Ford-wêreld

WOORDE en FOTO’S: Dylan Culhane


 

“Dis Ford-wêreld dié,” was die alomteenwoordige TV-klingel vir die ’67 Galaxie. En vandag is hierdie slagspreuk steeds die mantra wat entoesiaste – sogenaamde Ford-koppe – reg oor die wêreld saamsnoer. Maar laat ons nie doekies omdraai nie: Die hoofstad van planeet Ford is ongetwyfeld Dearborn in Michigan.

Dié tuisdorp van Henry Ford is – en was nog altyd – die tuiste van Ford se internasionale hoofkantoor. Ford was ’n baanbreker wat deur sy besluit om in 1913 die wêreld se eerste rolmonteerbaan in die nabygeleë Detroit op te rig, die eerste saadjie geplant het om dié stad se reputasie as die motorhoofstad van Amerika te vestig.

Namate die aantal ingevoerde motors die hoogte ingeskiet het, het Detroit se status as die voertuigmiddelpunt van die VSA egter begin taan. Die inwonertal het gedurende die tweede helfte van die vorige eeu stelselmatig gekrimp soos wat die verwoestende ekonomiese gevolge van deïndustrialisasie al hoe meer mense weggedryf het van wat eens op drie na die grootste stad in Amerika was. Volgens ’n onlangse sensusraming het amper ’n kwart van Detroit se inwoners in die vorige dekade hulle tasse gepak op soek na groener weivelde. Gevolglik lê groot dele van die stad se byna 360 km2 nou braak – dit is groot genoeg dat Boston, San Francisco én Manhattan kan inpas, met plek vir nog.

Desondanks floreer die Ford-motormaatskappy in Dearborn, meestal danksy ’n enkele faktor: innovasie. Die era van tipies Amerikaanse V8-spierkrag en duikbootgrootte sedans is verby, en ’n gedaanteverwisseling in die voertuigbedryf is op hande. By vanjaar se Noord-Amerikaanse Internasionale Motorskou (NAIAS) was dit skreiend duidelik wat die groot gonswoorde was onder die wêreld se voorste motorvervaardigers: die ekonomie, veiligheid en omgewingsvriendelikheid. Ford se blinkste skouperd, die veelbesproke 2013 Fusion, verpersoonlik hierdie nuwe ideale en dit lyk of dié voertuig hulle markaandeel in die erg mededingende sektor vir middelslag-voertuie dramaties gaan vergroot. Volgens Sherif Marakby, Ford se direkteur van elektries aangedrewe ontwerp, is “elke stukkie harde- en sagteware van die hibriedstelsel splinternuut… dit is ons volgendegeslag-hibriedstelsel”. Die 2013 Fusion is beskikbaar as ’n EcoBoost, hibried en inprop-hibried, en is net so strelend op die gewete as op die oog – iets waarop Ford natuurlik baie trots is.

Die slegte nuus vir Suid-Afrikaners is dat die Fusion waarskynlik nie binnekort ’n plaaslike draai sal gooi nie. Maar as aanvoerder van Ford se nuwe paradigma is die kans goed dat die Fusion se tegnologiese vooruitgang – waarvan die hibriedenjin die noemenswaardigste is – uiteindelik in ander nuwe plaaslike modelle hulle verskyning kan maak. En namate Ford vorder in sy doelwit van One Ford, kan ons verwag dat die buite-ontwerp in alle markte stelselmatig dieselfde sal word. Met die 2013 Fusion as die nuwe goue standaard is dit al die pad goeie nuus.

As genooide gas van die Ford-motormaatskappy by NAIAS 2012 het ek ook die seldsame kans kry om die Innovation and Design Fantasy Camp by Ford se produkontwikkelingsentrum in Dearborn by te woon. Dit het fassinerende insig gebied in die tegnologiese voorpunt van die motorwêreld, en in watter mate ontwerp ’n kardinale rol speel in alle aspekte van die veld. Die kamp het afgeskop met ’n paneelbespreking oor die skeppende proses, met sprekers soos Evan Orensten, uitvoerende redakteur van Cool Hunting, en Scott Belsky, stigter van die Behance Network, in dieselfde uitstalsaal waar Ford se nuwe modelle die afgelope halwe eeu reeds onthul word. Hier is die simbiotiese verhouding tussen kreatiwiteit en innovasie deeglik beklemtoon.

Dieselfde ideale was ook duidelik te sien in die laboratoriums waar ons daarna ’n draai gemaak het. Eerste aan die beurt was die modelleerateljee, waar ’n span hoogs gekwalifiseerde kunstenaars op die outydse manier skaal- en lewensgroot modelle van konsepmotors en nuwe modelle maak: alles met die hand, boonop met klei – presies soos dit al amper ’n eeu gedoen word. Ondanks die vooruitgang in digitale beelding, wat die speelveld totaal verander het (en waarvan ek tydens die toer etlike voorbeelde gesien het), is daar geen beter manier om ’n nuwe skepping te visualiseer as om rondom ’n “anatomies korrekte” weergawe daarvan te stap nie – kompleet in ’n metaalverfafwerking en met die fynste detail (dit was ongelukkig die één plek waar geen foto’s toegelaat is nie!).

In die ateljee vir digitale ontwerp fokus ’n ander span daarop om sketse en lineêre en driedimensionele voorstellings van nuwe motors te maak. Danksy verstommende tegnologie kan die digitale kunstenaars enige omgewing afneem en die motor binne hierdie hiperrealistiese wêreld plaas om te sien hoe die lig op die buitekant sal val en weerkaats word. Dit help ook die span om vooraf die subtielste kleurvariasies waar te neem in (byvoorbeeld) sonnige, bewolkte of toonkamer-toestande. Dit is moeilik om te glo dat dié voorstellings uit niks uit op ’n rekenaar geskep word en nie gefotografeer word nie. Die vlak van detail is mikroskopies en werkliker as werklik. Dit gebeur gereeld dat dié ontwerpateljee promosievideo’s maak wat almal oortuig dis regtig in Manhattan of die Rockies verfilm pleks van in ’n laboratorium in Dearborn, Michigan.

Menslike interaksie is ’n ander fassinerende aspek van die ontwerp- en innovasieproses. Deur dieselfde beweging-spoortegnologie te gebruik wat in Hollywood-flieks soos Avatar ingespan word, kan wetenskaplikes die bewegings van mense naspoor wanneer hulle byvoorbeeld in of uit ’n motor klim, uitreik na handvatsels, knoppies op die paneelbord druk en tientalle ander bewegings uitvoer wat ons as bestuurders of passasiers as vanselfsprekend ervaar – alles met die uitsluitlike doel om die ontwerp so doeltreffend en gemaklik as moontlik te maak. Hierdie klein aanpassings is noodsaaklik omdat motorinterieurs toenemend kleiner word. Vanweë faktore soos brandstofdoeltreffendheid, veiligheidstegnologie (rolstawe, lugsakke) en nuwe benaderings tot voertuigontwerp is die Fiesta wat jy vandag bestuur, baie kleiner aan die binnekant as jou oupa se Fairlane. Daarom moet die ruimtelike interaksie tussen mens en masjien voortdurend hersien word.

Een verdieping boontoe word hierdie gedagte verder gevoer in ’n laboratorium wat uitsluitlik op sit-tegnologie fokus. Ja, jy het reg gelees: Die bestuurder se sitplek is die toetssteen tussen die bestuurder en die voertuig. Klein aanpassings kan ’n dramatiese uitwerking hê op postuur, gemak en uiteindelik ook veiligheid, omdat faktore soos moegheid, konsentrasie, sigbaarheid, beheer en gemak ook in die prentjie kom. Die navorsers het met ’n nabootser wat ’n bietjie soos ’n videospeletjie lyk, die jongste ontwikkelings in hulle huidige projek gedemonstreer: stemgeaktiveerde hidrouliese sitplekkontrole, waar jy eenvoudig “recline seat” sê, en die stoel jou opdrag uitvoer.

Laastens het ons ’n oorsig gekry van die vooruitgang in volhoubare materiale wat deur Ford gebruik word. Met motors wat al hoe meer van plastiek gemaak word, is die uitwerking op die omgewing ’n wesenlike bron van kommer. Ford se navorsing- en innovasiespan ontwikkel al langer as ’n dekade progressiewe oplossings vir hierdie probleem en is een van die leiers in die veld. Dit is verstommend hoe baie organiese materiale wel in die sitplekke, vensterknoppe, bekerhouers en ander hoekies en gaatjies binne die motor ingespan word. Sojabone word byvoorbeeld gebruik om die poli-uretaanskuim te maak wat in talle Ford-modelle se sitplekke gebruik word, terwyl natuurlike stowwe soos graan- en kokosneutdoppe in bio-afbreekbare plastiek vir verskeie ander komponente verander word. In dié veld probeer wetenskaplikes ’n balans vind tussen afbreekbaarheid en ’n lang gebruiksduur – dit is belangrik dat soveel as moontlik sintetiese materiaal uiteindelik sal afbreek, maar dit kan ook nie te gou gebeur nie, anders sal die motor self tot niet gaan.

Daar word gesê die motorbedryf kan voor ’n potensiële krisis te staan kom weens die PlayStation-geslag wat ál minder in regte motors belang stel. J. Mays, Ford se groep- adjunkpresident van globale ontwerp en ook sy hoof- kreatiewe amptenaar, glo die rekenaar is vandag se ekwivalent van die hitstjor, met die implikasie dat die gevroetel onder die masjienkap en ’n paar esse saam met vriende oor die naweek glad nie meer so aanlolik is as in die verlede nie. Mays is nietemin vol vertroue dat ’n nuwe era in motorry – wat meer as ooit op die bekwame toepassing van ontwerp en tegnologie berus – ’n baie aanloklike moontlikheid kan wees vir jonger mense wat op soek is na ’n stabiele, vervullende loopbaan.

Miskien is hierdie nuwe tegnologiese dagbreek presies wat Detroit nodig het om sake om te keer. Dit lyk of die visie is om Henry Ford se tuisdorp weer die polsende middelpunt van die motorbedryf te maak.

Neem kennis: Die Ford-motormaatskappy het my reiskoste en akkommodasie betaal by die tweedaagse Innovation and Design Fantasy Camp. Ek is op geen manier vir my tyd vergoed nie. Die menings in hierdie artikel is my eie.