FOTOS: Dirk Pieters | PRODUKSIE: Tina-Marie Malherbe
Trousseaukiste het ‘n stil dood gesterf – deesdae sit almal huis op met ‘n klassieke maar ietwat verbeeldinglose 44-stuk- wit breekgoedstel.
Ontbyt
Eiers op roosterbrood: Saggeposjeerde eier met Parmaham, bros roosterbrood en blom-confetti
GENOEG VIR: 4
GAARMAAKTYD: 15 minute
BEREIDINGSTYD: 10 minute
2 e witwynasyn
4 vryloop-eiers
1 korserige suurdeegbrood, in snye gesny
2 e gesmelte botter
1 pakkie (200 g) Parmaham
1/3 koppie gemengde eetbare blomme
Verhit ’n middelslag-kastrol vol water totdat dit liggies prut. Gooi die asyn by en roer dit deur. Breek die eiers in aparte koppies. Gooi die eerste eier met ’n vinnige handbeweging in die kokende water. Herhaal dit met die res van die eiers en posjeer dit vir 5-6 minute of totdat dit so gaar is soos jy dit verkies. Rooster die suurdeegbroodsnye aan al twee kante in ’n warm riffelpan. Verf elke sny met gesmelte botter. Pak dan Parmaham op die brood met ’n geposjeerde eier bo-op. Rond dit af met ’n strooisel eetbare blomme.
KOOKWENK Vir die beste resultate as jy eiers posjeer, gebruik vars eiers teen kamertemperatuur. Sorg ook dat die water nie te vinnig kook nie, anders sal die eiers breek.
Tee
Gemmerkoek met gemengde neute
MAAK: 1 koek
GAARMAAKTYD: 40 minute
BEREIDINGSTYD: 20 minute
100 g bruinsuiker
280 g koekmeel
1 t bakpoeier
140 g gemengde neute, fyngemaak tot ’n fyn poeier
1/3 koppie melk
200 g botter, gesmelt
2 vryloop-eiers
2 e vars gemmer, gerasper
1 vanieljepeul, saadjies uitgeskraap
Verhit die oond tot 180 .C. Meng die bruinsuiker, koekmeel, bakpoeier en neute in ’n middelslagmengbak. Voeg die melk, gesmelte botter en eiers by en meng dit goed met ’n houtlepel. Vou die gerasperde gemmer en vanieljesaadjies in. Gooi die beslag in ’n 30 cm-koekpan wat met bakpapier uitgevoer en deeglik gesmeer is. Bak die koek vir 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek heeltemal afkoel voordat jy die pan uitkeer.
KOOKWENK DieÅL digte koek het ’n growwe tekstuur. Sit dit voor met cre`me frai^che en groentee.
WYNWENK VIR ONTBYT EN TEE
VONKELWYN: L’Avenir Brut Rosé 2007
Hierdie ultra brut-styl salmpienk roseÅL met aardse geure van fyn aarbeie en somer is ’n heerlike manier om jou sinne in die oggend wakker te maak, en dit smaak veral goed met sowel die koek as die eiers op roosterbrood.
Middagete
Lavash met ’n seleksie bakkieskos
LAVASH
MAAK: 4 platbrode (genoeg vir 8)
GAARMAAKTYD: 20 minute
BEREIDINGSTYD: 10 minute
280 g broodmeel
2 e olyfolie
3/4 koppie water
2 e seesout
Verhit die oond tot 200 .C. Meng al die bestanddele in ’n groot mengbak en knie dit tot ’n gladde, elastiese deeg – gooi nog water by, indien nodig. Laat die deeg vir 5 minute rus. Verdeel die deeg in 4 en rol elke stuk papierdun uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en bak die brode vir 8-10 minute of tot goudbruin en bros. Laat dit afkoel en geniet dit met patees en doopsouse soos dieÅL hiernaas.
ROOS-EN-PISTASIENEUT-DUKKAH
GENOEG VIR: 4
BEREIDINGSTYD: 10 minute
2 pakkies (100 g) afgedopte pistasieneute
1/3 koppie geroosterde sesamsaad
2 t gemengde speserye
1 t fyn koljander
2 e rooswater
olyfolie
varsgemaalde swartpeper
seesoutkristalle
Druk al die bestanddele in ’n vysel met ’n stamper fyn tot ’n growwe mengsel. Gooi net genoeg olyfolie by om die mengsel klam te maak en te bind. Geur dit met varsgemaalde swartpeper en seesout.
LEMOENSKIL-CONFIT
GENOEG VIR: 4
GAARMAAKTYD: 20 minute
BEREIDINGSTYD: 10 minute
1 groot lemoen
200 g suiker
1 koppie water
Skil die lemoen en probeer die skil in een stuk > hou. Gebruik ’n teelepel om die witskil uit te krap. Verhit die suiker en water saam totdat dit stadig prut. Voeg die lemoenskil by en kook dit vir 15-20 minute of totdat dit deurskynend en klewerig is. Skep die skil uit die stroop en laat dit afkoel.
INGEMAAKTE APPEL MET SITROENGRAS
GENOEG VIR: 4
GAARMAAKTYD: 15 minute
BEREIDINGSTYD: 10 minute
2 groot groenappels
100 g suiker
1 koppie water
1 sitroengrasstingel, gekneus
Sny die appels in 8 segmente elk en verwyder die pitte. Verhit die suiker, water en sitroengras saam totdat dit stadig prut. Voeg die appel by en verlaag die hitte. Kook dit vir 10-15 minute of tot die appel sag en deurskynend is. Haal van die plaat af en laat dit in die stroop afkoel sodat die geur kan deurtrek.
LEMMETJIEGEGEURDE HUMMUS
GENOEG VIR: 4
BEREIDINGSTYD: 10 minute
1 blik (400 g) keker-ertjies, gedreineer
2 knoffelhuisies
sap en skil van 2 lemmetjies
1/3 koppie olyfolie
varsgemaalde swartpeper
seesoutkristalle
Pols die keker-ertjies, knoffel en lemmetjiesap en -skil in ’n voedselverwerker saam tot ’n growwe pulp vorm. Gooi die olyfolie by en pols dit tot ’n growwe smeer. Geur met swartpeper en seesout.
EENDTERRIEN MET LEMOENBLOEISELWATER
GENOEG VIR: 4
GAARMAAKTYD: 35 minute
BEREIDINGSTYD: 10 minute
2 eendborsies
2 e botter
1 ui, in blokkies gesny
2 e perskebrandewyn
2 e lemoenbloeiselwater
1/3 koppie room
varsgemaalde swartpeper
seesoutkristalle
1 e brandewyn
Verhit ’n groot braaipan tot baie warm. Braai die eendborsies met die velkant na onder daarin vir 10-15 minute – draai dit halfpad om. Skep die borsies uit en hou die vet in die pan. Sny die vel van die borsies af. Vlok die eendvleis tot fyn stukkies met ’n skerp mes. Verhit die botter in ’n pan en gooi die ui by. Braai dit vir 5 minute tot geurig. Voeg die eendvleis by en braai dit vir nog 5 minute. Gooi die brandewyn, lemoenbloeiselwater en room by. Laat die vloeistof effens afkook en haal dit dan van die plaat af. Geur met swartpeper en seesout. Skep die eendvleis in ’n bak en gooi die eendvet bo-oor. Sit die terrien in die yskas totdat die vet gestol het.
WYNWENKE VIR MIDDAGETE
WIT WYN: 2008 Buitenverwachting Riesling
Dit is die ideale lusmakertjie om enige middagete mee te begin – kurkdroog en lig (11% alkohol) met delikate geure van lemmetjie en lemoenbloeisel. Vir ’n tikkie vonkel, gooi ’n bietjie sodawater en ’n ysblokkie by en siedaar, ’n fantastiese kir-aptytwekker.
ROSÉ: La Vierge Rosé 2008
Dié wyn uit die Walkerbaai-streek is ’n versnit van cabernet en merlot met ’n spatsel shiraz. Dit is lekker droog, maar vrugtig en geurig met ’n verfrissende suurgehalte en matige alkohol – die perfekte kelkie wyn vir ’n middagete.
ROOI WYN: 2009 Kleine Zalze Gamay Noir
Dié ligte rooi wyn met sy beaujolais-karakter sal nie die delikate disse hierbo oorskadu nie en sal veral die eendterrien komplementeer.
Aandete
Swart tagliatelle met geskroeide inkvis en klapperskaafsels
GENOEG VIR: 4
GAARMAAKTYD: 15 minute
BEREIDINGSTYD: 25 minute
280 g koekmeel
2 vryloop-eiers
3 e olyfolie
1 sakkie (5 ml) inkvis-ink
2 e botter
2 knoffelhuisies, in blokkies gesny
1 klein rissie, ontpit en in blokkies gesny
1 pakkie (200 g) baba-inkvisbuisies
varsgemaalde swartpeper
seesoutkristalle
klapperskaafsels, in ’n pan gerooster
Meng die meel, eiers, olyfolie en ink in ’n middelslag- mengbak totdat dit ’n ferm deeg vorm. Knie die mengsel vir 8-10 minute deeglik. Laat die deeg vir 5 minute rus voordat jy dit met ’n pastamasjien of koekroller op ’n meelbestrooide oppervlak uitrol. Sny die pastavelle in tagliatelle-repies van ongeveer 5 mm breed. Verhit ’n groot pot vol water tot kookpunt en gooi die tagliatelle daarin. Kook dit vir 5-8 minute en dreineer dit. Drup olyfolie oor die pasta om te keer dat dit aan mekaar vassit. Verhit die botter in ’n groot braaipan en laat die knoffel en rissie liggies smoor. Voeg die inkvisbuisies by en braai dit vir 5 minute of tot goudbruin. Meng die gaar inkvis met die tagliatelle en geur dit met varsgemaalde swartpeper en seesout. Sit dit voor met klapperskaafsels bo-oor.
KOOKWENK Maak die klapperskaafsels só: Sny ’n vars kokosneut in groot stukke en skep die vleis met ’n mes uit. Gebruik ’n groenteskiller om die skaafsels te maak en rooster dit vinnig in ’n warm pan.
WYNWENK VIR AANDETE
WIT WYN: 2008 Elgin Vintners Viognier
’n Eksotiese gereg verdien ’n eksotiese wyn. Met sy perske-, appelkoos- en kanferfoeliegeure en ’n titsel vanilla, is dié viognier die volmaakte pasmaat.

