raakloop. En as jy op presies die regte plek opkyk, sal jy ’n lig met die naam “My Secret Place” deur Heath Nash sien.

“Dit gaan daaroor om ’n passie vir die lewe te hê en om die lewe te geniet. Dis avontuurlik, dis manlik en tog speels. Dis opbeurend en dit laat ’n mens sommer stukke beter voel,” sê Trevyn. Op een van Ruan Hoffmann se dekoratiewe borde is ’n ou waarheid uit die jare sestig geskryf – “You can’t always get what you want” – maar in hierdie gebou word dié uitdrukking so waar as vet op sy kop gekeer.

• Savile Row 011 234 8191, www.savilerow.co.za

• TPS.P-argitekte, 011 646 8602, www.tpsp.co.za

• Source 044 877 0719, www.source-sa.com