Lorenzo Nassimbeni

FOTOS: Michael Le Grange en Dook | WOORDE: Alma Viviers


Die argitek en beeldende kunstenaar lorenzo nassimbeni het hom in die wêreld van muurpapier en materiaal begewe – en met treffende nuwe ontwerpe vorendag gekom.

Lorenzo Nassimbeni se reis van argitek tot beeldende kunstenaar het met ’n fi sieke reis begin. Terwyl hy besig was met sy argitektuurgraad aan die Universiteit van Kaapstad, het Lorenzo die geleentheid gekry om oorsee te gaan studeer, aan die Istituto Universitario di Architettura in Venesië.

“Ek was in ’n groot stad, en deur dit met potlood op papier te ‘herkodeer’ kon ek my omgewing verstaan en absorbeer. Uit ’n argitektuur-oogpunt het dit ook aan my ’n manier gegee om dít aan die wêreld van beeldende kuns te koppel.”

Ná agt maande het hy met 15 sketsboeke vol sketse, indrukke, skryfstukke en foto’s teruggekom. Baie van die insigte wat hy in die tyd daar verkry het, het deel geword van die manier hoe hy in die eerste jare as ’n professionele argitek in Johannesburg gewerk het. Maar die beperkings en praktiese aspekte van dag-tot-dag-argitektuur het Lorenzo laat hunker na ’n nuwe rigting om hom uit te druk.

Lorenzo het ander moontlikhede vir sy sketse begin ondersoek – nie net as beeldende kuns nie, maar ook as ’n produk – en muurpapier was ’n voor die hand liggende keuse. Eers het hy grootskaalillustrasies gebruik, wat later ontwikkel het tot die gebruik van patrone. Sy jongste werk, Lovecity, is vroeër vanjaar by die Salon91 Contemporary Art Collection Gallery ten toon gestel, en sommige van die ontwerpe is vir ’n materiaalversameling deur Mavromac gebruik.

Lorenzo sien sy werk in muurpapier en materiaalontwerp as ’n verlengstuk van sy praktyk as argitek en kunstenaar, en op ’n manier ook as die perfekte medium waardeur hy sy begrip van die verhouding tussen die twee kan uitdruk.

• 073 462 4437, www.lorenzonassimbeni.com