Korale in die grou

FOTOS: Lien Botha | WOORDE: Dave Pepler en Laurian Brown


Is daar ’n vaal kol in jou tuin wat pla? Laat ’n bougainvillea-bom of twee afgaan en staan terug om die ontploffing van glimmende kleure te bewonder.

Bougainvilleas stem my onrustig. In elke boskasie skuil daar ’n reënspinnekop; saans klim hy uit die dieptes en sit bakbeen oor die blaarnes. Skyn ’n lig en sy ogies blink soos diodes, die sy glim silwer soos ’n newel voor die maan. Probeer ’n tak pluk en die doring glip deur jou vel soos ’n spuitnaald – en dan eers kom die verlammende brand, intens en aanhoudend.

Maar as dit by kleur kom, doen Bougainvillea spectabilis sy naam gestand. Toe Admiraal Louis de Bougainvillea in 1768 dié plant in Brasilië raakgeloop het, sou hy nooit kon dink dat dit een van die mees universele sierplante sou word nie. Van die trope, dink maar aan die Javaanse openingstoneel uit Max Havelaar, of de koffij-veilingen der Nederlandsche Handel-Maatschappij, waar die ganse doek eenvoudig versadig word deur ’n vaste vlak van pers, tot by die spoorweghuisie in die Worcester van J.M. Coetzee: “In die hoek van die stoep, in die skadu van die bougainvillea, hang ’n seil-waterbottel”. (Uit: Boyhood)

Die bougainvillea vertoon op sy beste in droë landskappe. As jy weer met die R62 na Oudtshoorn ry, onhou die leegte voor Goreeshoogte, duskant Robertson. In daardie keiharde aarde het iemand, met ’n oog vir die weefsel van die landskap, ’n ry kleur geplant, knap teen die teerpad. Die kakie monotoon van die Klein-Karoo word skielik landskapskuns; skipgruis teerpad, bougainvillea in goud, pienk en pers soos korale in die grou, en dan die gekamde groen van die wingerde. Die effek is suiwer argitektonies, soos ’n klipmuur of ’n brug van kleur tussen die heuwels.

My gunsteling-kombinasie van dié plant met bouwerk kry mens in die hart van die Karoo, op plekke soos Willowmore, Williston en Carnarvon. Hierdie dorpies se harte is uitgeruk met die verbreding van deurpaaie. Sonder enige begrip vir balans, sonder simpatie en respek vir die organiese proporsie van die geboue, is breë siellose hoofpaaie gestoot – kyk hoe lyk Calvinia se hoofstraat deesdae. Maar dwaal af langs die stowwerige agterstrate, en soek huisies wat nog reg lê op sy lappie aarde. Diep voorstoep, buitetrap, waenhuis en toilet teen ’n turksvylaning? Ja, daar sal ’n peperboom staan, en ook ’n bougainvillea, die outydse pers soort, teen die groen ruitwerk van die voorstoep.

Bougainvillea is ook die kleur van die Kilombero-vallei in Tanzanië. Jare gelede was ek op ’n voetpad tussen die kolonie melaatses van Nazareti en Ifakara. Ek was ingedagte, die hitte soos ’n kombers om my. My oog het ’n ander oog gevang, deur ’n stofpers gordyn van bougainvillea. Dit was Pius, vasgegespe aan sy rystoel. Pius die kind van vyftien in ’n opgefrommelde liggaam van ’n vierjarige seuntjie. Eenmaal die week verlaat hy die stoep, wanneer sy ma hom stoot na die moddersteen-saaltjie wat as Katolieke katedraal dien. Hier sing Pius in die koor. Met elke terugkeer soek ek die pers op en ek weet Pius wag daar in sy rystoel, en hy kwyl soos hy lag as ek naderkom.

Wat sou ek vra van ’n wegkruipplekkie in die Karoo? ’n Kombuis met ’n greinhouttafel en ’n olielamp. ’n Bolinder-houtstoof met ’n vet gemmerkat op ’n kussing daarvoor. ’n Peperboom by my kamervenster vir die nagwind. En ’n diep stoep met ’n dagbed agter ’n gordyn van bougainvillea, waar die lig wat op my boek val, die trope herroep.

Tropiese pons

Latyns-Amerika is die tuiste van van die helderste, onwaarskynlikste blomkleure ter wêreld, maar niks daarvan is meer verbluffend as die bougainvillea met sy papiertekstuur en Mardi Gras-skakerings nie. Plantkundiges stry nog oor die familie (Nyctaginaceae) en die presiese aantal spesies – iets tussen vier en agtien – maar die bougainvillea se teenwoordigheid is so kragtig, die atmosfeer so karnavalagtig en daar is soveel lieflike vorms en hibriede van dié gewildste van ornamentele plante dat niemand anders eintlik omgee nie.

Die bougainvillea, ook bekend as die papierblom, is ’n semi-bladwisselende klouterplant wat met venynige dorings sy weg baan. Die kragtigste soorte kan tot meer as 30 m groei en gee bome ’n skou- spelagtige – soms gevaarlike – voorkoms. Die blomme self is in der waarheid baie klein: drie wit of roomkleur trompetjies geleë in die hart van drie of ses duidelike skutblare wat die lig soos papierlanterns vasvang en sorg vir ’n ontploffing van digte kleur wat bedags behoorlik gloei. Sommige van die skutblare verander van kleur namate hulle ouer word, wat die effek selfs nóg lewendiger en weelderiger maak.

’n Klomp verleidelike kultivars is in Suid-Afrika beskikbaar en wissel van reuse tot meer beheerbare matige groeiers en kompakte plante wat niks meer as ’n meter hoog word nie. Groei kan regop of slap wees; en blomskutblare kan in lang blomtakke of bondels voortgebring word, of los of dig opmekaar gepak. Blomme kan enkel, dubbel, tweekleurig of ’n mengsel van kleure wees, soos pers en wit op dieselfde tak. Die blare kan ook twee- of selfs driekleurig wees.

Bougainvillea 101

Om met bougainvillea tuin te maak beteken jy gebruik ’n breë verf-kwas en ’n kwistige hand. Die twee basiese scenario’s is die volgende:

Droë gebiede: Gebakte aarde, klip- of ruwe wit of kleurgewaste mure, gordyne en ontploffings van die kleure wat jy gekies het – persrooi en wit, met dalk ’n spatsel ougoud. Ander plante: Turksvye, aalwyne en oranje katsterte (Bulbine), niks meer nie.

Tropiese gebiede: Groen grasperk; lang, donker bome; wit mure; silwer strooidak. Ander plante: Pointsettia, rooi hibiskus, gouereën, kapokbome. As daar ’n ou jakaranda in die omtrek is, los hom gerus.

’n Waarskuwing: Die kragtiger bougainvilleas is monsters. Tensy jy ’n uitgestrekte oerwoud het waar hulle vrylik kan loop, sal jy die snoeiskêr byderhand moet hou.

KWEEKWENKE

• Volson en vrugbare grond wat goed dreineer, is noodsaaklik.

• Die wortelstelsel is taamlik broos – plant dit versigtig uit en moenie die wortels onnodig versteur nie.

• Bougainvilleas blom die heel beste as hulle onder stres verkeer. Gee die gat goed water voordat jy dit plant én net daarna. Gee dit daarna net water as dit absoluut noodsaaklik is.

• Te veel kos en water sal tot welige groei lei, maar geen blomme nie. Gee dit net in die lente ’n strooisel organiese 3:1:5 wat stadig vrygestel word.

• Beskerm jong plante teen ryp. Gevestigde plante kan rypskade kry, maar herstel gewoonlik goed.

• Bougainvilleas dra blomme aan nuwe groei; dus is snoeiwerk noodsaaklik. Maar moenie te drasties snoei nie, aangesien dit die plant lang waterlote kan laat uitstoot.

• Bougainvilleas is pes- en plaagvry.