WOORDE: Michelle Coburn
Is op soek na die heel beste gids oor Johannesburg? Wonder jy hoe ontwerp jou lewe en onderneming kan verander? Lees dan verder…
HANDSPRING PUPPET COMPANY
Redakteur: Jane Taylor (David Krut Publishing, R480 vir sagteband en R650 vir hardeband)
In dié volkleurboek van 280 bladsye word hulde gebring aan hierdie internasionaal bekroonde poppekasgroep en sy prestasies oor die afgelope 29 jaar. Dit sluit in insiggewende essays deur die stigters, Basil Jones en Adrian Kohler, asook William Kentridge, wat al op groot skaal met die geselskap saamgewerk het. Kentridge het ook twee beperkte afdrukke gemaak wat gegrond is op sy werk vir die geselskap – dis beskikbaar by David Krut Projects, tel. 011 334 1209 (Bronwyn Law-Viljoen).
DESIGN IN BLACK AND WHITE
Deur Janelle McCulloch (Images Publishing, R490)
Die prestigeryke Australiese uitgewer Images Publishing het slegs een Suid-Afrikaanse binneontweper genader om in sy glansryke nuwe boek, Design in Black and White, te verskyn. Dis ’n viering van die wêreld se mees onderskatte dinge in argitektuur, interieurs, mode en ontwerp. John Jacob is te sien neffens ikone soos Coco Chanel, Christian Liaigre, Mies van der Rohe, Frederic Mechiche en Giorgio Armani. John is net so nederig oor dié eer as oor die Franse televisieprogram laasjaar met sommige van sy interieurs daarin – blootstelling wat gelei het tot belangstelling uit Europa en Amerika. Sy interieurs word beskryf as moderne weergawes van ’n klassieke styl, met tradisioneel korrekte proporsies en lyne wat sorg vir meer substansie en diepte. Gaan kyk op die webwerf www.johnjacobinteriors. com en bestel ’n eksemplaar by Peter Hyde Associates, tel. 021 447 5300. Michelle Snaddon
CHIC JOZI – THE SAVVY STYLE COMPANION
Deur Nikki Temkin (Penguin, R130)
Vier jaar ná die eerste uitgawe maak Chic Jozi weer sy verskyning – en dié slag kyk die boek op ’n heel nuwe manier na Johannesburg, met ’n ekstra seksie vir byderwetse ma’s. Nikki sê haar obsessie met inkopies “moet in die gene lê”, want haar ma en suster is ewe dol daaroor. Sy is altyd aan die snuffel vir Johannesburg se besbewaarde geheime – of jy dus op soek is na ’n spa waar jy die dag kan ontspan of ’n ongeloofl ike deli-ete, jy sal dit beslis in dié nuttige klein gids kry. – Michelle Snaddon
GLIMMER
Deur Warren Berger (Random House Struik, R235)
Die Toronto-gebaseerde ontwerper Bruce Mau se aanbieding oor sy Massive Change-tentoontstelling en -beweging was een van die VISI-span se hoogtepunte by 2009 se Design Indaba-konferensie in Kaapstad. Die joernalis Warren Berger maak in Glimmer Mau se visionêre benadering tot ontwerp beskikbaar vir professionele mense buite die ontwerpveld, mense wat geleenthede sien in die uitdagings wat hulle in die lewe en in die sakewêreld teëkom. Ontwerp is nie net beperk tot mode en styl nie, maar ’n manier om die regte vrae te vra ten einde ingewikkelde probleme op te los. Met dié boek kan enigiemand leer om soos ’n ontwerper te dink.
• Vir meer oor Bruce Mau, sien www.brucemaudesign.com

