Met kunskoors wat Johannesburg verlede week beetgepak het, het ons by Sean O’Toole, Marianne Fassler, Roelof Petrus van Wyk en Gavin Rooke gaan aanklop en gevra: Hoe begin ’n mens jou eie kunsversameling?
Die Goudstad was laasweek van kop tot toon kunsbetotteld: Die FNB Joburg Art Fair het op Donderdag 6 September afgeskop en die Joburg Fringe-fees reeds op Woensdag 5 September – en dít was nie naastenby al die kuns op die spyskaart nie.
Hoe vind ’n mens jou pad deur dié visuele aanslag – laat staan nog daardie intimiderende gevoel wat jou beetpak as jy dalk paaie kruis met moeilik verstaanbare kuns of snobistiese kunsvrate wat dink hulle weet alles?
Ons was nie lus vir ’n bondige geskiedkundige oorsig oor Suid-Afrikaanse kuns en kunskritiek nie, en het besluit op iets veel meer aweregs wat deur die pop-ekonoom Tyler Cowen geïnspireer is. In sy boek Discover Your Inner Economist beskryf Tyler hoe ons onsself kan “aanspoor” om na kunsmuseums en galerye te gaan deur te maak of ons daar is om inkopies te doen.
Natuurlik kon ’n mens by die Joburg Art Fair jou oë se begeertes met jou beursie verwesenlik, maar dit maak uiteindelik nie saak of jy met ’n regte of ’n denkbeeldige beursie gaan kuns koop nie… ons het by ’n paar kenners aangeklop om hulle raad te vra.

Sean O’Toole
Kunsresensent en skrywer
1. Watter raad het jy vir mense wat hulle eerste kunswerk wil koop?
Jy het twee opsies: Val eenvoudig weg en besluit later of jy foute begaan het – dit is ’n baie algemene benadering, en ook hoe baie van die internasionale versamelaars begin het; of gaan na ’n paar kunstentoonstellings en gesels met kunstenaars (of deesdae hulle handelaars), gaan dan na nog uitstallings, kyk, luister en lees, herhaal die proses en begin dan koop – versigtig of na hartelus. Dit maak nie werklik saak watter benadering jy volg nie, want jy sal altyd jou vroeëere aankope in heroënskou neem en nuwe werk aanskaf wat daardie eerste sleutelstuk komplementeer of uitdaag.
2. Wat is die algemeenste fout wat mense begaan wanneer hulle ’n persoonlike kunsversameling begin?
As hulle dink dit gaan eendag as ’n aftreepolis vir hulleself of hulle kinders dien. Vergeet daarvan – die gevalle waar dit wel gebeur het, is die uitsondering eerder as die reël. Persoonlike voorkeure en kritiese intelligensie moet altyd voorkeur geniet bo modegiere en die raad wat tydskrifte en koerante uitdeel oor wie of wat die beste kopie is.
3. Hoe kan iemand vasstel wat hulle kunsversameling werd is?
Daar is hope konsultante, meestal tweedehandshandelaars en afslaers wat daarin spesialiseer om versamelings te beoordeel en te waardeer. Jy sal die konsultant ’n tarief moet betaal vir die guns, maar dit is die betroubaarste stelsel. Hoewel die internet goed werk vir navorsing, beskik dit nie oor die oog óf aanvoeling vir ons mark nie. Die plaaslike kunsmark is steeds geslote en glad nie so transnasionaal soos wat die media soms te kenne wil gee nie.
4. Watter jong kunstenaars is die moeite werd om dop te hou?
Mohau Modisakeng en Beth Armstrong, wat albei maar pas hulle loopbaan begin het. Ook Chad Rossouw, wie se fotografiewerk fiksionele verhale ontgin, sal opgeraap word deur slim versamelaars. Ek sal ook kunstenaars dophou wat deelneem aan tentoonstellings onder kuratorskap van Clare Butcher, ’n dinamiese jong kurator wat vir groot dinge bestem is.
Marianne Fassler
Modeontwerper en kunsversamelaar, www.mariannefassler.co.za
1. Watter raad het jy vir mense wat hulle eerste kunswerk wil koop?
Onthou, ’n mens koop nie kuns omdat jy nie weet wat om met jou ekstra geld te doen nie. Jy koop kuns omdat jy nie daarsonder kan leef nie. Doen navorsing, maak vriende met kunstenaars, gaan na openingsaande. Leer wie die goeie kunstenaars is en koop altyd die beste stuk wat jy kan bekostig.
2. Wat is die algemeenste fout wat mense begaan wanneer hulle ’n persoonlike kunsversameling begin?
Die grootste fout is om iets te koop omdat iemand jou vertel het dit is ’n goeie belegging. Lig jouself in, oorweeg meer toeganklike werke deur bekende kunstenaars. Koop ’n ets of ’n genommerde kunsafdruk of begin fotografie versamel. Dit is gewoonlik goedkoper en aansienlik koeler as die meeste skilderye wat beskikbaar is. ’n Mens loop soms wonderlike winskopies raak op kunsveilings, maar sorg dat jy deeglik ingelig is voor jy begin bie – koop net kuns wat jy regtig graag wil hê.
3 Hoe kan iemand vasstel wat hulle kunsversameling werd is?
Eerstens behoort dit nie die primêre rede te wees om kuns te versamel nie. Skilderye is nie aandele wat ’n mens teen wil en dank koop en verkoop nie. Jy moet van die kunswerk hou, maar as dit eers teen jou muur hang, is dit ’n slim plan om wel jou versameling te laat waardeer sodat jy dit kan verseker. Dit is ook soms nuttig om kunswerke uit jou versameling in te ruil om miskien ’n ander skildery by dieselfde galery te koop.
4. Watter jong kunstenaars is die moeite werd om dop te hou?
Alle Suid-Afrikaanse fotograwe is gesog onder versamelaars. Ek is mal oor Cedric Nunn, wat verlede jaar die FNB-kunsprys gewen het. Daar is ook wonderlike getekende afdrukke deur bekende kunstenaars by die David Krut-galery beskikbaar, en dit is ongelooflik om te sien teen watter billike pryse party kontemporêre werke op veilings beskikbaar is.
Roelof Petrus van Wyk
Kunstenaar en kunsversamelaar, roelofvanwyk.wordpress.com
1. Watter raad het jy vir mense wat hulle eerste kunswerk wil koop?
Jy hou reeds van die kunswerk, en dit is waarom jy hierdie vraag vra. Doen navorsing: Lees meer oor die kunstenaar en verstaan die kunstenaar se ontwikkeling, wie die kunshandelaar is wat die kunstenaar verteenwoordig, en wat die handelaar se reputasie is. Neem dan ’n ingeligte dog pragmatiese besluit.
2. Wat is die algemeenste fout wat mense begaan wanneer hulle ’n persoonlike kunsversameling begin?
’n Gebrek aan visie vir die versameling. Besluit wat jy gaan versamel, fokus miskien op ’n sekere genre soos kunsdrukke of beeldhouwerke, en skerp jou kennis op, of fokus op ’n sekere groep kunstenaars, byvoorbeeld “jong skilders”, en volg en ondersteun hulle dan deur dik en dun.
3 Hoe kan iemand vasstel wat hulle kunsversameling werd is?
Kry ’n professionele persoon wat dit kan doen en laat dan die versameling verseker.
4. Watter jong kunstenaars is die moeite werd om dop te hou?
Abri de Swardt, ’n collageskilder van Stellenbosch wat nou sy meestersgraad by Goldsmiths in Londen voltooi.
Gavin Rooke
Eienaar van die Rooke-galery, rookegallery.com
1. Watter raad het jy vir mense wat hulle eerste kunswerk wil koop?
Hoewel dit skrikwekkend kan wees, behoort jou eerste kunskopie soos ’n keuse van lewensmaat te wees. Moenie iets kies wat uiteindelik net jou vriende sal beïndruk nie, want anders kan jy jou regmaak vir ’n baie kortstondige verhouding. Kies eerder ’n meer uitdagende stuk wat jou op enige manier interesseer en wat hom met verloop van tyd verder aan jou sal openbaar.
2. Wat is die algemeenste fout wat mense begaan wanneer hulle ’n persoonlike kunsversameling begin?
Moenie aanneem die werk wat jy koop, is die werk wat weer verkoop kan word nie. Jy sal waarskynlik nie die werk wat jy koop, sommer weer van die hand sit nie – die meeste versamelaars verkoop die kunswerke waarvan hulle nie hou nie. Koop kunswerke met die idee om dit te hou – neem eenvoudig aan jy sal dit nie weer verkoop nie. Besluit dan waarin jy wil belê – en aanvaar dat die opbrengs baie selde geldelik van aard sal wees.
3 Hoe kan iemand vasstel wat hulle kunsversameling werd is?
Daar is ’n paar maniere, soos om jou versameling formeel te laat waardeer deur ’n konsultant. Sulke waardasies is gewoonlik meer akkuraat as jy werk besit deur kunstenaars wat gereeld op die veilingsmark opduik. Omdat net ’n klein persentasie kunstenaars by veilings te koop is, is ’n meer akkurate waardasie miskien die omvang van die gedagtespronge wat jy maak elke keer as jy na die kunswerk kyk.
4. Watter jong kunstenaars is die moeite werd om dop te hou?
Zander Blom is ’n kunstenaar van ons tyd wat deur Michael Stevenson verteenwoordig word. Oorweeg ook iets soos ’n portefeulje, waar ’n enkele aankoop jou met ’n fyn uitgesoekte versameling werke beloon. ’n Goeie voorstel is ons iJusi Portfolio #2 wat die werk van agt top-Suid-Afrikaanse kunstenaars insluit teen ’n fraksie van hulle individuele prys.


