WOORDE Georgie Chennells FOTO’s Casey Pratt van PhotoCase Photography
“Samewerkende verbruik” – die verskuiwing in verbruikersgedrag om goed nie te besit nie maar slegs toegang daartoe te hê – is volgens Time een van die tien idees wat die wêreld gaan verander. Lauren Wallet van A Good Exhange in Durban vertel meer.
Rachel Botsman, ’n woordvoerder vir die Collaborative Consumption-beweging, was een van die sprekers by die Green Building Council of South Africa se jaarlikse saamtrek wat verlede jaar in Kaapstad gehou is. Sy het die konferensiegangers oorrompel met haar aanbieding oor dié nuwe ekonomiese model wat tegnologie inspan om verbruikers aan te moedig om te deel.
Die tydskrif Time beskou “samewerkende verbruik” (“collaborative consumption”) as een van die tien idees wat die wêreld gaan verander. Dit beskryf die verskuiwing in die waardes van verbruikers om goed nie noodwendig te besit nie, maar wel toegang daartoe te hê. Volgens die konsep lei ruilhandel, uitleen, uitruil en deel tot ’n meer vervullende en volhoubare lewensgehalte: Minder geld verwissel van hande, goedere word meer volhoubaar gebruik en sosiale netwerke word versterk, om maar ’n paar van die voordele te noem.
Hoewel ruilhandel so oud soos die berge is, ruim die gebruik van tegnologie die geografiese beperkings van die verlede uit die weg en betrek reuse-verbruikersnetwerke. Couchsurfing en Zipcar is enkele voorbeelde van hierdie internasionale sakemodel.
Danksy Lauren Wallet, wat Rachel verlede jaar tydens haar Suid-Afrikaanse besoek ontmoet het, is die konsep ook besig om plaaslik vastrapplek te kry. Nadat Lauren ’n onderhoud gevoer het met Rachel en die konferensie-meesterklas bygewoon het, het sy ongelooflike steun van Collaborative Consumption se Facebook-groep gekry nadat sy besluit het om ’n Suid-Afrikaanse saamtrek te reël wat op die beweging se waardes gegrond is.
A Good Exchange is in November 2012 bekend gestel: Dié Suid-Afrikaanse platform bevorder die idee van mededeelsaamheid in die kreatiewe bedryf deur middel van tegnologie. Twee aanlyn-ruilhandelsaamtrekke is reeds aangebied en die eerste “lewendige” ruilhandelbyeenkoms is ook onlangs in Durban gehou. Die saamtrek is gereël en aangebied deur Lauren en haar sakevennoot, Terry Angelo, by Upstairs on Florida Road en verskeie verskaffers van produkte en dienste in die plaaslike kreatiewe bedryf het daaraan deelgeneem.
“Om af te skop het ons dit klein en niche gehou: Ons het eenvoudig ’n paar van ons gunsteling- kreatiewe mense gekies en die ruilhandel-lokaal daarvolgens ingerig,” vertel Lauren. Onder die produkte wat beskikbaar was, tel verskeie kleiner meubelstukke, huisdekor, kuns, vintage-artikels en klere. Dienste soos fotografie, kreatiewe konsultasies en visitekaartjie-drukwerk was ook te ruil.
“Dit werk soos volg: Al die produk- of diensverskaffers bring goedere ter waarde van X en het dus X om op ander deelnemers se aanbiedinge te bestee.” In kort: ruilhandel, maar gefasiliteer sodat dit gelyktydig en op grootskaal kan plaasvind.
“Die hooffokus van A Good Exchange is aanlyn, maar die ‘lewendige’ saamtrek in Durban was ’n prettige manier om die konsep te verduidelik. Ons gaan ook uitbrei na Kaapstad en Johannesburg en sal uiteindelik reg wees vir handel op enige plek in Suid-Afrika,” sê Lauren.
Jess Binns, die dryfkrag agter die Durbanse interieurontwerp-onderneming Hector and Bailey wat ook “upcycling”-projekte behartig, het die geleentheid bygewoon en deelgeneem met haar aanbod van ’n tafel en kleiner dekoritems.
“Ruilhandel maak sin as jy ieder geval van plan was om geld op daardie items uit te gee, en veral as jy iemand in die kreatiewe bedryf is wat belang stel in plaaslike ontwerp en graag ander ontwerpers wil ondersteun,” sê sy. “Dit was ook baie pret om met ’n glas wyn in die hand saam met ander ontwerpers te kuier wat in presies dieselfde bootjie as jy is.”
Vind uit hoe jy betrokke kan raak by die saamtrekke of aanlynprojekte by www.agoodexchange.net of maak ’n draai by AGoodExchange op Facebook.

