Zulu Lulu. : Hierdie ronde potte wat deel vorm van die versameling in die Zulu Lulu Ceramic Boutique by Piggly Wiggly is deur tradisionele bierpotte (ukhamba) geïnspireer. Elkeen het ’n unieke patroon omdat dit invididueel in ’n rookvuur-put gebak word.|
Howick-waterval. : Volgens die plaaslike legende woon inkanyamba, ’n groot slangagtige gedierte met die kop van ’n perd, in die waterpoel net onder die Howick-waterval. As die weer mooi is, kan jy gerus die afdraaipad vat en jou bene gaan rek.|
Die Midmar-dam. : ’n Gawe plek om al die eetgoed wat jy aangeskaf het uit te haal en ’n piekniek te geniet, maar daar is ook kampplekke en basiese chalets. Die dam is naby Howick en is bekend omdat een van die wêreld se grootste opelug-swemsaamtrekke hier aangebied word.|
Vat dit rustig. : Dis nie net die lui toeriste en digte mis wat ’n stadiger pas noodsaak nie — die grootste deel van die Midlands bestaan uit plase, en daarom is losloper-beeste en ander diere ’n algemene gesig.|
Laat die speke sing. : Talle van die winkels langs die R103 spesialiseer in landelike dekor. Hierdie mooi geroeste speekwa pronk buite The Last Outpost, ’n klere-en-4x4-plek in Mooirivier.|
Stadig oor die klippe. : Nog ’n rede waarom jy jou by die Midlands se ‘slow’-beweging moet aansluit, is die verskeidenheid plaasvoertuie wat jy op die paaie sal raakloop. Ry stadig — dit gee jou kans om die skouspelagtige omgewing in te drink.|
Soek die bloedrooi trekker. : ’n Antieke trekker buite die Piggly Wiggly Company in Leeurivier. Dit is die nieamptelike hoofkwartier van die Midlands Meander en ’n lekker aftrekplek met ’n restaurant, deliwinkels en ’n verskeidenheid dekor-, kuns-, en handwerkwinkeltjies.|
Things We Love. : Hierdie antiekware-en-snuisterywinkel in Nottinghamweg verkoop enigiets van aweregse versamelgoed en skilderye tot keramiekwerk en outydse lekkergoed.|
Lisa Johnston het haar kamera en notaboek saamgevat op ’n uitstappie na die skilderagtige en kunstige Midlands Meander.
KwaZulu-Natal se Midlands Meander het al berge versit sedert die roete in 1985 gestig is. Wat begin het as ’n kaart, sommer op bruinpapier gedruk, waarmee sewe kunstenaars hulle kuns wou bemark, is vandag een van die land se gewildste toerismebestemmings.
Dié eens slapende toerismeroete, wat strek van Pietermaritzburg in die ooste en die uKhahlamba-Drakensberg-bergreeks in die weste, is steeds die ene landelike sjarme, maar spog nou met 210 amptelike lede wat wissel van kunstenaarsateljees en restaurante tot verblyfplekke en amper enigiets tussenin. Al dié dinge maak ’n rustige reis deur die plaaslandskap aansienlik aanlokliker as die woelige N3 wanneer jy die slag tussen Johannesburg en Durban moet reis.