Kate Liebenberg

FOTOS: Micky Hoyle | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Alma Viviers


Kate Liebenberg, eienaar van Créma Design in Kaapstad, het ’n onblusbare passie vir oorspronklike ontwerp en erken ruiterlik sy kan nie genoeg kry nie van die fyn detail, sappige stories en humor in die wêreld van kontemporêre meubelontwerp.

Waar kom jou passie vir ontwerp vandaan?

My pa was – is steeds – in die hotelbedryf betrokke. As kind in Harare is ons destyds dikwels vir vakansies Europa toe waar ons bevoorreg was om in van die beste hotelle te bly. Dis daar waar ek besef het ek wil altyd deur mooi goed omring wees.

Wanneer het jy Créma Design begin?

Ek het lank huise verkoop en met verloop van tyd besef ek’s mal oor die ontwerpwêreld. Ek het argitektoniese ontwerp aan die Design Time-kollege in Kaapstad gestudeer en was daarna die bestuurder van St Leger and Viney se toonkamer in die Kaap. In 2002 het Grant Hood en ek Créma in die oorspronklike Cape Quarter in Groenpunt begin met net twee verskaffers. Ek het intussen die maatskappy by Grant gekoop en verkoop nou produkte van XX verskaffers.

Waar kom die naam van die onderneming vandaan?

Dit was oorspronklik Créma – Oggetto del Desiderio (Begeerlike Voorwerpe). Die naam het na die volmaakte créma op ’n koppie koffie verwys, of die gedagte van “die room van die oes”. Ek het later die “Design”-deel bygesit omdat ek gedurig oproepe gekry het van mense wat koffiemasjiene aan my wou verkoop!

Is daar ’n ontwerper vir die jy die grootste bewondering het?

Ek is ’n groot aanhanger van die Brit Tom Dixon vir sy toewyding tot innovasie en sy missie om nuwe lewe in die Britse meubelbedryf te blaas. Ek bewonder ook een van my heel eerste veskaffers, Nani Marquina, vir die kontemporêre gees en tradisionele metodes waarmee sy die ontwerpe van haar eiesoortige matte benader.

Hoe dikwels beland die ontwerpe wat jy verkoop, in jou eie huis?

In ons baie nederige blyplek word familie-erfstukke heel gemaklik met kleurvolle Spaanse Globus-stoele vermeng. Elke jaar word die produksie van sekere ontwerpersligte gestaak en en kort voor lank maak die winkel se demonstrasiemodel dan ’n verskyning in ons huis. Net soos die meeste vroue nie vir hulle mans vertel as hulle ’n nuwe handsak of skoene koop nie, bly ek ook tjoepstil wanneer ek nog ’n nuwe tafellig of mat huis toe bring!

Wat is splinternuut by Créma Design beskikbaar?

Ons het pas die volledige Tom Dixon Industry-versameling uitgepak – fluoor was nog nooit so koel nie! Ons verwag ook binnekort die nuwe Successful Living-ligversameling – hierdie ligte is die produk van ’n samewerkingsooreenkoms tussen Foscarini en Diesel en gee gestalte aan Diesel se kenmerkende styl: ikonies, onkonvensioneel, speels, vurig en kreatief.

• 021 434 0661, www.cremadesign.co.za