Inwoners van die Kaapse stadskom het dalk al in die woelige Kloofstraat ’n nuwe spatsel groen gewaar: Dié muurtuin wat ’n wêreldkaart uitbeeld, is vroeër vanjaar opgerig en groei nou dat die biesies bewe.
Die tuinmuur – die eerste van sy soort in Suid-Afrika – is in werklikheid ’n innoverende nuwe advertensie deur Tractor Outdoor vir die lugdiens Emirates.
“Ons bewonder al jare lank die werk van die Franse vertikaletuinmeester Patrick Blanc,” sê Simon Wall van Tractor Outdoor, “en wou baie graag soortgelyke tuine in die Moederstad bou. Emirates Airlines het deur hulle agentskap, Starcom Mediavest/Nu-Venture, hierdie innoverende geleentheid met ope arms aangegryp en hulle onmiddellik daartoe verbind om saam met ons te werk om dié visie ’n werklikheid te maak.”
“Dit is ’n eerste vir Suid-Afrika,” sê Simon. “Met hierdie konsep kan ons gewone, vaal, vervelige fasades in lewende groen ruimtes verander. Ons hoef nie staat te maak op die tradisionele tegniek om plante in grond te kweek nie, en kan dus letterlik enige muur op enige plek opvrolik.”
Met ruimte wat ál skaarser word, wend al hoe meer mense hulle tot vertikale muurparadyse. Die Emirates-muurtuin van 6 meter hoog en 12 meter breed spog met die heel nuutste tuintegnologie onder die wakende oog van Nicholas Whitehorn.
Die muur bestaan geheel en al uit hout en plante wat in ’n spesiale biodinamiese soort vilt groei wat uit Duitsland ingevoer word. ’n Volledige hidroponika-drupbesproeiingstelsel wat met ’n vogsensor verbind is, is agter die vilt geïnstalleer – die plante word dus outomaties natgelei en gevoed wanneer dit nodig is.
“Ons het ’n vetplant-hibried – ’n Graptoveria-variëteit – gekies om die see- en oseaangedeeltes op die kaart te bedek omdat dit ’n blouerige kleur het, gehard is en vinnig groei. Vir die vastelande het ons op ’n ander vetplant, Aptenia cordifolia, besluit wat goed werk vir sonnige plekke, soos die muur wat noordwes front,” sê Nicholas.
Kuns kom tuis in openbare ruimtes
Die projek ondersteun ook Kaapstad se bod om in 2014 die Wêreld-ontwerphoofstad te wees deur sy daadwerklike poging om kuns by openbare en private ruimtes te laat inskakel. Tractor Outdoor hoop hierdie projek sal ander Kapenaars aanmoedig om die bod te ondersteun en betrokke te raak waar hulle kan.
Hoewel Nicholas trots is daarop om ’n soort pionier te wees, glo hy muurtuine soos hierdie een of die meer tradisionele soort is ’n fantastiese manier waarop private en openbare geboue die natuur en ontwerp na hulle mure kan lok.
“Net soos in ’n gewone tuin kan jy vir ’n vertikale tuin ook enige tema of ontwerp gebruik. Met ’n oorvloed fynbos en inheemse plante kan jy byvoorbeeld ’n natuurlike tapisserie skep, en as jy weer minder soorte gebruik en eerder op vorms en patrone fokus, kan jy met ’n meer kontemporêre ontwerp vorendag kom. Selfs ’n subtropiese en welige tuin is moontlik in die regte omgewing – en dit sluit ook binnenshuise tuine in. Mure kan selfs met lieflike maar uiters funksionele kruie en groente beplant word, byvoorbeeld veelkleurige blaarslaaisoorte, roket en ment – net wat ’n restaurant of tuiskok se hart begeer.”
Vertikale tuine maak nou oral in Suid-Afrika hulle verskyning, en ons hoop dié tuin is ’n sprekende voorbeeld vir almal met ’n groen gewete en ’n oog vir detail dat die moontlikhede eindeloos is vir enige projek waarby Moeder Natuur betrek word.
Besoek www.tractoroutdoor.com en www.nicholaswhitehorn.com vir meer inligting.

