FOTO’S: Dawie Verwey | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Johan van Zyl
Met net ’n dramatiese laag verf vestig die argitekspaar Johan en Gardiol Bergenthuin opnuut die aandag op die hoofidee agter hulle Gordonsbaaise vakansiehuis: om as tussenganger te dien tussen hemel, berg en see.
Blou is ‘n bliksem. Vandag koel en kalm, die ene hemelruim en oseaan en salige seevakansies; môre meteens koud en konserwatief, ’n droewige asgrys wolk wat jou polskouend in ’n hoek laat verwelk.
Gelukkig het Johan en Gardiol Bergenthuin nog glad nie hierdie befoeterde, neerdrukkende kant gewaar sedert hulle verlede jaar, kort voor die eerste winterreën, die sentrale deel van hulle vakansiehuis in Gordonsbaai ’n intense blouselblou kleur geverf het nie.
“Baie vroeg in my loopbaan het ’n ouer dame vir my gesê geen binneversiering kan volledig wees sonder blou nie,” lag Johan. “Sy’t gesê dis ’n kleur wat ander kleure laat lewe.”
Die Bergenthuins se “blou periode” het met ’n amusante ompad begin: In 2005 het Des Armstrong ’n bevlieging gekry om haar Mexikaanse dekorwinkel Hadeda in Jan Smuts-rylaan, Johannesburg, met ’n lewenslustige blou waterbasisverf te takel wat sy al ’n hele klompie jaar uit Mexiko invoer. ’n Mens sien dié kleur, bekend as Azul Colonial, oral in Sentraal-Amerika, sê Des, veral in Guatemala en Mexiko (Frida Kahlo se beroemde Casa Azul – “Die Blou Huis” – in die Mexikaanse hoofstad is byvoorbeeld in die identiese kleur geverf).
“Dis die vibrancy wat tot mense spreek,” glo Des, “en die feit dat die kleur saam met die weer verander. Die een dag lyk dit blou-blou-blou, die volgende dag pers, dan weer blouswart… dit verveel jou nooit nie.”
Johan het gereeld verby die winkel gery en hom telkens vergaap aan die blymoedige blou gebou wat elke dag ’n ander skakering in die mou gevoer het en wat, anders as baie van die diep verfkleure wat plaaslik beskikbaar is, nie verbleik het met verloop van tyd nie. “Ek en Gardiol is al jare mal oor ryk, diep kleure en die effek wat dit het,” sê Johan, “maar dis nie juis die gemiddelde smaak nie… die meeste mense is bang vir sulke boldness… eiendomsagente waarsku ons telkens sulke huise verkoop nie.”
Ná ’n jaar of wat van wik en weeg het Johan besluit om Des se Azul Colonial te probeer in die vergaderkamer by die praktyk wat hy met sy vennoot, wyle Louis Louw, gedeel het. “Dit het ongelooflik goeie reaksie ontlok,” onthou hy, en só is die saadjie geplant om ook in die kubistiese Kaapse vakansiehuis wat hulle self ontwerp en in 2002 laat bou het, met die kleur te eksperimenteer.
“Ons het met die deurraam begin,” lag Gardiol, “en toe met kleuraksente voetjie vir voetjie verder gegaan. Ons het besef dis ’n waagstuk – ons dogter het verklaar die huis gaan in ’n neerdrukkende blou grot ontaard – maar ons het deurgedruk en besluit om dit later toe te verf as dit nie werk nie.”
‘Grenslose fasiliteerder’
Volgens Johan wou hulle juis hê die blou dubbelvolume-hart moet soos ’n “uitgeëte grot” lyk om die aandag te vestig op die ontwerpkonsep van die huis as “grenslose fasiliteerder” van ’n gesprek tussen see (die uitsig na die noorde, wat strek van Simonstad, verby Tafelberg, tot by Gordonsbaai se hawetjie), die Hottentots-Hollandberge (aan die suidekant, agter die huis) en die blou lug.
Toe oom Koos Bester, wat na die vakansieplek omsien wanneer die Bergenthuins hulle brood en botter in die noorde verdien, verlede jaar bel om te sê die skilderwerk is klaar, wou hulle dadelik weet hoe dit lyk. “Absoluut verskriklik,” het oom Koos gemor, maar in Johannesburg het Johan en Gardiol saam ’n sug van verligting geslaak: Dankie tog, die blou transformasie is ’n sukses!
Wanneer ’n mens arriveer op die middelste van die huis se drie vlakke – die vlak wat die kombuis-eet-leef-kuier-sitkamer en die binnehof met sy vierkantige verhitte swembad huisves – is dit asof die Mexikaanse blou jou insuig. Aanvanklik voel jy oorweldig deur die intense kleur, maar skaars vyf minute later kan jy nie glo alles wat nou blou is, het eens op ’n tyd dieselfde sober grysbruin skakering (Plascon Plattsville) gehad as die buitekant van die huis en die kombuis- en sitkamergedeelte weerskante van die dubbelvolume-hoofruimte nie.
Die blou hef grense op en verwar jou oor waar binne eindig en buite begin; dit maak die huis nuut en meer dramaties, en demp terselfdertyd die lig wat van buite af instroom. En tog, soos die louwarm winterson oor die huis beweeg, kom jy agter selfs die dele wat in gitdonker skadu gehul is, voel nooit ooit kil of neerdrukkend nie.
Nadat die Bergenthuins jare lank aan die KwaZulu-Natalse Suidkus vakansie gehou het, kan ’n mens verstaan waarom hulle nou minstens ses keer per jaar op Gordonsbaai kom uitspan.
“Vir die kinders was dit destyds lekker om in die Suidkus se warm water te swem, maar as jy klaar geswem het, is daar niks verder om te doen of sien nie,” sê Gardiol diplomaties. En Johan sug: “Soos jy kan sien, is ons nie eintlik die G-string- of gholfbaantipes nie.”
“En die Kaapse omgewing is net so ongeloofl ik ryk… Die berge en die see staan sentraal, ja, maar dit gaan ook oor ’n rykheid op kulturele vlak. As ons in die Kaap is, ry ons gedurig rond en verken die wêreld, en wanneer ons die slag net hier by die huis bly, gaan sit ons elkeen op ons eie stoel en bekyk alles om ons wat gedurig verander,” sê Gardiol. “En as ons genoeg gesien het, ruil ons plekke om en kyk van voor af,” sê Johan, “want uiteindelik is dít die héél lekkerste van ons huis: Jy sien die wêreld déúr die huis, en danksy die nuwe blou lyk hierdie wêreld altyd nuut.”
Hierdie artikel verskyn in VISI 56 – ons “blou”-uitgawe – wat nou te koop is.
• Bergenthuin-argitekte: 011 781 3663, 083 455 2483 (Johan), 082 803 2268 (Gardiol), www.lljb.co.za, www.gardiol.co.za
• Hadeda: 011 788 9859, 021 465 8620, www.hadeda.net

