Elke hond kry sy dag

WOORDE Debbie Loots


Read in English.

Ontwerpers blaf ’n kontemporêre nuwe deuntjie as dit by blyplekke vir honde kom. Ons het op ’n speurtog gegaan – van Japan tot Mexiko – om ons gunstelinge vir jou geliefde vierbeenvriend te kies.

Daar wag daar ’n hele klomp aangename verrassings op jou as jy vasgehaak het by die idee dat ’n hondehok vervelig, vierkantig, van hout en klein, medium, groot of ekstragroot moet wees!

Danksy Kenya Hara, kunshoof van die Japannese handelaar Muji, duik nuwe interpretasies van die tradisionele hondehok nou oral op. Kenya is die baasbrein agter Architecture for Dogs, wat deel vorm van ’n groter konsep om argitektoniese ontwerp deel van ons alledaagse lewe te maak en terselfdertyd konvensionele denke oor die manier waarop ons in ons ruimtes leef, uit te daag.

Hy het verlede jaar 12 top-argitekte genader en hulle gevra om elk ’n interaktiewe hondehuis te ontwerp wat die manier waarop mense en hul honde met mekaar interaksie het, op sy kop te keer. Hy het vir elke argitek ’n spesifieke honderas gekies om mee te werk, maar ook dadelik bygevoeg die ooreenkomste tussen die argitekte en diere het niks met sy keuses te doen gehad nie! (Ons is nie oortuig nie… kyk die video hieronder en laat ons weet of jy saamstem!)

Al die ontwerpe is gratis beskikbaar en kan van die Architecture for Dogs-webwerf afgelaai word – hoe lyk dit met ’n lekker selfdoenprojek hierdie naweek?

Kenya se hondehok-argitektuur het as inspirasie gedien vir Dogchitecture, ’n uitstalling in Mexiko waarvoor tien Mexikaanse maatskappye hondehokke moes herinterpreteer. Dié projek het ’n klomp verbeeldingryke huise tot gevolg gehad waarvoor jy en jou wollerige vierbeenvriend julle voortande sal gee.

Die hondehok-sofa deur die Koreaanse ontwerper Seungji Mun voer die tema verder, hoewel dit miskien nie heeltemal so speels is soos ’n hondehotel wat luuks uitgevoer is om soos ’n wollerige Bichon Frise te voel nie. Seungji se honde-lêplek is ingebou in die armleuning van ’n lekker lêsofa en speel met die idee dat mense in al hoe kleiner leefruimtes ieder geval hul huis met die troeteldier deel. Die rusbank is gemaak van soliede eshout en die kussings oorgetrek in duursame seil.

Komaan, gee ’n slag jou verbeelding vlerke, raak ontslae van daardie verwaarloosde ou hondehut en bederf jou beste vriend met jou wildste ontwerperidees.

Wil jy weet presies hoe mal ons by VISI oor honde is? Loer dan na van ons ander artikels oor ontwerpe vir honde.