FOTOS: Smac-Gallery | WOORDE: Alma Viviers
Reg oor die wêreld neem mense die breipenne op en verander dié handwerk-aktiwiteit wat ’n mens aan truie en serpe laat dink, in ’n fyn ontwerp-en-kunsvorm.
Die kunstenaar Barend de Wet gebruik hekel- en breiwerk om boeiende kunswerke van wol te maak – stukke wat die grens tussen handwerk en kuns laat vervaag. In sy jongste tentoonstelling, Green, by die Smac-kunsgalery op Stellenbosch, neem wol verskillende ge- daantes aan, waaronder skilderye, beeldhou-werke (links bo) en installasies.
Vir sy skilderye brei hy los stukkies van akrielwol in helder kleure – óf met die hand óf met ’n breimasjien – en gebruik dit dan op die doek soos verf.
“Deur die proses waarin ek stukkies brei-werk oor my ou geverfde skilderdoeke trek, word dit iets interessants en nuuts, want jy kry verskillende digthede, teksture en lyngehaltes,” verduidelik hy. “Vir my beteken breiwerk jy werk met een lang lyn, en die resultaat is ’n baie ingewikkelde lynskets.”
Die heel interessantste is dalk die drie beeldhoustukke met die titel “Insincere Objects with Insincere Names” (foto bo). Die oorspronklike wolkonstruksies is in brons gegiet en toe met emalje geverf, en die resultaat is ’n fassinerende kontras tussen die verwagting van sagte wol en die harde gietstukke.
VISI voorsien dat werke van wol in 2011 ’n nuwe dimensie gaan aanneem.
• Smac Art-galery 021 887 3607, www.smacgallery.com.
Skyfievertoning
Vir nog wolontwerpe gaan na bit.ly/a8shQq.

