Graham De Lacy is ’n Johannesburgse fotograaf wat bekend is vir sy lieflike komposisies – sy foto’s oorrompel die kyker met emosionele opregtheid en ’n meesterlike vertolking van natuurlike lig. En dit maak nie saak of De Lacy sy peperduur kameratoerusting of sy getroue iPhone inspan nie, want uiteindelik is dit sy punteneurige, mensgeoriënteerde benadering wat soos ’n goue draad deur sy uiteenlopende persoonlike en kommersiële portefeulje loop. Ons het hom oor sy werk gepols.
VISI: Hoe het jou loopbaan as fotograaf begin?
GDL: Ek was aanvanklik ’n kuns- en skeppende hoof. Ek het vir ’n hele paar van die groot advertensie-agentskappe gewerk voordat ek in 1998 my eie potjie begin krap het. Ek was toenemend gefrustreerd met die werk van die fotograwe saam met wie ek gewerk het, en het besluit ek kan dit beter doen. Ek het immers jare lank saam met fotograwe gewerk en gesien hoe hulle beligting benader. Ek het ook baie geleer by die filmkameramanne, wat presies weet hoe om natuurlike lig te manipuleer.
Jou portefeulje sluit baie van die klassieke fotografietemas in: portretstudies, landskappe, stillewes, sport… het jy ’n gunsteling?
Beslis portretstudies, of enigiets waarby mense betrokke is. Ek is eenvoudig mal oor die emosionele transaksie wat plaasvind wanneer jy ’n portretfoto neem, om te wag vir daardie oomblik wanneer die skanse sak en die ware persoon na vore kom. Ek kan mense gemaklik laat voel, en humor is ’n goeie manier om dit reg te kry. Mense is net op hulle stukke wanneer hulle veilig en gemaklik voel. Ek is ook gedurig op soek na daardie klein menslike gebaar wat ’n foto spesiaal maak.
Ondanks die uiteenlopende verskeidenheid in jou portefeulje is daar tog ’n identifiseerbare “goue draad” wat deur al jou foto’s loop. Dit is moeilik om my vinger daarop te lê, maar ek sou sê jou werk is baie mensgeoriënteerd, met ’n nougesette benadering tot beligting en komposisie. Stem jy saam?
Dit is presies dit, ja. As ek op straat ’n interessante foto gewaar, sal ek dikwels wag tot ’n mens in die prentjie stap. Dit was ook die benadering wat ek in die advertensiebedryf gevolg het. Ek het baie selde ’n advertensie gemaak waarin daar nié mense was nie. As skeppende hoof het ook baie verwag van die fotograwe en regisseurs saam met wie ek gewerk het en op die hoogste produksiewaardes aangedring. Hierdie etos is byna in my ingewortel, en dit is ook hoe ek my werk as fotograaf benader. Uiteindelik is daar vir my drie elemente wat ’n foto fantasties maak: inhoud, komposisie en lig.
Beskou jy jou in hierdie opsig as ’n klassikus?
Jy moet soort van wees as jy vir kliënte werk. Maar terselfdertyd probeer ek in die postproduksiefase – wat ek self behartig – tog iets anders aan my werk te verleen. Dus, ja, klassiek, maar met daardie iets ekstra.
Hoe voel jy oor die digitale revolusie en die uitwerking daarvan op fotografie? Deesdae hou selfs die veterane wat in die donkerkamer grootgeword het, tentoonstellings of publiseer boeke wat in die geheel met ’n iPhone4 afgeneem is.
Ek dink nie ek sou ’n fotograaf geword het as dit nie vir die digitale revolusie was nie. Dit het fotografie baie meer toeganklik gemaak. Op die oomblik gebruik ek ’n Nikon D3s, maar verlede jaar het ek agtergekom ek het ’n ander kamera – my iPhone4. Saam met die apps Hipstamatic en Snapseed het dit ’n hele klomp nuwe dinge moontlik gemaak. Ek hou van die spontaneïteit van die iPhone4 as ’n kamera.
Is jy tans met enige nuwe projekte besig?
Ek is op die oomblik besig om vir NASHO ’n groot maatskaplike behuisingsprojek in die vorm van ’n landwye tentoonstelling af te rond. Dit het behels dat ek mense in hulle huis besoek – nie net om hulle af te neem en te verfilm nie, maar ook om onderhoude met hulle te voer. Wat ’n voorreg. Verder is ek doenig met die bekendstelling van my iPhonography-natuur-en-objektereeks aan die dekormark. Snaaks genoeg vind ek Hipstamatic werk nie so goed om mense af te neem nie, maar dis fantasties vir lewelose voorwerpe.
Gaan kyk na nog van Graham se werk by www.grahamdelacy.com

