FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Stephen Hobbs
Selfs die internasionale ontwerpbybel “Wallpaper” is in vervoering oor die kunstenaars se verleidelike geometriese skilderye.
Die visuele kunstenaar Mark Erasmus is die derde geslag in ’n familie van verfspesialiste, en die wêreld van sy produksie ontvou in vele dinge – van sy oupa se vroeë “resepteboek”, wat sorgvuldig in sy verfwinkel gebêre word, tot ’n versameling standaard- chemiese samestellings vir spesifi eke verfsoorte, viskositeite en kleure.
’n Besoek aan sy ateljee beteken jy stap deur dié winkel na ’n agterkamer. Hier tref jy Mark aan met ’n druppende verfkwas in sy hand by die boonste rand van ’n MDFbord. Van dié posisie af bou hy versigtig ’n klein poeletjie waterbasis-akrielverf op, op ’n oppervlak van nie meer as 5 mm breed nie. Swaartekrag neem oor… en ’n perfek beheerde vloeistofl yn kruip stadig teen die bord af. Die lyn eindig in ’n stalagtiet-agtige druppel aan die teenoorgestelde kant. As dit droog is, word die bord gedraai en die proses herhaal, totdat die bord bedek is met ’n uitgebreide rooster van lyne wat in- en oormekaar loop.
Mark se inspirasie kom van die skynbare gekheid en sensitiwiteit ten opsigte van kleurgebruik wat ’n mens in Francis Bacon se werk sien, asook die verfdrupmasjiene van die Amerikaanse multimedia-kunstenaar Roxy Paine. Hy skep en bewoon ’n wêreld waar ’n tegnies presiese kennis van die samestelling van akrielverf en kleurteorie saamleef met ’n metode van beeldproduksie wat op orde én chaos staatmaak om estetiese perfeksie te bewerkstellig.
Wanneer ’n mens die geleentheid kry om met Mark te gesels oor sy werk, verg dit jou volle aandag, want hy verwag net soveel van die luisteraar as van homself en sy eie artistieke doelwitte. In die kunswêreld is so ’n aanslag verfrissend, aangesien min beoefenaars so in beheer is – en soveel kennis het – oor die inherente meganika en materiaal-aspek van hulle werk. In hierdie opsig inspireer ’n beter begrip van Mark se werk jou om jou eie dinge met ’n soortgelyke passie aan te pak.
Dit is belangrik om hier te noem dat ’n kunstenaar wil hê sy of haar werk moet behoorlik gelees en oorweeg word. Deel hiervan behels dat ’n mens mooi moet kyk hoe die kunswerk aan mekaar gesit is – formeel én konseptueel. Tog is mense geneig om Mark se werk as dekor te beskou. Maar ’n dekorstuk is dikwels net ’n bykomstigheid, terwyl Mark se skilderye byna altyd ’n kragtige estetiese teenwoordigheid het.
In sommige kringe van die kunswêreld hou mense vol die skilderkuns is dood. In die digitale era, meen hulle, is dit ’n oudmodiese kunsvorm. Tog, waar Mark se werk ter sprake is, kan ’n mens aanvoer die kunstenaar se wetenskaplike benadering tot sy medium se vermoëns bied ’n ongeloofl ik suiwer verkenning van vorm – ’n duidelik apolitieke posisie in ’n land waar soveel van ons kontemporêre kuns deur maatskaplike kommentaar oorheers word.
• Mark Erasmus colourlibrary@gmail.com

