Groter as lewensgroot

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Trevyn & Julian McGowan | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


Die beeldhouer Angus Taylor en skilder Rina Stutzer leef en werk in ’n huis in Pretoria wat terselfdertyd as galery dien vir hulle kunswerke.

Angus Taylor was ’n droomkliënt, want hy was bereid om te eksperimenteer, sÊ Pieter Mat hews van die argiteksfirma Mat hews en Vennote. Op sy beurt was Pieter die droomargitek vir die projek omdat hy die huis as agtergrond vir Angus se kuns ontwerp het. “Ek en my vennoot Liam Purnell wou seker maak ’n mens is deurentyd bewus van Angus as kunstenaar,” sê Pieter. “Selfs die vensters wys óf in die rigting van ’n werk óf dit raam ’n uitsig op een van sy skeppings.”

’n Ander seëning was die feit dat Angus, wat die erf ontdek het toe hy die omgewing met sy bergfiets verken het, graag sélf sy hande vuilmaak as dit by bouwerk kom. “Ons kon dinge probeer wat andersins nie moontlik sou wees nie,” verduidelik Pieter. “Hy het geweet waar om sekere materiale in die hande te kry én hy het die artistieke aanvoeling gehad om dit reg te gebruik.” Die granietblokke waarmee die buitemure bedek is, is ’n goeie voorbeeld. Vir die vloere is ongepoleerde graniet gebruik met boorgate wat deel vorm van die ontwerp, terwyl sigbeton vir die plafonne ingespan is.

Angus onthou hoe hy vir Pieter gesê het: “Ontwerp dit net – moenie jou oor die res bekommer nie, alles sal uitwerk.” En dit het! “Ons is al twee kunstenaars,” sê Angus met verwysing na sy vrou, die skilder Rina Stutzer, wat onlangs ’n tentoonstelling by die Everard Read-galery in Rosebank gehou het. “Ons het dus nie ’n fortuin gehad om te blaas nie, en ons wou self van die bouwerk doen.”

Angus kon op sewe al sweis en het self die staalrelings vir die huis gesweis, asook die gepoleerde skuinsrand-boksvensters wat elk van ’n halwe ton staal gemaak is.

Hoewel die twee meestal in ’n metaalgietery werk, raak hulle soms saans of oor naweke doenig by die huis. Die tuisateljee moes dus ’n swaardiens-betonvloer kry wat met staal versterk is om die gewig te kan dra van die graniet en metale waarmee Angus werk.

“Ons is al twee met sewe kunswerke op ’n slag besig,” lag hy. Daarom moes die huis ontwerp word sodat die leefgedeelte by die ateljee kan aansluit óf afgeskort word. Angus het met die bouprojek begin voordat Rina ingetrek het en sy aanvanklike opdrag aan die argtekspan was: “Dit moet verkieslik eers ateljee wees en dan huis.”

Rina sonder nog iets uit wat hulle huis anders maak. “Angus is ’n lang ou en alles hier is groter as normaalweg. Hier kan ’n mensbehoortlik asemhaal en ek’s mal daaroor dat buite altyd binne is.”

“Dié is nie ’n huis vol palawas nie,” sê Angus. “Niks kolomme met’n moerse voordeur nie. Net eenvoudige, doelgerigte argitektuur.”

• Mathews en Vennote-argitekte, 0861 116 222, www.maaa.co.za

• Angus Taylor 012 803 2369, www.angustaylor.co.za