Sodra Nicola de Jager een van haar Calavera-skedels voltooi het, moet die kunswerkvir ’n rukkie by haar “woon” – todat sy heeltemal tevrede voel met dit wat sy geskep het.
Haar pragtige ontwerp bewys dat die dood tóg ligsinnig kan wees en ons kon dit nie weerstaan om te glimlag vir haar kelurvolle, amper hipnotiese voostelling van die ‘Calavera’ (Spaans vir ‘skedel’) nie. Haar pragtige kleurvolle stukke dra hope simboliek en is geïnspireer deur die Mexikaanse Dag van Die Dood. Nicola ontwerp met die oë as fokus en beginpunt; daarna versier sy die stuk met krale en steekwerk.
Haar ontwerpstyl volg organises lyne, bont kleure en ’n voorliefde vir die eksperimentele proses. “My styl bly verander en ek is nou op ‘n punt wat ek dinge graag na ’n verder vlak wil bring,” sê Nicola.
Calavera is haar eerste reeks en sy wil volgende graag ’n Polinesiese- of ‘tribal’ reeks in die toekoms aanpak. Die Calaveras se styl is ooglopend vroulik en hart-, skoenlapper- en blommotiewe wat ’n lewendige gevoel uitstraal. “Ek sou graag wou dink die verskil tussen my ontwerp en ander skedelontwerpe kom deur in die positiewe terugvoer wat ek vanaf die publiek af kry,” sê Nicola.
’n Enkele stuk neem tot ’n maand om te voltooi. Nicola werk vanaf haar tuinwerkswinkel in Kaapstad, maar geniet dit om haar borduurwerk orals waar sy gaan saam te neem. Sy is mal daaroor om direk met kliënte te werk en so hul persoonlikhede in die ontwerp in te bring.
Wat materiale betref gebruik sy hoofsaaklik handgekleurde merino wol vilt, asook vilt gemaak van herwinde plastiek. Sy verkies DMC Borduurgaring en het onlangs begin om op papier te borduur. “Ek gebruik ook hitte-afdruk viniel op die vilt vir bietjie afwisseling,” sê Nicola.
Sy raam self haar kunswerke en het ook onlangs begin eksperimenteer met lasersnywerk op hout om ’n natuurliker effek te verkry. Om ’n grafiese ontwerp agtergrond te hêhelp baie, vertel sy aangesien sy maklik met verskeie media kan werk en ontwerpbenaderinge toepas.
Die grootste invloed op haar werk is haar voorliefde vir tatoeërmerke. “Ons hele leefstyl funksioneer rondom hierdie kuns. My man het ’n volledige ‘bodysuit’ en ek moet nog net my onderste gedeeltes van my bene laat doen voordat ek ook heeltemal bedek is,” sê Nicola. “Tattoeërmerke fasineer my. Dit dra ongelooflike kulturele betekenis regoor die wêreld en laat mens deel van ’n groep of ‘stam’ voel.”
Binne ontwerperkringe het Nicol haarself beslis bewys as ’n waardige lid van die kreatiewe wêreld. Haar kunswerke is beskikbaar van A5 tot A2 by die Kalk Bay Moderne Gallery, Haas, Salon 91, Grande Provence, die Art South Africa Magazine Shop en Hadeda. Ons sien ook uit daarna om haar weer by die volgende Design Indaba raak te loop.
Vir meer inligting: www.calavera.co.za

