FOTO’S: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Alma Viviers
Vir die kunstenaar Kudzi Chiurai is kuns ‘n weerspieeling van die lewe. Sy inspirasie is Johannesburg se polsende middestad, waar hy in ‘n gerestoureede loft woon en werk.
Kudzi Chiurai is ’n naguil wat dit verkies om in die middernagtelike ure te werk wanneer toetende taxi’s en rumoerige straatsmouse plek maak vir die klanke van straatgevegte en -gesprekke, ambulanssirenes en wilde musiek. Aanvanklik was die middestad se geraas een van die grootste aanpassings, maar nou is dit presies wat dié jong Zimbabwiese kunstenaar veilig laat voel.
“Ek voel veiliger hier as in ’n stil voorstad soos Melville, waar ek voorheen gebly het,” sê hy. “Daar ken mense nie hulle bure nie. Hier voel ek connected. Ek ken die mense in my gebou. Ek stap elke dag verby smouse en winkeliers en voel deel van ’n gemeenskap.”
Kudzi het omtrent twee jaar gelede na August House, aan die buitewyke van die ontluikende modedistrik naby Ellispark, getrek. Die gebou was oorspronklik die tuiste van ’n hele paar klein bedrywe, waaronder ’n klompie klerefabrieke en ’n parfumerie.
Vir die liefde van die saak
Bié Venter, wat haar brood met die logistieke sy van uitstallings en openbare kunsprojekbestuur verdien, het ’n hele paar jaar regoor August House gewoon en het die potensiaal gesien om dit in loftwoonstelle te omskep.
“Ek en my vennoot het aandele in die gebou gekoop en die ander eienaars oorreed om die boonste twee verdiepings in nege loftwoonstelle te omskep,” sê Bié. “Ons het maar ’n knap begroting gehad – 26’10 South-argitekte het die onderverdeling behartig en ek was die projekbestuurder. Jy sal nie glo hoeveel ek in die vorm van sweet ingesit het nie, maar dit was alles vir die liefde van die saak.”
Die etlike openbare toilette wat deur die fabrieke gebruik is, is in klein badkamers met ’n stort verander, en basiese kombuisgeriewe soos ’n wasbak en ’n stoof-muurprop is geïnstalleer. Om te hou by die nywerheidstyl van die gebou is alle pype en toevoerbuise oop gelos en die sementvloer onbehandel gelaat. Die meeste woonstelle het toegang tot die dak, waar Bié ’n pottuin en braaiplek gemaak het.
Kudzi deel die gebou met ’n hele paar ander kunstenaars en kreatiewe geeste wat in die ruim woonstelle woon of werk, onder wie Mary Sibande, Laurence Lemoana, Gordon Froud en Diane Victor.
Sy enorme woonstel is gemeubileer met ’n elegante samevoeging van ontwerpe wat hy reeds gehad het, en winkelstukke wat vermeng is met skeppings deur Suid-Afrikaanse en internasionale ontwerpers. Die binnekant is spierwit, met fokuspunte in primêre kleure deur die byderwetse ontwerpers Dokter and Misses. “Ek en Katy Taplin het mekaar ontmoet terwyl ek kuns gestudeer het aan die Universiteit van Pretoria, en sedertdien is ons goed bevriend,” sê Kudzi.
Kuns vir meubels
Katy en haar man, die industriële ontwerper Adriaan Hugo, het ’n deurslaggewende rol gespeel in die binnehuisontwerp en meubilering van die woonstel. “Katy het ’n goeie oog, en sy het my gehelp om te kies en dinge te rangskik,” erken Kudzi. “Ek het Adriaan ook gevra om ’n tafel te ontwerp, wat hy uiteindelik na my genoem het: die K-eetkamertafel.”
Dié vriende ruil soms kuns vir meubels en het ook saamgewerk aan ’n reeks T-hemde, wat by Dokter and Misses se winkel in Milpark, Stanleylaan 44, te kry is.
• Kudzi Chiurai: 072 825 6860
• Bié Venter: 083 728 5606, biecc@mweb.co.za
• Goodman-galery, Kaapstad: 021 462 7573, www.goodmangallerycape.co.za
• Dokter and Misses: www.dokterandmisses.com

