WOORDE: Remy Raitt FOTO’S: Fay Jackson
’n Kontemporêre plaaskombuis het onlangs sy deure geopen aan die bopunt van Kloofstraat. Jy het waarskynlik al gehoor hoe fantasties die kos is, maar ons dink die interieur van Tamboers Winkel is óók iets om oor opgewonde te raak.
Bo die voordeur lig ’n bordjie met goue letters jou in: “Johannes Theobalt Halting van Niekerk: Local purveyor of quality goods”, en as jy eers instap en die afgevlakte vloer, lieflike houtrakke tot teen die plafon en die warm, oop beligting sien, besef jy die gehalte het nie net op die kos betrekking nie, maar op elke stukkie detail tussen die vier mure van dié knus restaurant en deli.
’n Turkoois muur aan die agterkant van die oop kombuis is ’n parmantige teenvoeter vir die knus atmosfeer wat die magdom hout in die res van die winkel skep. Maar die hout is nie net daar om te bewonder nie. Vintage-ornamente en potte vol inheemse blomme gee die huislike gevoel ’n verdere hupstoot, net soos die klassieke uitstalkabinet wat met keramiek-tafelware gevul is. Die handewerk van die kombuis word pragtig uitgestal op die muur van houtrakke – dit maak inkopies op die sentrale tafel kinderspeletjies terwyl jy weglê aan jou kos.
Kyk op en verwonder jou aan die verruklike rangskikking van brons ringe en hangende gloeilampe wat glans verleen, maar ook nie so ornaat is dat Tamboers Winkel ’n pretensieuse gevoel kry nie. Die eienaar, Theo van Niekerk, het die perfekte balans tussen dekadensie en huislikheid gevind – iets wat sy winkel ’n alledaagse plesier maak.
Ons het met Theo gesels om meer oor sy restaurant en deli uit te vind.
VISI: Hoe lank doen jy al sake?
Theo: Die winkel het sy deure op 2 Junie 2012 oopgemaak.
Het enigiets spesifieks as inspirasie gedien vir die interieur van die restaurant?
Ek is op die Oos-Vrystaatse dorpie Ficksburg gebore. My grootouers het daar ’n plaas gehad met die naam Vorentoe. Ek het die meeste naweke daar deurgebring en was mal oor hulle kombuis. Ek wou daardie warm, vriendelike, knus atmosfeer herskep.
Het jy self die ruimte ontwerp?
Marcii Goosen en haar span het gehelp om die visie te verwesenlik. My goeie vriende Gareth McArthur en Niklaus Lutzeler was onderskeidelik vir die naamborde en rakke verantwoordelik.
Wat is volgens jou die belangrikste dinge wat ’n mens moet oorweeg as jy ’n winkelruimte ontwerp?
Ek is g’n ontwerper nie, maar ek dink kleur is die eerste ding wat jou opval wanneer jy by enige ruimte instap. Dit moet verwelkomend wees. Dit is ook wat ek met Tamboers Winkel wou regkry: Die kos is vars, organiese tuisgekookte maaltye en daarom moes die dekor mense dadelik laat welkom voel.
Voor ons groet: Wat dink jy gaan Kaapstad se titel as die Wêreld-ontwerphoofstad in 2014 vir die Moederstad beteken?
Ek voel absoluut geseënd om in Suid-Afrika gebore te wees; dit is ’n beeldskone land met ’n magdom talent. Die titel gaan ons help om al hierdie ongelooflike talent in die stad ten toon te stel.
Besoek Tamboers Winkel by De Lorentzstraat 3, Tuine, Kaapstad.

