Mads Nørgaard, fotograaf

Mads Nørgaard is ’n talentvolle Deense fotograaf wat die afgelope vyf jaar in Kaapstad woon en werk. Sy fokus op liminale ruimtes het VISI se aandag getrek, veral met stedelike beplanning en ontwerp wat in die kollig is sedert Kaapstad as die Wêreld-ontwerphoofstad vir 2014 aangewys is. Dylan Culhane het met hom gesels.

VISI: Hoe het jou reis met fotografie begin? 

Mads Nørgaard: My eerste kennismaking met fotografie was in die kunsklas op hoërskool toe ons ’n opdrag oor tyd en ruimte moes voltooi. Ek het gefokus op hoe ys organiese materiaal vir ’n baie lang tyd kan vries en het toe die eerste keer fotografie as medium ingespan. Eers ’n hele paar jaar later het ek besluit om ’n fotograaf te word. Ná my skoolloopbaan het ek as ’n vrywilliger van die Deense organisasie Dancape ’n draai in Kaapstad gemaak en by ’n skool vir kinders met serebrale verlamming gewerk. Ek het in daardie vier maande totaal verlief geraak op die stad en besluit om te bly… ek is nou al vyf jaar hier. Ek het by City Varsity studeer onder leiding van die fotograaf en lektor Jenny Altschuler. Jenny se persoonlikheid het nie net my belangstelling in die genre sosiale dokumentêr geprikkel nie, maar ook lig gewerp op die artistieke en persoonlike uitdrukking wat moontlik is met fotografie.

 

Wat omtrent dokumentêre fotografie spesifiek spreek tot jou?

Suid-Afrika het nog altyd ’n ryk tradisie van dokumentêre fotografie gehad. Die dokumentering van weerstand en die wreedsheid van die apartheidregime het wêreldwyd aanklank gevind. Fotograwe het ’n aktiewe rol gespeel om die opstand én die veranderinge in hierdie abnormale samelewing te dokumenteer. Ek is definitief sterk beïnvloed deur hierdie fotograwe en hul foto-essays – David Goldblatt, Guy Tillim, Santu Mofokeng, Omar Badsha en ’n hele paar ander.

Die vermoë van fotografie om te dokumenteer en waarheid vas te vang lei altyd tot interessante gesprekke. Volgens my sal ’n foto altyd ’n weerspieëling wees van die fotograaf se gedagtes. Ek was nog altyd geïnteresseerd in politieke en maatskaplike kwessies en hoe ons as mense binne ons samelewing funksioneer. Strukture en ruimtes is dikwels ’n goeie aanduiding van die toestand waarin ’n spesifieke samelewing en sy mense verkeer.

 

Jou werk omvat twee baie duidelike style: gesigte en ruimtes. Jou portretstudies ongerep en bemagtigend, terwyl jou dokumentêre werk aansienlik meer grinterig voel en vrae oor die maatskaplike orde en stedelike ontwerp laat onstaan. Is dit ’n regverdige beskrywing?

Dit is ’n regverdige beskrywing, ja, want dit is twee baie uiteenlopende genres. Ek probeer altyd die onderwerp of portretstudie in ’n omgewing plaas wat daaraan waardigheid verleen. Die grinterigheid is weer afkomstig van die verskillende ruimtes wat dikwels gedokumenteer word in ligtoestande of situasies word wat ’n sekere rowwe, onafgeronde gevoel daaraan verleen. Dit is ’n reuse-taak om ontwerp te verbind met die maatskaplike kwessies en geskiedenis van Suid-Afrika, maar ek geniet dit om hierdie verbintenisse in my werk uit te lig.

 

Ons is geneig om te glo sosiale dokumentêre fotografie bevat ’n “boodskap”. Is dit ook met jou werk die geval?

Wel, my reeks “Lower Main Road, Salt River” handel oor die verskeidenheid winkels en klein ondernemings in Observatory en Soutrivier wat mense moontlik as verstar – stagnant – beskou. Baie van die barbiers-, ysterware- en klein kruidenierswarewinkels word deur buitelanders besit en die Kaapstadse metropolisie en amptenare van die departement van binnelandse sake voer dikwels klopjagte hier uit op soek na onwettige produkte, dwelms en onwettige immigrante. Die foto’s lewer beslis kommentaar op xenofobie en immigrasie, wat baie netelige kwessies is in Suid-Afrika. Ek fokus ook dikwels op kinders en die omgewing waarin hulle grootword.

 

Watter invloed het jou status as buitestander (jy kom van Denemarke) op die manier waarop jy na Kaapstad kyk, en vergemaklik of bemoeilik dit jou taak om in gebiede op die Kaapse Vlakte te werk?

Ek kan nie regtig my situasie met dié van ander fotograwe vergelyk nie, maar ek glo dit gaan alles oor jou bedoeling en benadering. Voordat ek begin foto’s neem, praat ek dikwels met die mense in die gemeenskap – dit vorm ’n soliede grondslag vir my teenwoordigheid as buitestander. Talle individue wil baie graag hulle storie vertel en ek vind dat my kamera my toegang gee tot hierdie verhale.

 

Dit lyk of sommige van jou dokumentêre projekte ondersoek doen na hoe stedelike ruimtes deur die nalatenskap van apartheid beïnvloed is. Is jy bewus daarvan dat dit een van die hoof-fokusgebiede van die Wêreld-ontwerphoofstadtermyn van Kaapstad in 2014 gaan wees?

Ek het gelees dat Kaapstad as die Wêreld-ontwerphoofstad vir 2014 gekies is. Die Groepsgebiedewet en die manier hoe sekere gebiede “ontwerp” is as deel van die aprtheidstelsel, is steeds duidelik in die Kaapstadse landskap en sy mense. Die groot afstande wat baie mense tussen huis en werk moet aflê, en die tyd wat dit in beslag neem, is ’n goeie voorbeeld. Ek raak hieraan in my reeks “The Bus Terminus”, wat bestaan uit foto’s wat by die sentrale busterminus in die stad geneem is.

 

Dink jy dat ontwerp sekere van hierdie dieperliggende probleme sal verlig in 2014?

Veral die omgewing van jeugdiges moet ’n prioriteit wees, met skole en naskoolse programme wat ’n belangstelling om te leer en kreatiwiteit in kinders kan aanwakker. Hoe kan ons verseker dat die skole en gebiede wat verwaarloos is, plekke word wat mense bemoedig eerder as om hulle depressief en gefrustreerd te maak? Kuns- en gemeenskapsentrums op die Kaapse Vlakte wat jeugdiges aan ontwerp en kuns bekend stel, kan moontlik help om dit reg te kry. Ek neem baie foto’s in Mitchells Plain, wat in die apartheidsjare tot stand gekom het. Dit is ’n baie interessante deel van Kaapstad omdat dieselfde model vir die verskillende dele van die township gebruik is – daarom lyk die skole, paaie en sportvelde almal dieselfde. Die vraag is hoe ’n mens die patroon kan breek om ’n groter gevoel van individualiteit te skep.

 

Vertel ons meer oor die projekte waarmee jy tans besig is.

Ek neem steeds foto’s in Observatory en Soutrivier om die reeks verder uit te bou. Ek besoek ook gereeld nog Mitchell’s Plain om foto’s te neem. Ek geniet fotografie in die winter omdat die lig sagter en meer verwelkomend is. In die toekoms sal ek steeds fokus op kontemporêre maatskaplike kwessies en om mense in hulle omgewing af te neem.

 

Kyk hier na nog van Mads se werk