Plaasvars in die Waterfront

WOORDE Mary Anne Constable FOTOS Jan Ras


Read in English.

Die afstand tussen grond en bord kan nie veel korter wees as by die nuwe Moyo-restaurant in die V&A Waterfront nie. Hier sorg ’n stadstuinstelsel dat smulpape kan weglê aan slaaiblare wat letterlik voor hulle oë gekweek word – boonop gaan daar binnekort selfs tuisgekweekte forel te proe wees!

Al Moyo se restaurante word ingerig op plekke wat mooi, uniek en selfs ikonies is, sê Dries van der Merwe, groep-handelsmerkbestuurder van die Moyo-groep.

Die Moyo in die V&A Waterfront is geen uitsondering nie. Dit is geleë langs die historiese Kloktoring (wat geel geverf is in afwagting op Kaapstad se termyn as Wêreld-ontwerphoofstad vir 2014) en kyk uit oor die kabbelende water van die hawe van die V&A Waterfront. Dit was die perfekte inspirasie vir die argitek Tsai van Tsai Design Studios se ruimtelike ontwerp, wat op ’n “Afrika-opelugmark” gebaseer is.

’n Wit staal-arkade, gedeeltelik onderdak, is opgerig oor die terras buite die voorkant van die restaurant se hoofgebou. Onder dit is verskeie klein versierde markkosstalletjies op ’n spontane en speelse manier versprei om ’n (letterlik) ryk Afrika-geur te verseker. “Afrika het talle wonderlike stories om te vertel,” sê Dries, en die mark skep ’n platform waar hierdie verhale tot uiting kan kom. Die tong-in-die-kies naam vir die seekos-en-garnaalstalletjie is byvoorbeeld District 9.

Die Afrika-mark is uitgebrei om ook ’n Afrika-plaas te huisves: Jy sal gereeld die sjef en kombuispersoneel gewaar wat kom vars roketblare en kruie oes uit die “groen” mure wat deur ’n akwaponiese stelsel bedryf word. Voedselsekerheid is ’n belangrike kwessie op die vasteland, en omdat die Moyo-handelsmerk altyd klem lê op sy Afrika-wortels, is dit toepaslik dat dié saak aangeroer word.

Die akwaponiese stelsel kombineer vis, mikrobes, wurms en groente, verduidelik David Masureik van New South Energy wat betrokke was by die ontwikkeling van hierdie simbiotiese ekosisteem waarin die visafval voedingstowwe aan die plante verskaf en omgekeerd. “Ons gaan forel kry en dit binnekort begin gaarmaak!” sê Dries. Akwaponiese stelsels vir tuisgebruik is ook teen ’n billike prys beskikbaar – beskou dit as ’n funksionele (en baie smaaklike) potplant.

As dit volgens jou nog nie groen genoeg is nie, is daar ook die dakpanele van die arkade wat nie net skaduwee verskaf nie, maar die son se strale inspan om energie te oes. Dié energie word vir die markstalletjies gebruik. “Ons eksperimenteer met die idee om energie doeltreffend in ’n stedelike omgewing te oes,” sê Tsai. Dié fotovoltaïese panele (PV) produseer sowat 98 KwH per dag, wat in die eerste jaar tot ’n besparing van R54 000 sal lei. Digitale skerms onder die panele sal vir besoekers wys hoeveel energie in werklikheid gespaar word. Die hele idee is dat dit ’n leersame ondervinding moet wees.

Tsai beklemtoon die projek is ’n eksperiment wat met verloop van tyd ontwikkel word. Die Moyo-handelsmerk is “soos ’n plant”, voeg Dries by. “Ons groei voortdurend en stagneer nooit. As iets nie werk nie, kyk ons weer daarna en verander dit.” Saam met die speelse en aweregse aanslag van die stalletjies sorg hierdie stadsplaas nie net vir gesonde goedheid vir besoekers en die planeet nie, maar ook ’n stewige porsie pret!

Vir meer inligting oor die Moyo by die V&A Waterfront, klik hier of bel 087 351 1121.

Lees hier nog VISI-artikels oor stedelike plase.