FOTOS: Dirk Pieters | PRODUKSIE: Tina-Marie Malherbe | WOORDE: Alma Viviers
Dink aan Mauritius en jy sien dadelik voor jou geestesoog uitgestrekte strande met spierwit sand, turkooisblou water en groen palmbome wat in die wind wieg. Tog sorg die nuwe kleurpalet van swart, wit en rooi by die opgeknapte Le Touessrok-oord vir ’n verfrissende perspektief op dié eilandparadys.
Swart soos die nag
Die silhoeët van ’n massiewe baniaanboom staan afgeëts teen die sterrehemel. Die boom hang vol voëlkoutjies, amper soos in ’n eksotiese dieretuin, maar pleks van gevleuelde gevangenes is daar in elke koutjie ’n lig, wat die boom warm laat gloei daar waar dit by die hotel se ingang wagstaan.
Terwyl deur ons deur die poort van vulkaniese rots stap, slaan die deurwag die ghong om aan te kondig ons het aangekom. Portiere skarrel om die bagasie weg te kry. In die oopplan-ontvangsgedeelte word ons bederf met ’n verfrissende gesigdoekie en ystee terwyl vrolike groepies mense afsit na die oord se vele restaurante. Van die swembad af kom lewendige musiekna ons toe aangesweef.
Die hoofgebou vorm die polsslag van Le Touessrok. Van hier af lê die suites en kamers ingeryg soos ’n string pêrels op die strande van die groepies eilande, wat met paadjies en voetbruggies met mekaar verbind is. Die oord is onlangs, ter viering van sy 30ste verjaardag, opgekikker, maar terwyl ek na my Junior Suite op Frangipani-eiland vergesel word, is dit duidelik dat baie van die oorspronklike Mediterreense styl behou is, met ’n sweem van Mauritiaanse invloed daarby: Donker strooidakke en houtskoolkleurige vulkaniese rots wat met kalk wit gemaak is.
Die tweevlakkige suites is ook heruitgelê om plek te maak vir ’n ruim badkamer met aparte geriewe vir mans en vroue’n reënstort en groot uitgekerfde klipbad op die boonste vlak, en ’n slaapkamer op die onderste vlak. Die koel kontemporêre stilering gee die vertrekke ’n moderne dog sterk tropiese gevoel.
Wit oggendlig
Die lig val in strepies deur die houtluike voor my balkondeur – flertse van die sondeurdrenkte uitsig verderaan. Dit bly maar net ongelooflik om op ’n nuwe plek wakker te word. Nadat ek in die duisternis hier aangekom het, voel dit vanoggend wanneer ek die balkondeure oopgooi, asof ek op Kersoggend ’n spesiale geskenk oopmaak. Daar lê dit voor my uitgestrek: die perfekte poskaartprentjie van ’n tropiese paradys, ’n uitsig waarmee elke suite geseën is.
Ondanks die uitsig verg dit enorme wilskrag om jou van die kraakvars lakens van Egiptiese katoen los te skeur – dis dus ’n goeie plan om die onvermydelike uit te stel en ontbyt in die bed te bestel: Jy kan kies en keur uit die uitgebreide kamerdiens-spyskaart.
Ná ontbyt verruil ek my weelderige bed vir ’n gerieflike lêstoel op die strand. Ver op die horison breek ’n wit streep branders op die koraalrif, wat sorg vir heerlike warm golfies waarin ’n mens hier kan ronddobber. En as jy klaar lyf natgemaak het, wag ’n heerlike verrassing in die heerlik donsige, sonwarm strandhanddoek: Dis gegeur met ’n spesiale linnesproei wat sorg dat jy omgeef word met ’n eksotiese geur.
Vir middagete mik ons oor Trou d’Eau Douce-baai na Îlot Mangénie, een van Le Touessrok se twee eilande (Île beteken “eiland”, terwyl îlot “klein eilandjie” beteken). Dis ’n openbare eiland en tuiste van die Crusoe-restaurant en Robinson-kroeg, waar jy aan rumskemerkelkies kan teug en weglê aan vars vis wat vandag nog gevang is. Die tweede eiland, Île Aux Cerfs, is die tuiste van ’n skouspelagtige kampioenskapsgholfbaan wat deur Bernhard Langer ontwerp is. Maar ek is nie ’n bok vir ’n bal nie en besluit om terug te gaan na die hoofeiland vir ’n post-middagete-vollyfmassering by die Givenchy-spa.
Dié bekroonde spa, wat in 2002 geopen is, is geleë in die hartjie van Frangipani-eiland, langs ’n verhitte lang swembad waarin jy ’n paar lengtes kan swem. Die spa is versier met argiefsketse van klassieke ontwerpe van Givenchy in Parys, wat sorg vir ’n tikkie Franse sofistikasie. Soos met alle Givenchy-spa’s het elke behandelingskamer ook vensters van die vloer tot die plafon sodat soveel as moontlik natuurlike lig kan binnestroom, maar glo my: As hulle jou eers begin pamperlang, vergeet jy van die dekor én uitsig!
Vlamrooi sonsondergang
Terwyl die aand nader kruip, word die fyn glasmosaïek teen die mure van die hotel se ontvangsgedeelte in die laatmiddaglig lewendig met karmosyn, saffraan en silwer kleure wat daarop dans. Dié helder speserykleure, saam met die rooi skakerings van die tropiese blomme soos hibiskus, rooigemmer, hangende heliconias en anthuriums, word regdeur Le Touessrokse dekor geëggo.
Dis geen wonder nie die kleur van die liefde duik hier so dikwels op, want die oord is bekend as ’n wittebroodsbestemming. Wanneer die lug in diep skakerings van inkpers en rooi verander, is dit glad nie ongewoon om te sien hoe romantiese tafeltjies op die strand gedek word vir intieme kersligetes nie.
Maar vanaand word ons bederf met ’n luukse wat net uitgesoekte gaste by Le Touessrok beskore is: ’n private aandete by een van die eksklusiewe villas. Die drie villas deel ’n strand en elkeen het sy eie ingang, tuin en swembad – wat sorg dat gaste hier die grootste privaatheid geniet. Elke villa het ook ’n sjef, toegewyde wagpersoneel en ’n persoonlike bestuurder.
Nadat ons drankies geniet het op die terras, sit ons af na die informele strooidakpaviljoen vir ’n koningsfeesmaal. Gelukkig hoef jy nie in een van die villas te bly om op dié manier bederf te word nie – by Le Touessrok kry ’n mens werklik die gevoel die personeel dra jou die heeltyd op die hande: Jy het nie net ’n persoonlike butler tot jou beskikking nie, maar elkeen van die vriendelike personeel gaan uit hulle pad om jou reis waarlik onvergeetlik te maak.
* Le Touessrok +230 402 7400, info@letouessrok.mu, www.letouessrokresort.com
MAURITIUS 101 SUBHEAD
VLIEG MAKLIK
Air Mauritius bied, in samewerking met South African Airways, direkte vlugte van Johannesburg en Kaapstad af na Mauritius se Sir Seewoosagur Ramgoolam-lughawe. Jy ry ongeveer 1 uur van die lughawe af na Le Touessrok.
SLAAP
Le Touessrok bied vyf verblyfopsies, wat insluit die Deluxe-kamers, Junior en Oseaan-suites, plus nog die Koninklike suite en drie private villas.
EET
• Three-Nine-Eight is die hoof-eetplek en bied kos van nege lande wat reg voor jou in een van die agt skoukombuise gemaak word.
• Barlen’s bied aan gaste ’n proe-spyskaart wat uit kleiner porsies bestaan. Probeer Safran vir Indiese kos met ’n kinkel. Sega Bar is geleë in die middel van die hoofswembad en is net die plek vir ’n skemerkelkie of laataand-whisky.
• Paul et Virginie en die Golf Club-restaurant sit al twee seekos en plaaslike Mauritiaanse geregte soos palmhartslaai voor op Île aux Cerfs.
• Crusoe-restaurant en Robinson-kroeg op Îlot Mangénie.
AKTIWITEITE
• Watersport Le Touessrok se komplimentêre aanbiedinge sluit in seilplankry, kajakroei, seil, ritte op ’n boot met ’n glasbodem, snorkelduik en nog meer.
• Balsport Oefen jou rughand by die tennisklub en jou gholfswaai op die 18-putjie-kampioenskapsgholfbaan wat deur Bernhard Langer ontwerp is. Die baansyfer is 72.
• Gimnasium Buiten ’n goed toegeruste gimnasium bied die Fitness Centre ook persoonlike afrigting en drafmaats op versoek.
BESOEK
• Port Louis Selfs mét alles wat Le Touessrok jou bied sal jou ervaring van Mauritius nie volledig wees sonder ’n besoek aan die hoofstad, Port Louis, nie. Dit is ’n uur se ry van die oord af en pols behoorlik met kosmopolitaanse diversiteit – die mense én argitektuur getuig van die eiland se ryke erfenis.
• Sir Seewoosagur Ramgoolam- botaniese tuin Stop op pad terug na Le Touessrok hier. Dis een van die oudste botaniese tuine in die Suidelike Halfrond en beslis ’n besoek werd.

