FOTOS: Lien Botha | WOORDE: Dave Pepler en Laurian Brown
Het jy ’n watertjie in jou tuin? Plant dan waterblomme of maak soos die Oosterlinge en plant ’n lotus, want uit die modder van die bodem sal ’n swellende knop verskyn wat een môre sal oopvou in ’n gloeiende blom met ’n vlam in die hart.
Ek is op die Sao Sebastio-skiereiland suid van Bazaruto. Dit is die sikloonmaand en die atmosfeer is onheilspellend, die lug dig en galsterig. Teen laatmiddag is die son slegs ’n flou newel deur die stapelwolke en ’n rukkerige wind waai van die see.
Ek stap alleen teen die soom van ’n varswatervlei, met rietsangers in die ruigtes en ’n dwerg-eend wat dommel tussen die lelies. In ’n beswyming stap ek die water binne, klere en al, borsdiepte, tot teenaan ’n waterlelie, die blou van ’n gasvlam. Ek voel die glibberige stingels teen my arms, sien die perfekte simmetrie van die lelie teen my gesig, en die geur, melerig en effe suur, soos dié van heliotroop, om my. Ek is één met die water, één met myself.
Die sieraad van waterplante is nie beperk tot hul blomme nie. Pluk ’n blaar van ’n olifantsoor en gaan sit langs die water met die blaar op jou skoot. Skep ’n handjie vol water en los ’n paar druppels oor die blad. By aanraking met die oppervlak vorm die druppeltjies perfekte sfere, so rond soos albasters, en dit lyk byna of die bolletjies water bo die oppervlak sweef. Kantel die blaar en die bolletjies glip oor die blad soos kwiksilwer. Hul glinster soos diamantjies – die lig vasgevang in die perfekte sfere.
Van die vroegste afbeeldings op Egiptiese papirus-kodekse beeld die waterlelie uit, gestileerd, maar onmiskenbaar lelie. Geen wonder nie dat ’n beskawing wat die seisoene gemeet het aan die lewensgewende eb en vloed van die Nyl, juis hierdie watersieraad uitgesonder het as sentraal tot hul aardse kosmologie. Ra, die heilige son bo die aarde, swewend, Horus, oppermeester van lug, en op die bodem, van ál die plante, staan die waterlelie sentraal. Maar in die Ooste, veral in Indië, China en Japan, figureer die lotus as simbool van perfeksie en voorwerp vir kontemplasie en sereniteit. Gaan kyk maar – lotus sutra, lotus mantra, lotusposisie…
Onlangs eers het die wetenskap uitgevind die blaaroppervlakke van die meeste waterplante is oortrek met struktuurtjies wat slegs op nanovlak sigbaar is. So fyn is hierdie riffies en knoppies dat dit druppels water en stof afweer op die atomiese vlak, en só bly die blare droog en skoon. Dit hou ook die blaar in maksimum kontak met die kosbare gasse van die lug. Die blare het ’n raamwerk van verdikkings – soms radiaal, soms vertak soos bloedvate – wat die struktuur behou, amper soos die speke van ’n sambreel.
Het jy ’n watertjie in jou tuin? Plant ’n lotus. Wag vir die somer en gaan kyk elke dag en streel die blare van fluweel. Dan, uit die modder van die bodem, kom die eerste knop. Dit swel en swel tot, een môre, die skutblare begin loskom en die blom ontvou. Jy kan die kleur skaars vaspen, want dis ene oorgang – van steengroen teen die stingel na die pienk van skulpe en korale; die blomkern, wasagtig en vinkgeel, omring met romerige stuifmeeldrade. Net voor donker gloei die blom van binne, asof daar ’n vlam in sy hart brand: mandala van die lig.
Water kan toor
Water sorg vir groot plesier en rustigheid in ’n tuin. Of dit nou ’n formele dammetjie of ’n kom is – jy kry koel dieptes, weerkaatsings, die fassinasie van visse, insekte, voëls en, met ’n bietjie geluk, ’n paddakoor. Jy het ook plek vir ’n nuwe wêreld van plante en, bowenal, blomme wat so te sê legendaries is.
’n Mens kry verskeie waterplante wat op verskillende ma- niere groei en saamwerk om helder water en ’n gesonde eko-stelsel te bewerkstellig. Dit kan geklassifiseer word as grensplante, moerasplante of diepwater-dryfplante (soos waterlelies en waterblommetjies), maar soms ook vrydrywers en onderwaterplante (soos die verskillende soorte fonteinkruid).
• WATERLELIES is drywende diepwaterplante en behoort tot die genus met die heel gepaste naam Nymphaea, waarvan daar 75 spesies is. ’n Mens kry twee kenmerkende soorte: gehard, wat in die winter in ’n rusfase gaan, en tropies, wat temperature bo 10 ºC nodig het en in die regte toestande heeljaar kan blom. Die blomme van die geharde soorte dryf op die oppervlak, terwyl die tropiese blomme ’n paar sentime-ter bo die water uitgestoot word (dit kan ook bedags of snags blom). Al twee soorte het dikwels ’n heerlike geur.
• DIE LOTUS is ’n grensplant uit die genus Nelumbo, waar-van daar net twee spesies is. Dié fassinerende plant hou sy ronde blougroen blare en buitengewone blomme bykans ’n meter bo die water. Juis daarom kry die blare nie net direkte sonlig nie, maar ook weerkaatsings van die water – en dit sorg vir ’n glimmende spel van kleur en lig wat voortdurend verander. Die lotus is bladwisselend, maar verkies ’n warm klimaat en het ’n temperatuur van bo 7 ºC nodig om te floreer.
Kweek waterlelies
• Waterlelies is maklik om te kweek en relatief sonder probleme.
• Hulle het ’n oop, sonnige plek nodig om behoorlik te blom.
• Gebruik, indien moontlik, reënwater. Laat kraanwater eers vir ’n paar dae staan sodat die chloor kan verdamp.
• Plant die risome in mandjies wat met goiing uitgevoer is, met die groeipunte ontbloot. Een of twee is genoeg – dit vermeerder vinnig.
• Hulle is lief vir kos en hou van ’n ryk, kleierige grondmengsel met kompos, ou kraalmis of beenmeel.
• Kunsmistablette wat stadig vrygestel word, is ’n goeie opsie omdat dit die groei van alge vertraag.
• Miniatuurvariëteite kan in water van skaars 15 cm groei; middelslag- plante het 45 cm tot 60 cm nodig; die snelgroeiers ’n diepte van 1 m.
• Probeer om dit al om die ander jaar in nuwe potte te plant sodat die grond vervang kan word en jy oorgroeide plante kan verdeel.
Kweek lotusse
• Kies ’n oop, sonnige plek wat nie in die winter te koud word nie.
• In dammetjies moet dit ongeveer 30 cm onder die wateroppervlak geplant word, maar dit kan ook in groot potte gekweek word wat minstens 70 cm diep en breed is. (Die Chinese soort is ideaal.)
• Maak die pot halfvol met ’n mengsel van kleierige grond, goed verrotte kraalmis en beenmeel.
• Bedek die risome wat jy plant, met ’n laag klein spoelklippies of gruis.
• Die potte moet baie stadig vol water gemaak word sodat jy nie die grond en gruis versteur nie.
• Vul die plante gereeld aan met reënwater.

