WOORDE Michelle Marais FOTO’S Letitia Lerm
The Good Luck Club is deel van ’n hele bende sjarmante nuwe kuierplekke in Illovo. Michelle Marais gesels met Shane Durrant van Desmond and the Tutus oor sy suksesresep en die aweregse dekor in sy nuwe noedelkroeg.
As dit by Johannesburg se voorstede kom, het Illovo lank die rol van die ongewilde stiefbroer gespeel, maar gelukkig het verskeie komkommerkoel ruimtes die laaste jaar of twee hulle deure hier oopgemaak. Een hiervan is The Good Luck Club, en aan die stuur staan ’n egpaar wat glo ’n mens moet self pret hê terwyl jy prettige goed vir ander mense uitdink.
Shane en Angie Durrant is allermins vreemdelinge in die buurt. Hulle besit reeds ’n hele paar jaar ’n manjifieke klein koffiewinkel, Wolves, wat veral bekend is vir sy rooi fluweelkoek. Maar nou het die voorvatter van Desmond and the Tutus en sy vrou ook die ruimte langsaan gekoop en dit in ’n aweregse noedelkroeg verander.
Michelle: Illovo het die afgelope paar jaar in ’n taamlik gesogte buurt ontpop. Het julle vermoed dit gaan gebeur voor julle ’n onderneming hier begin het?
Shane: Ons het ingetrek net toe dinge rooskleuriger begin lyk het vir Illovo. Daar het nog altyd ’n magdom jong kreatiewe mense hier gewoon en dit was half jammer dat die buurt nie ’n sypaadjiekultuur gehad het wat almal kan geniet nie. Ek het altyd gedink dis net ’n kwessie van tyd – al wat nodig was, is die regte mense wat die regte dinge doen.
Wolves en The Good Luck Club is albei baie uniek. Hoe gaan julle te werk om te besluit hoe die interieur van ’n winkel of eetplek moet lyk?
Ek en Angie het albei by advertensie-agentskappe gewerk waar ons gedurig met idees vorendag moes kom vir ander mense. ’n Deel van dié werk is natuurlik om te aanvaar dat van jou idees afgewater of heeltemal verwerp sal word omdat dit te wild is, maar gelukkig is ons nou ons eie kliënte en ons kan self al die besluite neem! As ons dus besluit ons wil ons eie muurpapier ontwerp met ’n herhalende patroon van ’n kat met ’n pluiskeil op sy kop, dan doen ons dit. Of as ons ’n reuse-katkop buite wil sit pleks van ’n bord met ons logo, dan doen ons dit. Dit gaan uiteindelik oor ’n kombinasie van wat die ruimte nodig het en ’n paar mal idees wat ons eenvoudig gedink het pret sal wees.
Waarom het julle besluit om saam met Nicholas Christowitz te werk om die korporatiewe identiteit vir The Good Luck Club te skep, en hoe voel julle oor die resultaat?
Nic is ’n goeie vriend van ons en ’n fantastiese jong ontwerper. Angie en Nic werk ook dikwels saam, en daarom was dit eintlik nie snaaks om hom weer betrokke te kry nie. Omdat ek en Angie albei totale beheervrate is, was ons baie nou betrokke by die ontwikkeling van die korporatiewe identiteit. Ons het dikwels weerskante van Nic se skootrekenaar gestaan en goed kwytgeraak soos “ag, gee net die muis hier” of “groter, groter, ’n bietjie meer links”. Ons het ten einde laaste met ’n gawe logo vorendag gekom wat alles is wat dit moes wees – aweregs, vrolik en ’n klein bietjie Japannees.
Wanneer julle ontwerpelemente, versierings en meubels soek, hoe belangrik is dit om aan jou eie smaak getrou te bly, of moet ’n mens probeer om ook die jongste trends te inkorporeer?
Ons hou van ’n kombinasie van die twee, maar voel dit is die belangrikste om jou instink te vertrou. Ons is ook mal daaroor om ons vriende betrokke te kry. Ons tafels is byvoorbeeld gemaak deur Pedersen & Lennard, wat my neef se meubelontwerpmaatskappy is.
Dit is ’n inspirasie om twee jong mense te sien wat sukses behaal met hulle ondernemings. Wat is die Durrants se suksesresep?
Toe ons met Wolves begin het, het ons eintlik nie ’n idee gehad waarmee ons doenig was nie, maar ons het geweet ons doen dit om pret te hê. Ons wou ’n ontspanne uithangplek vir die Illovo-gemeenskap skep, ’n soort gemeenskapsentrum. Dit lê aan die hart van ons filosofie: Om goed te maak wat vir ander mense prettig sal wees, terwyl jy self ook pret het in die proses.
The Good Luck Club is geleë by Corlett-rylaan 3 Corlett Drive, Illovo, Johannesburg. Dit is oop vir middag- en aandete van Dinsdae tot Saterdae en op Sondae net vir middagete. Besprekings word aanbeveel. Kontak hulle by 011 447 3816, hi@thegoodluckclub.co.za, thegoodluckclub.co.za.

