Skinny laMinx x Space for Life

Soos talle toekomsgerigte ondernemings in die interieurontwerp-, dekor- en vervaardigingsbedryf is Space for Life ook ’n groot voorstander van die herbruik-herskep-herdink-filosofie. Hulle spesialiteit is om Skandinawiese meubels uit die jare vyftig en vroeër – meubels wat goed ontwerp en goed gemaak is – aan ’n waarderende Suid-Afrikaanse gehoor bekend te stel.

Space for Life verkoop ook ’n reeks keramiekware en objets d’art, byvoorbeeld tafel- en vloerstaanlampe, blomvase en bakke, asook huisware soos bakke, skottels en skinkborde van hout en vlekvrye staal. Die onderneming is nie net ’n galery en winkel nie, maar bied ook ’n interieurontwerp- en dekoradviesdiens met ’n gekwalifiseerde, ervare interieurontwerper wat altyd aan diens is. Dié diens sluit in aspekte soos die ontwerp en vervaardiging van spesiale meubelstukke, ruimtebeplanning en -uitleg, tekeninge en projekbestuur.

’n Deel van die Space for Life-filosofie en -missie is om plaaslike ontwerpers, kunstenaars en handwerkers te ondersteun en geleenthede te skep om hulle werk ten toon te stel. Die winkel kombineer graag materiaal wat plaaslik ontwerp en vervaardig is, met ingevoerde ontwerperitems en wys só hoe harmonieus Suid-Afrikaanse en Skandinawiese kulture kan byeenkom en hoe relevant dié Mideeuse moderne meubelstukke steeds is, al is dit gemiddeld 60 jaar gelede ontwerp en vervaardig.

Hierdie saamwerkprojekte lei tot professionele verhoudings wat vir al die partye voordelig is. Hulle werk saam om groter bewustheid in die mark te week, veral in die uitdagende handelsomgewing, waar kreatiewe denke beslis tot kommersiële sukses bydra.

Space For Life se mees onlangse vennootskap is met Skinny laMinx, wie se materiale gebruik is vir ’n nuwe reeks – ’n toonbeeld van die winkel se saamwerkfilosofie. Ons is mal oor die nuwe skakerings en patrone wat te sien is in Heather Moore se eerste uitgebreide versameling syskermdrukmateriale met die titel Flower Dreams. Omdat haar werk ook verwysings bevat na die tipiese sterk minimalisme en ingetoë kleurpalet van retro-Skandinawiese ontwerpe, is die huwelik tussen haar materiale en Space for Life se meubels iets wat eintlik lankal moes gebeur het. Moore het spesifiek besluit om Flower Dreams by Space for Life bekend te stel omdat die onderneming haar entoesiasme vir lieflike vintage-Skandinawiese ontwerpe deel. “Wat hulle anders maak as ander winkels wat ontwerpe uit dieselfde era verkoop, is dat hulle nie geïnteresseerd is in die nostalgiese of retro-aspekte van die ontwerpe nie, maar eenvoudig van die stukke hou omdat dit pragtig en weldeurdag ontwerp is, en boonop deur ambagsmanne gemaak is.”

Flower Dreams  se gesofistikeerde vroulike kleurpalet van pienk, pruim, suurlemoen en peperment kan gebruik word om verskillende atmosfere te skep – van ’n kamer vir ’n dogtertjie tot ’n folk-geïnspireerde boudoir. En al is die reeks hierdie herfs bekend gestel, suggereer die blomme-tema iets van die lente.

Die Flower Dreams-materiaalversameling bestaan uit drie nuwe ontwerpe en ’n heruitreiking van die gewilde Orla-drukmotief:

Flower Fields

Hierdie ontwerp het ontstaan nadat Moore ’n blom uit papier geknip het, iets wat deur ’n ou Hollandse vintage-materiaal geïnspireer is en toe ’n 60’s-popgeurtjie gekry het. Flower Fields is die eerste tweekleur-motief wat deur Skinny laMinx gemaak word en is in drie kleure beskikbaar: Rosy, Penny Black en Goldenrod.

Wild Flowers

Moore het besluit om met uitgesnyde vinielplakkers spesiale muurpapier te maak vir haar nuwe ateljee se badkamer. Nadat sy vir ’n tydjie daarmee saamgeleef het, het sy besef dit is dalk die begin van ’n grootskaalse herhalende patroon wat sy al geruime in gedagte gehad het. Wild Flowers is ’n ietwat lawwe, baie speelse, sterk ontwerp wat as basis vir ’n sekere voorkoms gebruik kan word. Al is dit ook ’n tweekleur-drukmotief, lyk dit soos drie omdat die basiskleur een van die “kleure” is. Wild Flowers is in vier kleurskakerings te kry: Strawberry Plum, Lemon Plum, Strawberry Humbug en Lemon Humbug.

Pincushion

Hierdie maltrap-ontwerp is gegrond op Moore se papierknipsel van ’n speldekussingprotea, wat ’n eg Suid-Afrikaanse geur aan die versameling verleen. Pincushion is beskikbaar in Humbug en Wedgewood.

Orla

Dit was een van die heel eerste materiaalontwerpe uit die Skinny laMinx-ateljee en is in wese ’n spoggerige streepmotief. Die versameling word as’t ware hierdeur geanker en snoer die stukke saam omdat dit ook ’n omgekeerde weergawe van die motief insluit, boonop in ’n uitgebreide reeks kleure, onder meer die sagte Strawberry Pink en Lemon. SolidOrla is beskikbaar in Lemon, Strawberry, Plum, Fog en Olive.

Flower Dreams is Skinny laMinx se eerste veelkleurige drukmotiefversameling. Al die syskermdrukwerk vir die materiale word in Kaapstad gedoen op ’n stewige, veeldoelige mengsel van katoen en linne wat plaaslikg geweef is.

Lees meer by www.spaceforlife.co.za / www.skinnylaminx.com

Tags: