FOTOS: Dook | WOORDE: Alma Viviers
Katrin Lewinsky glip so gemaklik tussen verskillende dissiplines dat Johannesburg se kreatiewe toneel eenvoudig nie dieselfde sal wees sonder haar nie. Sy was onder meer projekkoördineer van die AZA2010-argitektuurfees, kurator by die Co-op-galery en mededirekteur van die Goodman-galery, maar nou is sy rasend opgewonde oor haar nuutste projek as mede- kreatiewe direkteur van Noir Tailors.
Modes? Van waar gehasi?
Dit was glad nie ’n doelbewuste besluit nie – eerder ’n ou passie!
Wat behels jou rol as kreatiewe direkteur van die handelsmerk?
Ek en Roman Handt ontwerp die klere saam-saam en ek behartig ook ons korporatiewe identiteit.
Jou eerste versameling, “Town”, is by die Afrika-modeweek in Sandton gewys. Vertel ons kortliks daarvan.
Dis ’n klassieke versameling standaard items – eenvoudige kledingstukke wat lekker gemaklik is om te dra, maar wat uit die heel beste materiale gesny is. Ons het by swart en wit gehou en net fyn detail bygesit. Ons het letterlik oor elke steek en die potensiële uitwerking daarvan debat gevoer!
Hoekom het julle op mansklere besluit?
Toe ek en Roman ontmoet het, het ons albei sterk daaroor gevoel om Noir Tailors met ’n versameling mansklere vir alle seisoene af te skop. Die volgende een sal vir vroue wees.
Die kledingstukke het nogal ’n sterk argitektoniese gevoel – stem jy saam?
Enige kledingstuk is die eindproduk van ’n lang konstruksieproses – van die idee tot die ontwerp tot die patroon tot die materiaal en, uiteindelik, ook die vorm van die liggaam. Dis presies wat argitektuur is.
• Noir Tailors 072 709 8497, www.noirtailors.co.za

