FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Jacquie Myburgh Chemaly
Die neutrale skakerings van grys, bruin en swart in hierdie Forest Town-huis versinnebeeld die nuwe soort minimalisme: Glans gaan nie meer oor uitspattige ontwerpe nie, maar eerder oor outentieke eenvoud.
Toe Shaun Baker die argitek Bryan Dunstan van BD Studio ontmoet om oor die planne vir sy nuwe huis te gesels, het hy ’n reghoekige stuk grys klip saamgevat. Die skoon lyne en neutrale kleur van dié klip het die belangrikste bron van inspirasie geword vir die rustige tuiste waarin hy nou woon.
Shaun, een van drie vennote in die nuwe Johannesburgse materiaalmaatskappy George Baker, was uit die staanspoor ook eerlik oor sy bewondering vir een van die mees ikoniese geboue van die moderne beweging, Ludwig Mies van der Rohe se Barcelona-paviljoen.
Die oorspronklike paviljoen met sy lae dak, hope marmer, en teëls van travertyn is in die jare twintig, skaars ’n jaar nadat dit gebou is, in ’n brand verwoes. In die jare tagtig is dit herbou, en vandag is die plek ’n toonbeeld van rus en vrede, veral danksy die eenvoudige lyne en kwistige gebruik van marmer en glas.
Bryan het dit reggekry om dieselfde atmosfeer te skep in Shaun se besadigde huis van marmer, glas en beton. Die huis is so kompak soos ’n woonstel, maar terselfdertyd oop en lig met die reghoekige leefgedeelte knus tussen ’n lang, swart swembad en ’n kalmerende visdam. As die deure oopstaan, voel die leefruimte pure Barcelona – dis asof die hele huis ’n koel stoep word wat die buitewêreld innooi.
Die skeepskombuis, deur die Italiaanse maatskappy SCIC, is nog ’n koel, beskeie ruimte waar alles agter wit deure skuil – en dis slim weggesteek in die leefgedeelte.
Hoewel die leef-en-eetkamermeubels minimalisties is, is dit glad nie die soort strak minimalisme van die jare tagtig nie. Shaun het saam met die binneontwerpfirma Mezzanine in Greenside gewerk en ook heelwat van sy eie materiaal in die huis gebruik. Die ottoman, banke en rusbank buite op die stoep is oorgetrek in sagte skakerings van grys gewaste linne, terwyl twee lêstoele gestoffeer is in ’n Oosterse materiaal van Jim Thompson (die materiaal word deur T&Co ingevoer en is by George Baker in Johannesburg beskikbaar).
‘n Eie reeks materiaal
Shaun en sy vennoot Mandy Griffiths het jare lank in die materiaalbedryf gewerk en in Mei vanjaar George Baker Furnishing Fabrics and Wallcoverings begin om in ’n “baie spesifieke behoefte te voldoen”. “Baie goedkoop en baie duur materiaal is oral te kry, en ons het besluit om op die nismark tussen die twee te fokus. Die reaksie is oorweldigend,” sê Mandy.
Al die materiaal word ingevoer, maar onder die George Baker-etiket – én teen Suid-Afrikaanse pryse – verkoop. Die voorkoms en gevoel herinner baie aan die styl van Shaun se huis: natuurlike katoenstowwe, gewaste linne en Italiaanse katoenfluweel in ’n neutrale kleurpalet en met die minimum glans.
Dieselfde sober skakerings maak in die slaap- en badkamers van die huis hulle opwagting. Die twee slaapkamers is bo-op mekaar gebou aan die oostekant van die huis, met ’n sweeftrap van eikehout wat die twee verbind. Marcus Pieterse van Make het die houtwerk binne behartig, wat sorg vir ’n tikkie warmte tussen al die marmer en glas.
Die buitemure is met Tiroolse pleister afgewerk wat op ’n natuurlike manier sal verouder. “Ek wou hê die gebou moet poëties verouder om by die erf in te skakel,” sê Bryan, die argitek wat ook William Kentridge se ateljee in die middestad ontwerp het.
Die skoon ruimtes in die gebou word moontlik gemaak deur die enorme onsigbare pakkamer onder die huis. Die huis is bo-oor ’n ou swembad opgerig en Bryan het voorgestel hulle verander die hele swembad in ’n kelderverdieping, wat dit vir Shaun moontlik maak om op ’n outentieke, minimalistiese manier te lewe.
• George Baker: 011 024 2747, 083 453 8788, www.georgebaker.co.za
• BD Studio Architects: 011 482 7942, www.bdsa.co.za
• Make: 011 614 9900, www.makefurniture.co.za
• Mezzanine: 011 888 3986, www.mezzanineinteriors.co.za

