Die chemie van kreatiwiteit

FOTOS: Andrew Whitehouse | WOORDE: Alma Viviers


WAARSKUWING: Aanhoudende blootstelling aan koel kantoorontwerp kan ’n mens dalk groen laat word van jaloesie. Lees asseblief versigtig verder.

Ek sien dit in my geestesoog: bleek, androgene laboratorium-tegnici wat in glashokkies met ’n kliniese wit agtergrond vooroor gebuk staan oor mikroskope; ’n waansinnige wetenskaplike wat koorsagtig formules neerskryf op die glasskerms, terwyl uitgebreide eksperimente op die agtergrond voortborrel.

FoxP2 is egter nie so ’n soort laboratorium nie. Vir dié vooraanstaande kreatiewe agentskap gaan dit oor handelsmerk-uitbreidings, ontwerp-eksperimente en die ontsyfering van kodes om by doeltreffende kommunikasie uit te kom. Die ongewone naam, FoxP2, is ’n akroniem vir die “Forkhead Box Protein P2”-geen, die naam wat wetenskaplikes aan die kreatiwiteitsgeen gegee het. “Toe ons begin het, het ons gevoel die enigste ding wat ons van ons mededingers onderskei, was ons kreatiwiteit en ons werk,” sê Andrew Whitehouse, kreatiewe hoof. “Dis hoekom die naam so belangrik was – dit het ons iets gegee waarna ons elke dag kon streef.”

En mensig, doen dié agentskap dit nie! FoxP2 het vele het al vele akkolades en toekennings ontvang, en was onlangs weer by die 2009-Loerie-toekennings die top-agentskap: Hulle het met agt pryse weggestap, waaronder ’n gesogte Grand Prix in die relatief nuwe kategorie argitektuur en binnehuisontwerp – vir hulle eie kantoorruimte. Die kategorie erken fisieke ruimtes wat ingespan word as ’n verlengstuk van ’n handelsmerk se waardes.

Die ruimtelike ontwerper Rotem Shachar was verantwoordelik vir FoxP2 se alchemie van vorm, funksie en fantasie, wat die personeel en besoekers voortdurend herinner aan die agentskap se kultuur van kreatiwiteit.

Rotem, ’n voormalige kunshoof, het ’n baie goeie begrip van ’n advertensieagentskap se binnewerking en van die FoxP2-handelsmerk, aangesien sy met Andrew getroud is. Heel toevallig het hulle die Grand Prix op hulle eerste huweliksherdenking ontvang – heel gepas vir dié kreatiewe duet. Rotem het ook FoxP2 se vorige laboratoriumagtige kantoorruimte ontwerp, wat vanweë uitbreidings te klein geword het. Die visuele taal wat van die agentskap se naam en logo geëerf is, het gestalte gevind in ’n nuwe driedimensionele omgewing. “Die tema van ’n retro wetenskapsfiksie-laboratorium was heel voor die hand liggend. Maar ek wou dit op ’n subtieler manier gebruik,” onthou Rotem.

Daarom word bekertjies pleks van drinkglase gebruik en drank uit lieflike keëlvormige skeiflesse geskink. Plante kry water deur binneaarse druppype en dienste soos die lugreëling is ontbloot. Die ruimtelike verdelers en werkstasies is subtieler ontwerp sodat dit soos kloonagtige hokkies lyk en die illusie skep dat dit sonder einde aanhou. Klein detail soos die laaihandvatsels waarskuwingsplakkers en vorm verwysings na die estetika van ’n tipiese wetenskaplaboratorium.

Een van die mees onkonvensionele kenmerke van die ontwerp is die unieke proefbuis-raadstafel, wat ook met ’n Silwer Loerie bekroon is in die kategorie 3D en Omgewingsontwerp vir argitektuur en binnehuisontwerp.

“Nadat ek na vele verwysings gaan kyk en die Universiteit van Kaapstad se wetenskapslaboratoria besoek het, het ek besef proefbuise lees amper soos fotospikkels wanneer jy van bo af daarna kyk,” sê Rotem. “Dus kan jy hulle in ’n rooster pak sodat dit ’n spikkelbeeld vorm.”

’n Fantastiese idee, maar om dit perfek te kry was vir Rotem én die skrynwerker Sven Grimmelikhuijsen van Svencraft ’n enorme liefdestaak. Sven moes die rooster drie keer sny voordat hulle die regte digtheid vir die proefbuise gehad het. Die feit dat hulle met deursigtige harpuisstof gewerk het, het ook vir ’n onverwagte uitdaging gesorg, maar die eindresultaat, blyk dit, laat die tafel behoorlik gons: Elke keer wanneer kliënte vir die eerste keer hier plaasneem, is dít waaroor hulle gesels.

“Jou kreatiwiteit is te sien in jou werk en jou getuigskrifte, maar kliënte – veral die nuwes – hou daarvan om te sien jy leef dit op elke vlak uit,” sê Andrew.

Nog ’n rede waarom Andrew dié soort kantoorruimte wou hê, is omdat hy vas glo oms almal is tot ’n mate die produk van ons omgewing. “Ons word beïnvloed deur ons omgewing – as jy dus in ’n ongelooflike plek soos dié werk, gaan dit uiteindelik ’n positiewe uitwerking hê.”

* FOXP2 021 424 4802, www.foxp2.com

* Rotem Shachar 082 777 7820

V&A MET DIE RUIMTELIKE ONTWERPER ROTEM SHACHAR

Hoe het jy die ruimtelike ontwerp van dié kantore benader?

Die advertensiebedryf het my geleer wat die waarde van ’n idee is – dus benader ek ’n ruimte as ’n driedimensionele konsep en werk dan uit hoe om die idee in die ruimte te laat leef, eerder as om te besluit watter materiale, stowwe en dies meer daar ingesit moet word.

Op watter maniere het jy vir pakplek gesorg?

In die eerste ruimte het ons geleer daar bestaan nie so iets soos te veel pakplek nie. Dus het ons op muureenhede besluit met verskillende soorte pakplek, en die ateljee se lessenaars het gleuwe vir ontwerpplanne.

Het julle maklik ’n balans gevind tussen die persoonlike, span- en gemeenskaplike ruimtes?

In die vorige kantoor het die personeel om een groot tafel gesit, en ons wou daardie oop gevoel behou – jy wil die aktiwiteit en interaksie kan sien. Maar baie van die prosesse in die advertensiewese is ook taamlik intiem; ’n kopieskrywer en kunshoof het byvoorbeeld ’n ruimte nodig waar hulle ’n dinkskrum kan hou. Daarom sorg die glas-elemente vir ’n gevoel van kontinuïteit, terwyl die agtkantige patrone op strategiese plekke meer privaatheid bied. Die personeel kan in die kreatiewe sitkamer en buitenshuise ruimtes informeel ontmoet, saam middagete geniet of net ontspan.

Hoe versterk die ontwerp ’n kultuur van kreatiwiteit?

Alles in die kantoor het ’n funksie. Sommige daarvan lyk dalk na luukses, maar alles dien ’n doel. Die lelike fotostaatmasjiene is byvoorbeeld op ’n konseptuele manier gehanteer deur hulle in die “radioaktiewe” fotostaatvertrek te plaas. Die konseptuele aard van die ruimte maak dit ’n ware vergestalting van die maatskappykultuur.

Hoe is die identiteit en waardes van die handelsmerk deel gemaak van die ontwerp?

Ek dink die ontwerp sê: “Dwa! Dís wie ons is.” Die agentskap se naam het gelei tot ’n hele visuele taal, terwyl die logo, wat so ’n sterk simbool is, gebruik is vir die spikkelbeeld in die proefbuis-raadstafel.