Die kuns van die golwe

WOORDE Malibongwe Tyilo FOTO’S Jonx Pillemer


Read in English.

Een van die groot giere wat ons opgeval het in 2012, is branderplanke wat skielik erkenning gekry het as begeerlike objets d’art. Die mees onlangse voorbeeld hiervan is die Wavescape Artboard-tentoonstelling waarvoor 10 kunstenaars hul hand gewaag het aan dié planke waarmee waaghalsiges die golwe tem.

Die uitstalling het deel gevorm van die Wavescape Surf Festival wat spesifiek gefokus het op volhoubaarheid en die bewaring van die aarde se oseane. Dit klink alles baie ernstig, maar die organiseerders het seker gemaak hulle takel hierdie belangrike sake op ’n prettige en onderhoudende manier.

Behalwe ’n groot rolprentfees is die Artboard-tentoonstelling gebruik om die breër publiek betrokke te kry. Die 10 branderplanke is getransformeer deur verskillende kunstenaars wat verskillende temas getakel het – van Brett “The Spear” Murray se maatskaplik-politieke werk tot Manuela Gray en Simon Brendt se branderplanke wat deur seelegendes en mitiese diere geïnspireer is. Ons absolute gunsteling was die branderplank wat deur Guy Tillim ontwerp is.

Ons dink die branderplanke lyk fantasties, maar moet erken as ons ons hande op een van hierdie skoonhede kon lê, is die allerlaaste ding wat ons sal doen om water toe te mik daarmee. Nee, ons sal dit veel eerder uitstal saam met die ander kuns in ons versameling.

Nadat die branderplanke by die Woodstock Exchange uitgestal is, het ’n paar besonder gelukkige versamelaars dit opgeraap by ’n veiling wat ten bate van liefdadigheid gehou is. Die opbrengs is verdeel tussen die Nasionale Seereddingsinstituut, Shark Spotters en die Waves for Changes-program van die Isiqalo Foundation.

www.wavescapefestival.com