Vrek die laaste een van jou plante? Gelukkig het ’n mens nie groen vingers nodig om voëls – Moeder Natuur se fraaiste dekorbykomstighede – na jou tuin te lok nie.
Ons lys ’n paar maklike, doeltreffende maniere om gevleueldes na jou buiteleefgedeeltes te lok – of dit nou ’n balkon of welige oase is.
Voer hulle: Die meeste voëls eet neute, sade en vrugte. Maak ’n “vrugteboom” deur ’n stuk dun draad deur pere en appels te steek en dit dan aan ’n bestaande struik of boom vas te maak. Jy kan ook ’n saadbroodrolletjie reg rondom met grondboontjiebotter smeer, dit in ’n wildevoëlsaadmengsel rol en op dieselfde manier in ’n boom vasmaak.
’n Sjieker opsie is ’n kontemporêre kosbak vir voëls (Joe Paine se Fold Feeder is een van ons gunstelinge) – maak seker dis altyd propvol snoepgoed vir jou geveerde vriende. Soggens en laatmiddae is belangrike etenstye – sorg dus dat die kosbak dié tye van die dag lekker vol is.
Vir groter voëls soos hoep-hoepe en hadidas kan jy saad op jou grasperk sprinkel. Hulle sal dan ook verder grawe na wurms onder die grond. Maak net seker daar is nie ’n kat in die omte wat lus is vir voëlvleis nie.
Waar’s die water?: Voëls vlieg heeldag rond en moet gereeld water inneem. Sit ’n handjie by deur ’n watergat in jou tuin te maak: Jy kan ’n voël- of hamsterwaterbottel gebruik, of jou eie maak met ’n ou All Gold-bottel en druksensitiewe waterdrupper. Voeg ’n paar lepels suiker by die water vir ekstra energie.
Voëls word veral deur lopende water gelok, maar ’n voëlbad is ook ’n lekker bederf. Maak jou eie of koop een by jou plaaslike kwekery. Onthou om dit skoon te hou, en as jy in ’n rypgebied woon, moet jy seker maak dis nie geys nie. Voëlbadjies wat naby ’n boom of struik geplaas word, is veral gewild sodat die voëls op ’n tak kan spring om hulle nat vere te poets.
Kies die regte plante: Jou plaaslike kwekery sal ’n afdeling hê met plante wat voëls lok. Party soorte voëls is meer geïnteresseerd in bome waar hulle kan nesmaak, terwyl ander hou van kleiner plante met nektar. As jy net ’n balkon het, kan jy die kwekery uitvra oor rankplante en soorte wat in potte floreer.
Onthou die slaapplek: Party voëlspesies verkies om hul eie neste te bou, terwyl ander maklik hul intrek neem in ’n voël- of nesboks. Deur ’n paar hiervan in jou tuin te plaas moedig jy hulle aan om op jou erf te bly en te paar. Maar onthou om genoeg ruimte tussen die bokse te laat omdat party soorte baie territoriaal kan wees.
Meer inligting: joepaine.withtank.com, www.birdfeeders.co.za

