Mooi en goeie boeke vir jou en gaste om te geniet.
PERFECT CURTAINS: SMART SOLUTIONS, FABULOUS FABRICS AND INSPIRING DESIGNS DEUR STEPHANIE HOPPEN (Clarkson Potter, R495)
Die bekleding van vensters is ’n kuns wat vele as vanselfsprekend beskou. Stephanie Hoppen, dekor-ghoeroe en eienaar van ’n Londense kunsgalery, wys meer as 200 verskillende style en idees vir vensters van reg oor die wêreld. Dit sluit in die ongelooflike werk van die plaaslike maatskappy African Sketchbook, wat onlangs betrokke was by die opknapping van die Cape Grace-hotel. Haar slim wenke en tegnieke word met hope foto’s geïllustreer. As gordynkappe, voerings, lae, rande en afwerking jou opgewonde maak, is dié boek vir jou.
HOME: NEW DIRECTIONS IN WORLD ARCHITECTURE AND DESIGN (Briza, R599)
Ons is mal oor Home. Dié koffi etafelboek, saamgestel deur prof. ’Ora Joubert, Chris Abel en Michael Webb, is ’n insigryke verkenning van ons intieme leefruimtes; van dit wat ’n huis vir verskillende mense beteken. Deel 1 kyk na huise uit verskillende tye en kulture – van Maja-hutte tot Bedoeïene-tente, en deel 2 kyk na 120 huise wat die afgelope dekade oor die wêreld voltooi is – en daar’s ook verskeie plaaslike huise.
PRESERVING A HOUSE deur Jos Baker (R220)
Preserving a House is die storie van Jos Baker en haar oorlede man, David, se pogings om Klein- Zoar op te knap. Dié 300 jaar oue kothuis was glo die blyplek van Wolraad Woltemade, wat in 1773 14 seemanne van die sinkende De Jonge Thomas af gered het. Die egpaar se ervarings word vervleg met historiese feite en resepte vir Kaapse geregte. Dit word versprei deur die Nasionale Seereddingsinstituut om geld in te samel. Om een te bestel, bel Meriel Bartlett by 021 434 4011 of e-pos na merielb@searescue.org.za (R235, posgeld ingesluit).

