NAIAS 2012 — ’n oorsig

WOORDE en FOTO’S: Dylan Culhane


 

 

Ek vermoed NAIAS was ’n perd van ’n totaal ander kleur toe dit meer as 24 jaar gelede die eerste keer aangebied is. Destyds was spierkrag en woema en brandstofverbruik nie die vloekwoorde wat dit vandag is nie. In 2012 lyk die prentjie anders: Die gonswoorde onder die meerderheid groot motorvervaardigers is veiligheid, besparing en omgewingsvriendelikheid.

Hoewel daar ’n stewige vrag voorbeelde van eg Amerikaanse spierkrag te sien was (die Dodge RAM Power Wagon, byvoorbeeld, is ’n vreesaanjaende kolos van ’n bakkie), was dit interessant om te sien hoe die motorbedryf ’n gedaanteverwisseling ondergaan wat aangevuur word deur die taamlik onlangse besef dat die wêreld se hulpbronne nie vir ewig gaan hou nie, en voertuie verantwoordelik is vir ’n aansienlike duik in die aarde se brose ekostelsel sedert die Model T meer as ’n eeu gelede bekend gestel is. Die doel met ’n paar van die simuleerspeletjies by sommige stalletjies was byvoorbeeld om so energiedoeltreffend as moontlik te bestuur pleks daarvan om die beste baantyd aan te teken.

Hierdie nuwe denkwyse het ook ’n merkbare uitwerking op die gebied van motorontwerp gehad. Hoewel sekere vervaardigers hulle kenmerkende ontwerpe behou en eenvoudig hulle petrolenjins vir óf volledig elektriese óf hibriedstelsels verruil, is daar talle ander wat die nuwe paradigma in die motorwêreld gebruik om hulleself ook op estetiese vlak te herskep. Ford se lieflike 2013 Fusion, wat die tonge behoorlik laat klap het by die ekspo, is ’n betekenisvolle stilistiese afwyking van baie van die Ford-modelle wat aan Suid-Afrikaners bekend is. Dit is in vroeë mediaberigte “Aston Martin Lite” gedoop, terwyl die motor se profiel aan die BMW 3-Reeks herinner.

Bayerische Motoren Werke se BMW i3-konsepmotor was juis iets om te aanskou. Hoewel dit aan die een kant pure konsep was met sy deurskynende sydeur en hiperfuturistiese stroomlyn-ontwerp, loop ’n storie dat hierdie splinternuwe elektriese reeks so vroeg as 2014 in produksie kan gaan. Die piepklein Smart-bakkie (wat waarskynlik agterin die Dodge-bakkie sal pas waarna ek vroeër verwys het) het ook heelwat aftrek gekry, hoewel dit waarskynlik meer oor die nuwigheid as enigiets anders gegaan het.

Baie van die modelle wat by NAIAS bekend gestel is, is uitsluitlik vir die Amerikaanse mark en sal nie gou in Suid-Afrika kop uitsteek nie, hoewel die kans baie goed is dat dieselfde tegnologie hier hulle opwagting sal maak in ’n ander gedaante.

Kortom: Vir my was NAIAS ’n openbaring met ’n magdom interaktiewe en lieflik ontwerpte stalletjies. Die eerste prys vir stalletjie-ontwerp behoort myns insiens aan Lincoln (sien die galery) – iets van dié skaal sal ’n mens nêrens elders as die VSA se Motorstad verwag nie.

Meer inligting: www.naias.com

Blaai deur die volledige album op ons Facebook-blad om die volledige versameling foto’s van die skou te sien.