Lego wat lewe

Read in English.

Geen ander Lego-skeppings sal jou mond so wawyd oop laat val soos Nathan Sawaya se beeldhouwerke nie: Dit wissel van replikas van die ikoniese Carlton Room Divider tot lewensgroot vollyfportretstudies, skedels wat uit hulle vel klouter tot delikate rokke wat wapper in die wind; trouens, eintlik enigiets waaraan jy kan dink. Ons het ’n paar vrae aan dié nederige kunstenaar van New York gestuur om VISI-lesers meer te vertel oor sy kreatiewe visie.

Hoe het dit gebeur dat jy met Lego begin werk het?

As kind het ek Lego-blokkies gehad. Toe ek omtrent tien jaar oud was, het ek my ouers gevra of ek asseblief ’n hond kan kry, en toe hulle besluit het om eerder nie ’n troeteldier te kry nie, het ek vir myself ’n lewensgroot hond van Lego-blokkies gebou! Dit was ’n vroeë draaipunt in my kunsloopbaan.

As kunstenaar geniet ek dit om met blokkies as medium te werk. Omdat my kunswerke gemaak is van iets wat mense goed ken, is dit wonderlik om hulle reaksie op my kunswerke te sien. Almal kan daarby aanklank vind omdat dit van daardie speelgoed is waarmee die meeste kinders grootword. Maar dit is ook natuurlik veel meer as dit. Vir my is die lekkerste ding omtrent Lego-blokkies om te sien hoe my skeppings ander mense inspireer om dan self iets te probeer bou. 

Kan ’n mens letterlik enigiets met Lego bou? Hoe besluit jy wat jy gaan maak?

Volgens my is daar niks wat jy nie uit Lego kan bou nie. Ek pak graag projekte aan wat die kyker se aandag sal trek en dan vir so lank as moontlik sal boei.

Om te besluit wat om te maak hang af van wat my geïnspireer het. Inspirasie kom van talle plekke en mense af: Ek kan geïnspireer word deur mense wat ek ontmoet, plekke waarheen ek reis of iets so eenvoudigs soos ’n boom. Soms duik ’n stuk inspirasie op, ’n idee of ’n gedeelte van ’n idee, maar dit kan jare neem voor die konsep ontwikkel en begin vrugte dra. Boonop woon ek in New York, en wanneer ek skielik vashaak, gaan stap ek net deur die strate – dit lei dikwels tot ’n soort kreatiewe visie.

Toe ek destyds begin het, het ’n kunsboek van Tom Friedman my geïnspireer. Ek was verstom deur die ongelooflike beeldhouwerke wat hy van huishoudelike items gemaak het. Ek het vir ure na sy boek gestaar en my gedagtes laat gaan.

Ek was onlangs die medeskrywer van my eie boek wat bedoel is om ander te inspireer, The Art of Nathan Sawaya. Daarin is ’n versameling foto’s van my werk oor die jare opgeneem, en ek hoop kinders sal dit lees en geïnspireer word om self kunstenaars te word.

Wat was jou uitdagendste projek tot dusver?

Dit is moeilik om te besluit watter projek die uitdagendste was. Dit is altyd moeilik om met reghoekige blokkies’n menslike vorm te skep, veral as die beeldhouwerk beweging uitbeeld.

’n Goeie voorbeeld is my beeldhouwerk Yellow, wat ’n figuur uitbeeld wat sy borskas oopskeur met duisende geel Lego-blokkies wat rondom hom uitstort. Dit was moeilik om die werk maak sodat dit presies reg lyk en jy die emosie van die onderwerp kan voel.

Nog ’n uitdagende projek was die Dinosaur Skeleton. Ek het ’n paar jaar terug ’n reusagtige geraamte van ’n T-Rex dinosourus gemaak. Dit was meer as ses meter lank en ek het die hele somer lank daaraan gebou. Dit vorm nou deel van my rondreisende tentoonstelling, The Art of the Brick.

Wanneer kinders en volwassenes jou vra wat jy doen en jy antwoord hulle, moet hulle sekerlik dink jy het die beste werk ter wêreld. Is daar enigiets omtrent jou werk wat minder lekker is?

Daar is nie veel nadele nie. Ek veronderstel die enigste een is dat jy nooit genoeg tyd het nie. Ek het verskeie tentoonstellings wat reg oor die wêreld toer, en dit beteken ek is self dikwels op reis. Hoewel dit fantasties is om die wêreld te sien, wens ek soms ek het meer tyd gehad om net in die ateljee deur te bring en te skep. Maar uiteindelik ruim ek tog tyd in, en ek is gelukkig en bevoorreg dat ek gedurig met verskillende projekte besig is.

Voel jy ooit as kunstenaar lus om in ’n ander medium te werk?

Ek het al goed in meer tradisionele media soos klei en draad gemaak, maar dis die heel lekkerste om met Lego-blokkies te werk. Ek waardeer die feit dat dit so “skoon” is om met blokkies te werk. Ek waardeer die regte hoeke en die kenmerkende lyne. Soos met soveel ander dinge in die lewe is dit ’n kwessie van perspektief. Van naby gesien is die vorm van die blokkies baie kenmerkend, maar op ’n afstand verander daardie strak hoeke en kenmerkende lyne in kurwes. Dít is wat my van boublokkies aantrek.

Lees meer oor Nathan op sy webwerf, brickartist.com, en bly op datum met sy jongste skeppings deur TheBrickArtist op Facebook te “like”, of volg @NathanSawaya op Twitter.

Lees nog van VISI se artikels oor Lego-ontwerp en -kuns.